Soorte resepte:

Resep: Macaroni-en-kaas-braaibroodjie

Macaroni-en-kaas-braaibroodjie (Foto: Jan Braai)

Jan Scannell, meer bekend as Jan Braai, het pas sy jongste resepteboek, Braaibroodjies en Burgers, vrygestel, waar hy alles van nederige tot uitspattige braaibroodjie- en burgerresepte met lesers deel. Hier is een van sy aweregse braaibroodjies uit sy jongste boek.

“Die macaroni-en-kaas-braaibroodjie is iets glorieryks wat jy self moet beleef!” sê hy.

Lewer 6 braaibroodjies 

Bestanddele

  • 12 snye brood
  • botter
  • 3 ℓ water met sout in
  • 250 g macaroni
  • 1 sopie witbrood- of koekmeel
  • 1 k melk
  • 240 g beleë Cheddarkaas (gerasper)
  • 1 t Dijon-mosterd
  • 1 t sout
  • 1 t swartpeper

Metode

  1. Gooi 3 ℓ water en ’n halwe sopie sout in ’n pot wat groot genoeg is en kry dit aan die kook op ’n warm vuur. Voeg al die macaroni by die borrelende water en kook vir presies sewe minute. Die noedels sal nog effens rou wees, maar sal later gaarder word wanneer dit in die sous bak. Dreineer die pasta dadelik.
  2. Sit die leë potjie weer op die vuur (nie te warm nie), voeg een sopie botter by en wag tot dit smelt. Voeg die meel by en roer vir omtrent een minuut.
  3. Gooi nou die melk bietjie vir bietjie by terwyl jy voortdurend roer. Jy sal sien dat die mengsel eers swel en die melk absorbeer soos jy dit bygooi. Mettertyd, namate jy meer melk byvoeg, verander dit in ’n sous. As jy die melk te vinnig bygooi, gaan jy klonte kry. Sodra jy klonte sien, moet jy hulle eers met mening by die res van die mengsel inroer voordat jy nog melk bygooi.
  4. Wanneer jy al die melk bygegooi het, kry jy die sous rustig aan die prut. Voeg die helfte van die kaas, al die mosterd en sout en peper by en roer deeglik.
  5. Voeg nou die gekookte macaroni by die sous en roer dit tot die pasta daarmee bedek is. Haal die potjie van die vuur af en sit die deksel op totdat jy die braaibroodjie bou.
  6. Bou die braaibroodjies: Smeer botter aan een kant van elke sny brood (dis die kant wat na buite sal kyk wanneer jy die braaibroodjie aanmekaargesit het). Sit die helfte van die snye brood op hul botterkante neer en verdeel die macaroni-en-kaasmengsel en die res van die kaas eweredig tussen die snye. Bedek met die oorblywende snye brood met die botterkante na bo.
  7. Braaibroodjies is draaibroodjies. Jy moet braaibroodjies gereeld omdraai en jy braai hulle in ’n toeklaprooster. As jy nie een het nie, koop een – verkieslik ’n verstelbare rooster sodat jy elke broodjie reg kan vasknyp. Jy wil matige hitte hê en die rooster moet redelik hoog bo die kole wees. Jou doelwit is om die kaas gesmelt en die res van die vulsel lekker warm te hê teen die tyd dat die buitekante goudbruin is. Om te keer dat die braaibroodjies vassit, help dit as jy die rooster telkens oop- en toemaak ná die eerste paar kere se omdraai.
  8. Sodra die braaibroodjies reg is, sny jy elkeen in die helfte. Ek glo die regte manier om ’n braaibroodjie te sny, is diagonaal, en die regte tyd om dit te eet, is onmiddellik.

Bron: Jan Braai: Braaibroodjies en Burgers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anel ·

Dis nou iets wat ek sal eet. As koshuiskinders het ons alles op brood en konfyt geëet. Selfs spaghetti. Ek doen nou nog en dan dink my familie ek is mal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.