Soorte resepte:

Resep: Amanda se Mexikaanse pastaslaai

Foto net ter illustrasie. (Foto: Ayesha Firdaus/Unsplash)

Maroela Media-leser Hermien Beukes vertel oorle’ tannie Amanda, saam met wie sy jare gelede gewerk het, het elke jaar hierdie pastaslaai vir hulle jaareindfunksie gemaak.

Die slaai was altyd ʼn treffer, sê Beukes, en hulle het dikwels na geleenthede gesoek waar dié alombekende pastaslaai voorgesit kon word.

“Tannie Amanda was ʼn formidabele vrou,” sê Beukes. “Toe sy op 69 afgetree het, het ek haar omtrent gesmeek om die resep met my te deel. Na ʼn lang gesoebat het sy dit uiteindelik vir my gegee.”

Dit word steeds jaarliks by gesellighede voorgesit en sal altyd ʼn spesiale plek in Beukes se hart hê. Sy vertel: “Tannie Amanda is die jaar ná haar aftrede dood. Hoewel sy nie meer met ons is nie, sal dié slaai ons altyd aan haar laat dink.”

Bestanddele

  • 1 pak gekleurde skroefnoedels
  • 750 ml Wellington-soetrissiesous (“sweet chilli”-sous)
  • 750 ml Wellington-tamatiesous
  • 250 ml Maggi-Worcestersous
  • 1 groen, rooi en geel soetrissie, fyngekap
  • 1 blik (410 g) matige Koo-chakalaka

Metode

  1. Kook die skroefnoedels in soutwater tot dit al dente is. Die pasta moenie heeltemal sag wees nie. Dreineer dan die pasta.
  2. Meng al die sous, gekapte soetrissie en chakalaka goed saam. Die sous gaan baie wees, maar moet die nie minder maak nie. Gooi die gedreineerde noedels by die sousmengsel en meng goed deur. Bedek dit met kleefplastiek en plaas oornag in die yskas.
  3. Die sous sal teen die volgende oggend alles ingetrek het. Meng weer goed deur en geniet.

Wenk: Hoe langer die slaai staan, hoe lekkerder trek die geure in. Beukes maak gewoonlik die slaai drie dae voor die tyd en meng dit elke dag net ordentlik deur voordat sy dit weer toemaak en bêre.

Het jy ʼn resep wat jy met ons kan deel? Stuur dit hier aan Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marius ·

Dankie vir die heerlike resep. Dit is ‘n goeie manier om iemand in jou gedagtes te laat voortleef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.