Soorte resepte:

Pampoenpastei

Susan Lombaard

Ons was skaars ʼn week terug van wittebrood af toe my skoonma vir Sondagmiddagete kom kuier. Ek wou haar beïndruk en het hierdie pampoenpastei probeer maak. Ongelukkig het ek vergeet om die mielieblom by die sous te gooi. Die gevolg was pampoenblokkies wat vrolik op die sous rondgedryf het. Intussen het ek dit darem al baie gemaak, en elke keer met groot sukses en baie komplimente!

Bestanddele:

125 g margarien
200 ml suiker
3 eiers
250 ml koekmeel
15 ml bakpoeier
2 ml sout
750 ml gaar, fyn pampoen
5 ml vanieljegeursel

Bestanddele – sous:

500 ml suiker
250 ml water
125 ml melk
30 ml margarien
10 ml mielieblom

Metode:

  1. Verhit die oond tot 180 grade Celcius.
  2. Spuit ʼn oondbak.
  3. Room die margarien en suiker. Voeg die eiers by.
  4. Sif die bakpoeier, meel en sout saam.
  5. Voeg dit by die eiermengsel; voeg dan die vanielje en pampoen by.
  6. Bak in die middel van die oond vir 40 tot 45 minute.
  7. Sny dit in blokkies sodra dit uit die oond kom.

Metode – sous:

  1. Kook die suiker, water, melk, margarien en sout net tot dit opkook en die suiker gesmelt is. Doen dit net voor die pastei uit die oond kom.
  2. Meng die mielieblom met ʼn bietjie water tot ʼn pasta. Roer dit by die sous en klits sodat dit nie klonte maak nie.
  3. Gooi dit oor die pampoenpastei direk nadat dit uit die oond kom (die pastei en sous moet vuurwarm wees). Laat dit ʼn paar minute staan sodat die sous kan intrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hestelene kotze ·

Maak dit gerus! Dit is ongelooflik lekker. Gaste wat nie van pampoentert “hou” nie, het dit probeer en die rsep gevra.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.