Resep: Groente-sosaties

Groente-sosaties (Foto: Verskaf/Pharma Dynamics)

Hierdie sosaties word heerlik oor die kole gebraai.

Bestanddele

  • 125 g knopiesampioene, gehalveer
  • 3 murgpampoentjies, in dik snye
  • 1 groen, geel of rooi soetrissie, saadjies verwyder en in groot blokke gesny
  • 15-20 vars lourier- of lemoenblare (opsioneel)
  • 8-10 metaal- of-houtsosatiestokkies, in water geweek vir 30 minute
  • ¼ k (60 ml) olyfolie
  • 3 e (45 ml) suurlemoensap
  • 1 e (15 ml) fyngerasperde suurlemoenskil
  • 2 t (10 ml) vars tiemie, gekap
  • 2 t (10 ml) vars oreganum, gekap
  • 2 t (10 ml) vars pietersielie, gekap
  • 1 knoffelhuisie, gekneus
  • swartpeper en sout na smaak

Metode

  1. Bedek sampioene met kookwater in ʼn vlak bak. Laat week vir 8-10 minute om te voorkom dat die sampioene nie breek wanneer jy dit op die stokkie gaan ryg nie. Dreineer en druk droog.
  2. Ryg die sampioene en ander groente op die sosatiestokkies in ʼn volgorde van jou keuse. Voeg 1-2 lourier- of suurlemoenblare in tussen elke groentesoort.
  3. Meng olie, suurlemoensap en skil, kruie en knoffel saam en geur met peper.
  4. Verf die oliemengsel oor die sosaties aan alle kante en marineer vir 30 minute. Geur sosaties met sout.
  5. Braai oor medium tot lae kole of tot die groente net-net gaar is, maar nie te sag nie. Verf met nog van die marinade tydens die braai indien nodig.

Wenke

  • Voeg pynappel by die sosaties vir ʼn soet geur – dit is heerlik saam met vark of hoender.
  • Voeg ʼn knippie komyn of paprika, of gekapte brandrissie by die oliemengsel indien verkies.
  • Vir ʼn ander geur, voeg 1 e (15 ml) vars gerasperde gemmer of 1 t (5 ml) matige mosterd by die oliemengsel.

Bron: Pharma Dynamics se Cooking from the Heart deur Heleen Meyer

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae