Soorte resepte:

[Resep] Piekelgroente

Groente

Piekelgroente Foto: Carmen se beste resepte

Dis alte voordelig om ’n fles of wat piekelgroente byderhand te hê vir wanneer jy gou iets te ete moet prakseer. Ons hou ook daarvan om oor naweke sommer net ’n braaihoender of skywe oorskietbraaiboud op ’n groot dienbord te pak en dit dan saam met kase en piekelgroente te geniet.

Bestanddele:

Piekelmengsel

  • 500 ml (2 k) water
  • 250 ml (1 k) appel- of rysasyn
  • 180 ml (¾ k) suiker
  • 15 ml (1 e) geel mosterdsaadjies
  • 6 takkies vars tiemie
  • repe skiI van 1 suurlemoen

Groente

  • 1 elk geel-, rooi- en groen soetrissie, ontkern en in vingerdik repe gesny
  • 1 bossie jong aspersies (opsioneel)
  • 125 g broccoli
  • 125 g jong groenbone
  • 1 bossie stingeluie, in stukkies gesny

Metode:

Piekelmengsel

  1. Plaas al die bestanddele in ’n groot kastrol en verhit tot kookpunt.

Groente

  1. Spoel die groente goed af en plaas afsonderlik in die kokende piekelmengsel. Verhit dit net vinnig tot kookpunt, haal dadelik met ’n gaatjieslepel uit die mengsel en plaas in ’n bak of gesteriliseerde flesse.
  2. Verhit die piekelmengsel weer tot kookpunt en giet oor die groente tot dit bedek en verseël is. Andersins kan jy die piekelgroente in die yskas bêre.

Variasie

Kook die water, asyn en suiker saam, maar vervang die mosterdsaadjies, tiemie en suurlemoen met ’n 1 cm-stuk vars gemmer wat in dun skywe gesny is, 2 steranyssade en 3 heel brandrissies. Sny 2-3 pynappels of 6 Israeliese komkommers in dun skywe en plaas in die flesse en giet die warm sous oor. Verseël. Skil andersins taaipitperskes en kook tot sag in die piekelmengsel, skep in flesse en verseël.

Bron: Carmen se beste resepte
Uitgewer: Human & Rousseau

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.