Soorte resepte:

Resep: Koeskoes met dadels en amandels

Koeskoes met dadels en amandels. (Foto: Lapa-uitgewers)

Dié koeskoesgereg bied ʼn interessante variasie vir ʼn styselgereg. Dit smaak die beste wanneer dit vars berei word, maar kan tot 24 uur verkoel word. Bevriesing word nie aanbeveel nie.

Porsiegrootte: Ongeveer 150 g

Bestanddele:

  • koeskoes
  • sout
  • kookwater
  • olyfolie
  • knoffelhuisie, gekap – opsioneel
  • ui, gekap
  • rou amandels, gekap
  • dadels, in stukkies gesny
  • vars pietersielie of kruisement, gekap

2 porsies

  • 125 ml koeskoes
  • knippie sout
  • 125-175 ml kookwater
  • 5 ml olyfolie
  • ½ knoffelhuisie, gekap – opsioneel
  • ½ klein (50 g) ui, gekap
  • 25 g rou amandels, gekap
  • 4 dadels, in stukkies gesny
  • 30 ml vars pietersielie of kruisement, gekap

4 porsies

  • 250 ml koeskoes
  • 1 ml sout
  • 250-275 ml kookwater
  • 10 ml olyfolie
  • 1 knoffelhuisie, gekap – opsioneel
  • 1 klein (100 g) ui, gekap
  • 50 g rou amandels, gekap
  • 8 dadels, in stukkies gesny
  • 60 ml vars pietersielie of kruisement, gekap

Metode:

  1. Plaas die koeskoes, sout en kookwater in ʼn hittebestande bak. Bedek die bak met ʼn deksel of bord en week dit 5 minute. Belug die koeskoes met ʼn vurk tot donsig.
  2. Verhit intussen die olie en roerbraai die knoffel en ui totdat die ui deurskynend is. Roer die amandelstukkies by en verwyder dit van die hitte.
  3. Voeg die koeskoes, dadelstukkies en pietersielie of kruisement by, meng liggies en bedien dit warm of koud.

Variasies

Gebruik hierdie gereg as basis en voeg die volgende by:

  • oondgeroosterde groente soos botterskorsie, soetrissie, eiervrug
  • gepiekelde groente soos agurkies
  • kerriegroente
  • gestoomde broccoli, ham, gerookte hoender of vis
  • vars vrugte soos appel, mango, kiwivrugte, pynappel, papino
  • ingemaakte vrugte soos perskeskyfies, appelkose, pere
  • sterkgegeurde kaas

Vervang:

  • amandels met geroosterde sade
  • dadels met pruimedante, rosyne of repies Turkse appelkose

Voeg by:

  • soetrissiesous
  • bloukaassous
  • meer olyfolie
  • balsamiese asyn
  • kaneel
  • garam masala of komynsaad

Bron: Min Moeite deur Hilda Lategan

Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.