Heerlike warm huiskos, perfek vir die koue winter!
Lewer 6-10 porsies
Bestanddele
- 1,5 kg groente (aartappels, wortels, uie, botterskorsie, vlapampoentjies, murgpampoentjies, jong mielies, broccoli, blomkool, gemengde kleure soetrissies)
- sout
- swart- of witpeper
- knoffel-, kruie- of groentegeursel
- 125 ml botter
- 4-6 jong koolblare
- 125 ml water
- 5 ml hoender- of groenteaftrekselpoeier
- gekapte pietersielie en varsgemaalde swartpeper, vir garnering
Metode
- Rangskik die groente in lae in ʼn middelslagswaarboomkastrol sodat dié wat die langste neem om gaar te word, onder lê en die wat die vinnigste gaar word bo-op is (min of meer soos gelys). Geur elke laag en stip dit met die helfte van die botter. Rangskik koolblare onderstebo en oorvleuelend op die groente.
- Meng die water en aftrekselpoeier en giet dit bo-oor. Stip dit met die oorblywende botter, bedek en laat prut dit vir sowat 30 minute of totdat die aartappels net sag is en die ander groente nog effe ferm is. Moet op geen stadium die groente roer nie. Indien daar nog ʼn bietjie te veel vloeistof oor is, verhoog die hitte en laat dit effens wegkook.
- Om voor te sit: Voer ʼn plat opdienbord uit met die koolblare en skep die res van die groente bo-op. Garneer dit met pietersielie en swartpeper.
Bron: Lekker kuierkos deur Clover SA
Uitgewer: Lapa