Soorte resepte:

Resep: Slaphakskeentjies

Matrone (Netta Nortjé op 7de Laan) skryf:

“In my dae het ʼn kind sy plek geken. Jy is gesien, maar nie gehoor nie. Daar was pligte: die as uit die vuurherd krap, bed opmaak, tee maak as die tannies kom kuier… Ek weet nie hoekom dit destyds vir my so ʼn beproewing was nie. Dalk was dit die bangmaakstorie dat tee jou vlooie in die maag gee. Ek en teeblare was nie vriende nie. En sokkies oprol. My pa was soveel weg met kontrakwerk, daar was altyd ʼn berg sokkies wat gestop moes word. Maar as my ma my rêrig wou straf, moes sy my sê om uie te skil.Ons het een jaar ʼn familiesaamtrek gehad op my oom se plaas. Dit was ʼn ongelooflike avontuur. My pa het ʼn karavaan geleen en ons het die pad gevat Groot Marico toe. Met die pakkery het ek gesien daar is ʼn gerookte vlakvarkboud, ʼn berg boontjies en aartappels, en ʼn reusesak uitjies. Daai sak uitjies het een ding beteken: trap in jou spoor!

Ek het ophou tel ná ek veertig klein uitjies geskil het – en ʼn eed gesweer dat ek eendag as ek groot is nooit uie in my kos sal gebruik nie. Maar toe ek die volgende dag my ma se slaphakskeentjies proe, het ek geweet: Netta Nortjé, jy moet erken, jy is verkeerd. ʼn Uit is jou vriend.

Die beste ding van slaphakskeentjies is dat die die volgende dag nog lekkerder is. Sit dit voor met jou oorskiet koue vleis en varsgebakte brood. Jy het nie eers poeding nodig nie.”

Lewer 4 -6 porsies

Foto uit die boek "7de Laan vier fees"

Foto uit die boek “7de Laan vier fees”

Bestanddele:
1 kg piekeluie, geskil en heel gehou (sien Wenk)
10 ml (2 t) mosterdpoeier
5 ml (1 t) mielieblom
2,5 ml (½ t) borrie
60 ml (¼ k) koue water
500 ml (2 k) bruin druiweasyn
180 ml (¾ k) suiker
2,5 ml (½ t) sout
3 eiers

Metode:
1. Plaas die uie in ʼn kastrol met genoeg water om dit te bedek. Laat 20 – 30 minute stadig kook oor matige hitte of tot gaar. Die uie moenie te vinnig kook nie, want hulle moet nog stewig wees en heel bly. Dreineer deeglik.
2. Meng die mosterd, mielieblom en borrie met die water. Maak seker dat daar geen klonte is nie. Gebruik ʼn draadklitser om makliker van die klonte ontslae te raak. Meng die mielieblommengsel met die asyn.
3. Plaas die suiker en sout in ʼn kastrol en meng die asyn-en-mielieblommengsel daarmee. Verhit dit stadig oor matige hitte totdat die suiker opgelos is en dit begin kook. Roer af en toe sodat dit nie vassit nie.
4. Klits die eiers deeglik in ʼn mengbak. Voeg die asynmengsel bietjie vir bietjie daarby terwyl jy aanhoudend roer. Moenie die eiers by die asynmengsel voeg nie, want dit sal skif.
5. Gooi die mengsel terug in die kastrol, verhit stadig en hou aan roer tot verdik. Gooi die warm sous oor die uie en meng goed deur. Laat heeltemal afkoel en hou in die yskas tot voor opdiening.
6. Die uitjies raak lekkerder hoe langer dit staan. So, jy kan dit selfs die dag voor die tyd maak.

Wenk:
Om dit makliker te maak om die piekeluie te skil, week dit vir ʼn paar minute in ʼn bak kookwater. Die skille sal dan baie makliker afkom.

Die resep is gepubliseer in die boek 7de Laan vier fees!
Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R265-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.