Lewer 20 rolletjies
Bestanddele:
Vir die soetsuur pruimsous
- 20 klein pruime
- 6 knoffelhuisies, geskil en fyngekap
- 1 rooi-ui, geskil en fyngekap
- 12 cm vars gemmer, geskil en fyngekap
- 50 ml sojasous
- 1 klein rooi brandrissie, ontpit (opsioneel), fyngekap
Vir die vulsel
- 200 g varkmaalvleis
- 1 mediumgroot wortel, geskil en gerasper
- 2 sprietuie, fyngekap
- 1 knoffelhuisie, geskil en fyngekap
- 10 cm stuk vars gemmer, geskil en fyngekap
- 30 ml dik sojasous
- 10 ml koekmeel
- 5- 10 ml sesamolie
- ‘n knippie sout
Vir die rolletjies
- 20 Chinese ‘spring roll’-velle, beskikbaar by Chinese supermarkte
- 40 ml koekmeel
- 40 ml water
- olie vir diepbraai
Metode:
- Sny die pruime in die helfte en verwyder die pitte. Sny die helftes in klein stukkies.
- Meng met al die ander bestanddele in ʼn pot en laat prut vir sowat 20 minute oor lae hitte.
- Laat effens afkoel, giet die mengsel in die voedselverwerker en verwerk tot glad.
- Laat afkoel tot kamertemperatuur, skep in glasbakkies en sit voor met die Sjinese rolletjies.
Vir die vulsel
- Meng al die bestanddele vir die vulsel en hou eenkant in ʼn bak.
Vir die rolletjies
- Plaas een van die velle diagonaal op jou werkoppervlak. Meng die meel en water in ʼn aparte bakkie – dit sal jou ‘gom’ wees.
- Skep van die vulsel net onder die middel van die deegvel. Smeer die kante van die deegvel met die meelmengsel.
- Vou nou die onderste punt oor die vulsel en vou dan die twee hoeke middel toe om ʼn koevertjie te vorm. Rol nou die rolletjie verder op. Herhaal met al die ander velle.
- Verhit die olie tot omtrent 190°C en braai die rolletjies, ʼn paar op ʼn slag, tot die vulsel gaar en die buitekant bros en goudbruin is.
- Sit voor met die soetsuur pruimsous.
Bron: Maklike Maaltye uit Nina se kombuis
Uitgewer: Random House Struik
Verskoning as ek nou ‘n dom vraag vra….wat maak hierdie sous soet? Ek sien geen suiker en pruime kan maar lekker suur wees! Ek is tans besig om pruimblatjang te kook en wonder maar net!