Soorte resepte:

[Resep] Bone in tamatiesous met gebakte eiers

Foto: Verskaf

Hierdie laatontbyt kan met min moeite voorberei word. Selfs al kamp julle of het net ʼn vuur of gasbraaier om mee kos te maak, is hierdie idee maklik, vinnig en lekker. ʼn Geurige tamatie-bonemengsel, wat jy kan geur soos julle daarvan hou, met ʼn gebakte eier of twee vir elkeen. Geniet dit met ʼn kleurvolle vrugteslaai. Die vrugte kan voor die warm gereg geëet word en jy kan besluit of dit met muesli en/of jogurt geniet gaan word en of julle dit ná die eiergereg as “nagereg” wil eet.

Gebruik verkieslik ongegeurde jogurt want die jogurt wat reeds gegeur is, is dikwels onnodig soet en bevat heelwat suiker. Die soet smaak van seisoenale vrugte sorg vir ʼn lekker balans met die jogurt en as jy dan neute of selfs ʼn bietjie kaneel daarmee saam eet, is dit ʼn vars en natuurlike manier om te eet. Enige kombinasie van vrugte kan goed werk en dit wat in seisoen is, komplementeer mekaar dikwels ook uitstekend. Ek het pynappel, peer, mango en druiwe gebruik en ʼn paar granaatpitte maak dit sommer feestelik.

Bone in tamatiesous met gebakte eiers

  • Resep aangepas uit Cooking from the Heart 2
  • Lewer 4-6 porsies

Bestanddele:

  • 1 blik (410 g) gekapte tamaties
  • 1 blik (410 g) cannellini -bone, gedreineer
  • 1 blik (410 g) gebakte boontjies in tamatiesous
  • 2 e (30 ml) basiliekruidpesto
  • suurlemoensap en swartpeper na smaak
  • ’n handvol vars origanum-blare
  • 4-6 gebakte eiers

Metode:

  1. Plaas tamaties in ’n braaipan (ʼn AMC 24 cm Chef’s Pan werk uitstekend) en bring oor ʼn matige hitte tot kookpunt. Roer die twee soorte bone by en laat prut tot die vloeistof effens ingedamp het.
  2. Roer pesto by en geur na smaak met suurlemoensap en peper. Verlaag die hitte en laat prut ʼn paar minute tot die vloeistof effens ingedamp en die mengsel aromaties is.
  3. Skep van die tamatie-bonemengsel op ʼn bord, plaas een of twee gebakte eiers bo-op en sprinkel met vars kruie. Vars avokado kan ook bo-op gesit word om dit selfs nog meer vullend te maak.

Wenk:

  1. Die tamatiemengsel kan met ander speserye en bestanddele gegeur word. Probeer gerus ʼn bietjie kerriepoeier, vars gerasperde gemmer, rooipeper, brandrissies of jalapeños, paprika of selfs net ander vars kruie soos tiemie of koljanderblare.

Kyk elke Maandagoggend na #Kosblik op Die Groot Ontbyt of besoek Heleen Meyer se webwerf of Facebook-blad vir nog maklike en gesonde kosblik-idees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.