Soorte resepte:

Resep: Soetpatat-poffertjies

Soetpatat-poffertjies (Foto: Verskaf)

Hierdie soetpatat-poffertjies kan as ʼn bykos of peuselhappies bedien word en kom van Ming-Cheau Lin, die kosblogger en skrywer van die eerste plaaslik gepubliseerde Oos-Asiatiese kookboek Just Add Rice – stories and recipes by a Taiwanese South African.

“Sit hierdie poffertjies warm, eerder as kokend, voor. Ek brand altyd my tong om te proe! Dis belangrik om te proe soos jy aangaan – almal hou van hulle kos verskillend gegeur en daar is niks fout daarmee nie. Proe soos jy aangaan en jy sal jou voorkeure leer ken,” sê Lin.

Lewer 60 poffertjies

Bestanddele

  • 750 g patat
  • ½ k bruin suiker
  • ¾ k tapioka-meel plus ekstra soos nodig
  • kookolie, vir diepbraai

Metode

  1. Stoom die patat, druk dit fyn en los om af te koel.
  2. Meng die suiker by die fyngedrukte patat in.
  3. Voeg die meel by en meng tot ʼn deeg vorm. As die deeg nat is aan die kante, voeg nog ʼn bietjie meel by.
  4. Vorm druiwegrootte deegballe met jou hande.
  5. Plaas deegballetjies vir 5 minute in die vrieskas.
  6. Giet olie in ʼn pot tot ʼn derde vol en verhit tot matige hitte.
  7. Skep een balletjie in die warm olie as ʼn toetslopie. As dit stadig maar aanhoudend borrel, kan jy die res van die balletjies ook inskep, maar spasieer dit so dat die balletjies nie aan mekaar vassit nie.
  8. Wanneer die balletjies goudbruin is, sal dit na die bokant begin styg, uitpof en groter word.
  9. Druk die balletjies platter teen die kant van die pot, en laat hulle dan toe om weer uit te pof. Druk hulle weer platter. Herhaal hierdie stap tot die balletjies groot en goudbruin is.
  10. Verwyder van olie en dreineer in kombuispapier.
  11. Herhaal in sessies tot al die deeg gebruik is.

 

Resep: Just Add Rice – stories and recipes by a Taiwanese South African deur Ming-Cheau Lin

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.