Soorte resepte:

[Resep] Smullekker peuselhappies

vingerhappies

Heerlike vingerhappies. Foto: Wenresepte 1

Hier is sommer drie resepte vir heerlike peuselhappies – perfek vir wanneer jy moet onthaal.

Biltonghappies

’n Mens kan die roomkaas deur gladde maaskaas vervang. Lewer 8 happies.

Bestanddele:

  • 125 g (125 ml) roomkaas
  • 20 ml mayonnaise
  • 1 ml sout
  • knippie peper
  • 4 snye brood, korsies afgesny
  • 2 Cream Cracker-beskuitjies
  • fyngerasperde biltong

Metode:

  1. Meng die roomkaas, mayonnaise, sout en peper en smeer dit aan weerskante van die broodsnye. Maak toebroodjies met die kraakbeskuitjies as vulsel. Sny dit in blokkies en rol elk in die biltong tot bedek.

Avokado-southappies

Dis ’n lekker southappie en ook iets waarvan die kinders sal hou wanneer hulle smiddae van die skool af kom. Lewer 16 happies.

Bestanddele:

  • 8 snye witbrood
  • 200 g (8 verpakte) kaasskyfies
  • aangemaakte mosterd
  • 1 ryp avokado
  • 2 middelslagtamaties
  • 8 repe ontbytspek, swoerd afgesny

Metode:

  1. Sny die brood se korsies af en halveer eIke sny. Plaas dit op ’n bakplaat en rooster net aan die een kant in die oond tot goudbruin.
  2. Halveer die kaasskyfies en plaas op die geroosterde kant van die brood. Smeer liggies mosterd oor.
  3. Halveer die avokado oorlangs, ontpit en skil. Sny dit in skyfies en plaas op die kaas. Sny die tamaties in skyfies en plaas op die avokado.
  4. Halveer die spek en plaas dit bo-op. Rooster 2-3 minute lank of tot die spek gaar is in die oond.

Spek-en-kaastertjies

Almal wat lief is vir onthaal, sal dié resep van Frieda Deyzel van Port Elizabeth nuttig vind. Lewer 24 tertjies.

Bestanddele:

  • ½  rol (200 g) blaardeeg, ontdooi
  • 2 pakke (250 g elk) ontbytspek, gesnipper
  • 100 g (250 ml) gerasperde cheddarkaas
  • 5 ml mosterdpoeier
  • knippie rooipeper
  • 4 eiers, goed geklits
  • 60 ml melk

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180  ̊C (350  ̊F).
  2. Rol die blaardeeg uit en druk groot genoeg sirkels af om die holtes van ’n kolwyntjiepan mee uit te voer.
  3. Gebruik 2 kolwyntjiepanne en plaas deegsirkels in die holtes. Meng die res van die bestanddele saam en skep daarin.
  4. Bak 25-30 minute lank. Sit dit warm voor.

Bron: Wenresepte 1
Uitgewer: Human & Rousseau

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

EMK ·

Ek kom nou nie van die skool af nie maar ek is lus vir sulke happies – wie gaan tog vir my ene maak?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.