Soorte resepte:

[Resep] Bone-falafels met appel

Bone-falafels met appel (Foto: Verskaf)

Die kombinasie van koljander, komyn, suurlemoen en vars kruie is smullekker en kan op vele bestanddele gebruik word, van lamsvleis, hoender en groente tot in hierdie falafels. Hierdie bekende happies uit die Mediterreense streke word eintlik met kekerertjies gemaak, maar dié weergawe met witbone is heerlik. Die jogurt-doopsous wat daarmee saam voorgesit word, is net so lekker en die falafels is perfek vir ’n kosblik, as ligte vegetariese maaltyd of selfs skemerkelkhappies.

Falafels word dikwels in diepvet gebraai, maar ek verkies om dit net in ’n dun lagie olie te braai tot dit goudbruin en gaar is, soos ’n plaatkoekie. Dis nie net ’n gesonder opsie nie, maar verhoed ook beslis dat die falafels droog word in die baie warm diepvet-olie. Die appel in die mengsel gee dit ’n natuurlike soet smaak en baie lekker tekstuur. Dit is dus ’n maklike manier om bone so ’n bietjie te verbloem as jou kinders nie andersins bone wil eet nie. Probeer dié resep gerus, want bone is ’n lekker gesonde bestanddeel wat gereeld deel kan wees van ons etes.

Resep aangepas uit Cooking from the heart 2

Lewer 30 klein falafels

Falafels

Bestanddele

  • 1 x 410 g-blik witbone, gedreineer
  • 1 JOYA®-appel, grofgerasper
  • 10 ml (2 t) gerasperde suurlemoenskil
  • 15 ml (1 e) suurlemoensap
  • 10 ml (2 t) gemaalde komyn
  • 10 ml (2 t) gemaalde koljander
  • 15 ml (1 e) elk gekapte vars koljanderblare, kruisement en Italiaanse pietersielie
  • 75 ml (5 e) volkoringmeel
  • 2 Nulaid- groot eiers, geklits
  • 1,2 ml (¼ t) sout
  • swartpeper na smaak
  • 30 ml (2 e) avokado- of olyfolie

Jogurt-doopsous

  • 150 g (1 klein houertjie) ongegeurde jogurt
  • 2,5-5 ml (½-1 t) gerasperde suurlemoenskil
  • 5 ml (1 t) elk gekapte vars koljanderblare, kruisement en Italiaanse pietersielie

Metode

  1. Falafels: Plaas die bone in ’n mengbak en druk met ’n aartappeldrukker of vurk fyner. Voeg die res van die bestanddele, behalwe die olie, by en meng goed deur. Geur met peper en nog suurlemoensap, indien verkies.
  2. Verhit die helfte van die olie oor matige hitte in ’n groot braaipan (probeer ’n AMC 28 cm Chef’s Pan). Skep lepelsvol van die beslag in die pan en braai aan weerskante tot goudbruin en gaar. Herhaal met die orige olie en beslag.
  3. Jogurt-doopsous: Meng al die bestanddele saam en geur met swartpeper.
  4. Sit falafels voor met die jogurt-doopsous as deel van ’n ligte ete of laat afkoel en pak in kosblikke met die sous.

Wenk

  1. Die falafels is lekker in volkoringpitas of wraps met vars slaaibestanddele en die sous.

Kom kuier elke Maandagoggend saam in my kombuis as ek nog ’n gebalanseerde #Kosblik, op #GrootOntbyt, op kykNET pak en nog wenke en maklike resepte deel. Volg my op Facebook www.facebook.com/HeleenMeyerFood of besoek my webwerf www.heleenmeyer.co.za as jy dalk ’n vorige insetsel gemis het of na nog resepte op soek is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.