Soorte resepte:

Resep: Botterskorsie-poffertjies met kaneelglaseersel

Botterskorsie-poffertjies met kaneelglaseersel (Foto: Suidooster-kombuis)

Die gewilde kykNET-sepie Suidooster is nou nie slegs meer op jou televisiestel beskikbaar nie, maar ook op jou kombuistafel! Hier is ʼn lekker resep deur Tim du Plooy, die karakter wat deur Marco Spaumer vertolk word, uit die resepteboek Suidooster-kombuis.

“Tim het gou die titel as Ruiterbosch se doughnut-dief verwerf, want niemand se doughnuts is veilig met hom in die omgewing nie. Hierdie gourmet doughnut-balletjies kan hy sommer in sy kies steek sonder dat iemand hom sien. As die geure van kaneel en roosmaryn hom net nie verklap nie,” aldus Suidooster-kombuis.

“As jy die doughnut-balletjies warm wil eet, sprinkel net strooisuiker en kaneel oor in plaas van die glaseersel.”

 

Maak ±50 poffertjies

Bestanddele

  • 500 g geskilde botterskorsie, in blokkies gesny
  • 150 ml louwarm water
  • 1 x 7 g sakkie droë kitsgis
  • 5 ml strooisuiker
  • 30 ml sultanas
  • 530 ml (300 g) koekmeel
  • 15 ml gekapte roosmaryn
  • olie vir diepbraai

KANEELGLASEERSEL

  • 375 ml versiersuiker
  • 90 ml melk
  • 4 ml fyn kaneel

Metode

  1. Plaas die botterskorsie in ’n mikrogolfbak en bedek met kleefplastiek. Mikrogolf 14 minute op hoog of tot die botterskorsie baie sag is.
  2. Dreineer enige oortollige vloeistof. Laat heeltemal afkoel en maak baie fyn met ’n aartappeldrukker.
  3. Roer die louwarm melk, gis en suiker saam in ’n mengbak. Laat 10 minute staan of tot skuimerig.
  4. Voeg die fyn botterskorsie, sultanas, meel en roosmaryn by. Meng goed.
  5. Bedek die bak met kleefplastiek en laat 2 uur lank op ’n warm plek staan tot die deeg verdubbel het in volume.
  6. Verhit olie vir diepbraai tot 170 °C in ’n kastrol of diepbraaier (’n blokkie brood sal binne 2 minute goudbruin braai).
  7. Skep lepels vol van die deeg in die warm olie en braai 5 tot 6 minute of tot goudbruin en gaar. Draai elkeen een keer om.
  8. Skep uit met ’n gaatjieslepel en dreineer op kombuispapier. Laat afkoel

KANEELGLASEERSEL

  1. Klits die bestanddele vir die glaseersel tot glad. Doop die afgekoelde poffertjies in die glaseersel en pak dit op ’n draadrak sodat die ekstra glaseersel kan afdrup.

Suidooster word Maandae tot Vrydae om 18:30 op kykNET en kykNET & Kie uitgesaai. Suidooster-kombuis is aanlyn en by die meeste groot boekwinkels beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Louise ·

Dit klink en lyk heerlik gaan dit beslis prober al hou ek nie van Tim nie

Sandra ·

Is dit 150ml louwarm water of louwarm melk? In die metode staan meng die gis met die louwarm melk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.