Soorte resepte:

Annelien se kombuis: Tuisgemaakte roti

Tuisgemaakte roti (Foto: Skermgreep uit video)

“ʼn Vraag wat dikwels op die Boerekos met ’n twist-kookgroep op Facebook gevra word is: Hoe maak ek wraps, roti’s, paratha en selfs tortillas. Met hierdie resep en meegaande video glo ek sal die vrae rondom die maak van die immergewilde roti opgelos wees,” sê Annelien Pienaar, voedselwetenskaplike en skrywer van die bekende resepteboek en blog Boerekos met ʼn twist.

Wat is die verskil tussen roti en paratha?

Roti en paratha word met dieselfde resep gemaak, maar die verskil kom in by die lagies wat ingerol word met die hulp van gesmelte botter of ghee (verhelderde botter).

In die video sal jy sien daar word verskeie opsies gegee hoe die deeg gevorm word met ʼn verskeidenheid toestelle.

Vir roti word die deeg net een maal uitgerol en dadelik in ʼn pan tot gaar gebraai. Vir paratha word die deeg gerol, met botter bestryk en dan in ’n keël opgerol en weer plat gedruk. Hierdie deeg rus vir tien minute en word dan finaal in ’n sirkel gerol en dan in ʼn pan gebraai.

Hoeveelheid: 8 roti’s = 4 porsies

Bestanddele

  • 280 g koekmeel (vir variasie kan 140 g koekmeel en 140 g bruinbrood- of volkoringmeel gebruik word)
  • 200 g kookwater
  • 2 e botter / ghee
  • ½ t sout
  • 100 g ekstra botter wat vir die smeer van die lae gebruik word en ook die braai van die deeg

Metode

  1. Meng die koekmeel en sout saam en maak ’n holte in die deeg.
  2. Smelt die botter in die kookwater en voeg by die meel en druk met ’n spaan aan mekaar.
  3. Knie die deeg dan per hand tot glad en bedek met ’n vadoek en laat goed afkoel tot kamertemperatuur.
  4. Verdeel die deeg in agt ewe groot bolletjies en rol of druk in sirkels. Gaan soos volg te werk vir:

Roti: Vorm deeg in ’n sirkel van 3 mm dik, soos gesien in die video en rol net een maal uit. Hou eenkant.

(Foto: Pixabay)

Paratha: Vorm deeg in ’n sirkel van 3 mm dik soos gesien in die video. Sny die deeg op een sy tot in die middel van die sirkel. Smeer met gesmelte botter en rol dan op soos ’n keël. Druk die keël se onderkant toe en laat regop staan. Druk die punt van die keël met die palm van jou hand plat. Voltooi al agt keëls en begin dan weer om die eerste een uit te rol en braai soos jy rol.

  1. Braai elke stukkie deeg vir twee minute per kant en smeer elke kant nadat gedraai is met gesmelte botter en braai dan liggies vir een minuut per kant.
  2. Hou die deeg in ’n vadoek toe sodat dit sag en klam kan bly.

Wenk: Hierdie gaar deeg vries baie goed.

Besoek Annelien Pienaar se webtuiste en Facebook-blad. Vul jou besonderhede hier in om die resep in PDF-formaat te ontvang.

  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eend Bessinger ·

Yum! Ek eet eerder ‘n roti of paratha voor ek brood eet. Baie gesonder!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.