Soorte resepte:

Resep: Kleurvolle gevulde soetrissies

Kleurvolle gevulde soetrissies. (Foto: Lapa Uitgewers)

Sit dié gevulde soetrissies voor saam met ʼn boneslaai en geroosterde vis.

Lewer 12 porsies (aanbevole porsiegrootte is ʼn halwe soetrissie van ongeveer 115 g)

Bestanddele

  • 6 heel middelslag-soetrissies, verskeie kleure
  • 5 ml makadamia- of druiwepitolie
  • 1 klein ui, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 80 ml kookwater
  • 10 ml groenteaftrekselpoeier
  • 185 ml vars gekookte, bevrore of geblikte mielies
  • 80 ml geroosterde sonneblomsade
  • 125 ml gekrummelde ricottakaas
  • 125 ml gesnyde ontpitte olywe
  • 30 ml fyngesnyde vars pietersielie
  • 2,5 ml fyn gemengde speserye
  • 2,5 ml varsgemaalde swartpeper
  • 45 ml tamatiepuree

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 200 °C. Smeer ʼn oondbak liggies met olie.
  2. Sny die soetrissies in die helfte (in die lengte deur). Verwyder die pitte, membrane en stingels en gooi dit weg. Mikrogolf die soetrissies vir 5 minute of bak 15 minute in die oond tot effens sag. Verwyder en plaas eenkant.
  3. Terwyl die soetrissies in die mikrogolfoond of oond is, verhit die olie in ʼn pan en braai die ui en knoffel 4 minute oor matige hitte. Voeg die water by die groenteaftrekselpoeier en roer saam met die gebraaide groente. Verwyder van die stoofplaat.
  4. Meng die res van die bestanddele saam in ʼn mengbak en roer die gebraaide groentemengsel daarby.
  5. Vul die soetrissies met die mengsel en bak ongeveer 15-20 minute in die oond.
  6. Sit dadelik voor.

Bron: Lekker & Gesond: Slim laekoolhidraatgeregte
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.