Soorte resepte:

Annelien se kombuis: Aartappelkoekies

Aartappelkoekies (Foto: Annelien Pienaar)

Wanneer ek aartappels kies vir die maak van aartappelkoekies verkies ek ʼn kombinasie-kultivar aartappel. Hierdie aartappel se eienskappe verleen ʼn effense klewerigheid, maar ook fermheid sodat die aartappel nie sy vorm verloor wanneer dit gerasper word nie.

Ek het altyd gekookte aartappels in die yskas, of dit nou vir aartappelkoekies of skyfies gebruik word, die GI-waarde van hierdie aartappel is aansienlik laer en sal jou dus langer versadig hou. Aartappel is ’n voedsame soort stysel in die reeks van styselagtige groentes.

Annelien Pienaar is ‘n voedselwetenskaplike en skrywer van die bekende resepteboek en blog Boerekos met ʼn twist.

Bestanddele

  • 6 middelslag aartappels, wasagtig/melerig
  • 50 g koekmeel
  • 1 eier
  • sout en peper na smaak

Metode

  1. Kook die aartappels vir 10 minute in gesoute water. Die water moet vooraf kook as jy die tyd stel. Laat die aartappels verkieslik oornag in die yskas rus.
  2. Trek die volgende dag die skille af en rasper die aartappels met die growwe kant van die rasper. Rasper in ’n oondpan sodat die oppervlakte groot is vir die strooi en meng van die bestanddele wat bygevoeg word.
  3. Sprinkel die koekmeel, sout en peper oor die aartappels en roer die eier by. Meng alles deur en vorm. Jy kan nou besluit of die koekies wat jy vorm vierkantig of rond moet wees. (Wenk: Ek het gevind dat 100 g-porsies goed vries en gaarmaak. Vir hierdie foto het ek ʼn pattiepers gebruik.)
  4. Indien jy verkies om die koekies te vries kan jy die vormpies sommer direk op waspapier maak en op ’n bakplaat vries en dan later in bakke verpak. Die aartappelkoekies kan ook in die oond gebak word en dan gevries word en later in die mikrogolf verhit word.
  5. Hierdie koekies kan van die bevrore toestand in vlakvet gebraai word of in die oond gebak word.
  6. Vir ʼn variasie kan jy die koekies soos dit bevries is in eier doop en dan in meel of broodkrummels rol vir ʼn ekstra krakerigheid voordat dit gaargemaak word.
  7. Nog ’n variasie is om 1 k gerasperde kaas en ook ʼn bietjie sprietuie in die mengsel in te meng en dan te voltooi soos verkies.
  8. Baktyd van die koekies in die oond vanaf bevrore toestand is 30 minute by 180 °C.
  9. Baktyd vir koekies in vlakvet is 3-5 minute per kant oor mediumhitte.

Besoek Annelien Pienaar se webtuiste en Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.