Maroela Media-leser Maryna Smith sê sy het as jongmeisie altyd vir haar gesin dié heerlike mieliebrood voorgesit. Wanneer die brood uit die jelring gedop word, lyk dit nie net heerlik nie, maar ís ook heerlik, vertel sy. Maryna het vir haar seuns elkeen so ʼn ring gekoop en hulle bak die brode veral wanneer daar ʼn vleisie op die kole gegooi word.
Bestanddele
- paprika
- 1 k gerasperde kaas
- 1 k koekmeel
- ½ t koeksoda
- 1 k braaipap
- ¼ t sout
- 1 blikkie geroomde mielies (sweetcorn)
- ½ k melk
- ¼ t olie
Metode
- Spuit die jelring met kleefsproei (Spray & Cook).
- Sprinkel die paprika rondom die jelring en gooi dan die kaas in sodat dit eweredig in die jelring versprei is.
- Meng die res van die bestanddele bymekaar in ʼn bak en gooi dit dan bo-oor die kaas in die jelring.
- Stamp die jelring liggies op ʼn oppervlak om die lugborrels uit te kry.
- Mikrogolf vir 9 minute. Haal die jelring uit die mikrogolf en laat dit vir 2 minute staan.
- Keer die brood op ʼn opdienbord uit. Die gesmelte kaas sal dan heerlik teen die kant van die brood afloop.
- Dien warm met botter op.
Stuur jou lekker resep hier aan ons.