Soorte resepte:

Resep: Slaai met botterskorsie en kekerertjies

Slaai met botterskorsie en kekerertjies (Foto: Verskaf)

Die tyd stap aan en die einde van 2017 is amper in sig. Tydens die feestyd krap ʼn mens soms kop oor bygereg-idees vir braaivleis, maar wil jy ook nie ure in die kombuis deurbring nie. Hierdie maklike slaairesep bevat net ʼn paar hoofbestanddele met ʼn paar geurmiddels wat in ʼn japtrap gaargemaak kan word. Die gereg kan op verskillende maniere gebruik kan word: van ʼn slaai tot ʼn ligte middagete of pak dit selfs in vir ʼn piekniek-ete.

Resep aangepas uit Cooking from the Heart 3

Lewer 6 porsies

Bestanddele:

  • 5 ml (1 t) gemaalde koljander
  • 5 ml (1 t) paprika
  • 10 ml (2 t) gedroogde origanum
  • 5 ml (1 t) gemaalde komyn
  • 2,5 ml (½ t) kerriepoeier
  • 45 ml (3 e) Westfalia- suurlemoen-gegeurde avokado-olie
  • 1,2 ml (¼ tsp) sout
  • 30 ml (2 e) suurlemoensap
  • 45 ml (3 e) water
  • 500 g botterskorsie, geskil en in blokkies gesny
  • swartpeper na smaak
  • 1 x 410 g-blik kekerertjies, gedreineer
  • 1 x 410g-blik borlotti- of enige ander bone, gedreineer
  • ʼn handvol dwerg spinasieblare of 2 handevol klein slaaiblare
  • 100 g bokmelk- of fetakaas, grof gekrummel

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180 ˚C. Plaas speserye en die helfte van die olie met sout, suurlemoensap, water en botterskorsie in ’n groot mengbak en meng goed.
  2. Geur met swartpeper en skep uit op ʼn groot bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is, of in ʼn groot oondbak. Rooster vir 30 minute of tot botterskorsie net gaar is, maar nie pap nie.
  3. Roer kekerertjies en bone by en laat afkoel. (Of as jy die botterskorsie die vorige dag al berei, laat dit eers afkoel en roer dan die res by.)
  4. 4. Pak die spinasie- of slaaiblare op ʼn groot slaaibord en skep die botterskorsiemengsel bo-op. Krummel die kaas oor, giet die orige olie oor en sit met nog ʼn lekker draai swartpeper voor.

Wenke:

  1. Die kekerertjies en bone kan by die warm botterskorsie gemeng en nog ʼn paar minute gerooster word, om as warm bygereg voor te sit. Laat dan die spinasie- of slaaiblare uit en sit die kaas by net voor dit voorgesit word.
  2. Sprinkel sonneblom- of pampoensade oor die slaai vir nog tekstuur.
  3. Maak die slaai ʼn ligte middagete en sit enige oorskietvleis daarmee saam voor. Repies skaapvleis, gerookte vark of selfs geroosterde hoender sal heerlik wees.

Volg Heleen op Facebook www.facebook.com/HeleenMeyerFood en besoek gerus haar webwerf, www.heleenmeyer.co.za vir nog smullekker idees. Haar resepteboek, Maak vyf is ook in Maroela se e-winkel https://maroelawinkel.co.za/ beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nic ·

Om die gereg te rek, kan ‘n mens meer soorte boontjies bysit. deesdae kry ‘n mense ‘n wye verskeidenheid bone in blikkies. maak die basiese mengsel bone en hou in die yskas (sal goed bly vir 4 of 5 dae) nou kan jy daardie slaai maak vir Vrydag aand se braai en saam met Saterdag se Pasta gereg. die res gaan ‘n heerlike ligte maaltyd wees vir Sondagaand.

Alet ·

Cooking from the heart is n resepte boek wat Pharma Dynamics vrygestel het. Daar is die heerlikste resepte in en BAIE gesond!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.