Soorte resepte:

Resep: Braaisous vir wors en pap

Foto: Lekker en Vinnig - Souse

Braaisous vir wors en pap. Foto: Lekker en Vinnig – Souse

Wat is braai nou sonder pap en sous? Hierdie sous is ʼn moet vir Saterdag se braai.

Lewer ± 1,5 liter

Bestanddele:

  • 30 ml olie
  • 2 groot uie, gekap
  • 2 knoffelhuisies, gekneus
  • 30 ml droë gemengde kruie
  • 410 g (1 blik) tamatiepuree
  • 60 g (1 pakkie) beesstert- of bruinuiesoppoeier
  • 500 ml kookwater
  • 470 g (1 bottel) vrugteblatjang
  • 30 ml suiker
  • paar druppels Tabascosous
  • varsgemaalde swartpeper na smaak

Metode:

  1. Verhit die olie en soteer die uie, knoffel en kruie tot die uie sag is.
  2. Meng die puree en soppoeier en roer dit by die uiemengsel sodat daar geen klonte is nie. Roer die kookwater by en verhit dit tot kookpunt.
  3. Voeg die blatjang, suiker en Tabascosous by en geur met peper. Laat prut die sous ʼn paar minute en voeg nog water by indien die sous te dik is na jou smaak.

Variasies

  1. Soteer sampioene of ʼn soetrissie saam met die uie.
  2. Vervang die water met suikervrye kola (Tab) vir ʼn interessante alternatief.
  3. Voeg 5-10 ml kerriepoeier of 15 ml aangemaakte korrelmosterd by die sous.
  4. Laat die sous nog langer prut tot dit verder ingedamp het en sit dit op hamburgers voor.

Wenk

Enige orige sous kan bevries word.

Bron: Lekker en Vinnig: Souse
Uitgewer: Lapa
Resep oorspronlik gepubliseer in Spogresepte, Suid-Afrikaanse Vrouelandbou-unie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Maria van Dieweeck ·

Mmm klink lekker, ek maak gewoonlik maalvleis bolognese as daar so n sous oorbly.

Eend Bessinger ·

Hou nie van Tabasco-sous nie? Probeer Worcester-sous of laat dit weg. Minder skop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.