Wat is dan beter as ’n vars, warm vetkoek met kerrie-maalvleis of kaas en stroop op?
Hierdie is die tipe resep wat ons oumagrootjies gevolg het, voor daar al kitsgis in die winkels was. Die sout, louwarm-water, suiker en meel vorm ‘n suurdeeg, selfs sonder om gis by te voeg! Probeer dit gerus!
Bestanddele:
- 12,5 ml sout
- 500 ml louwarm water
- 12,5 ml suiker
- 120 g ongesifte meel
- 2 kg wit- of growwemeel
Metode:
- Voeg die sout en suiker by die water in ’n kastrol met ’n styfpassende deksel. Strooi die ongesifte meel oor.
- Plaas die deksel op, maak warm toe en laat oornag op ’n warm plek staan.
- Klop die suurdeeg die volgende oggend wanneer dit gerys het tot meer loperig. Strooi weer ’n bietjie meel oor en maak warm toe.
- Na ’n uur of twee behoort die suurdeeg goed gerys te wees.
- Roer die suurdeeg in die 2 kg meel en knie. Laat die deeg vir ’n ruk staan om te rys.
- Knyp balletjies van gerysde brooddeeg af. Rol langwerpig uit en druk plat tot 10 mm dik.
- Laat 5-10 minute lank rys.
- Braai alkante bruin in warm vet of olie, dreineer op gekreukelde bruinpapier en bedien warm.
WENK
Dompel ’n klein stukkie deeg in die warm olie. As dit dadelik na die oppervlakte rys, is jou olie die regte temperatuur.
Bron: Lekker en Vinnig: Tradisionele kos
Uitgewer: Lapa
Hoeveel suurdeeg?
Baie interessant! Geen suurdeeg… die meel/suiker/sout begin blykbaar gis – óú resep…
Hoeveel gis?
Dagsê Nella
Dankie vir jou navraag. Hierdie is die tipe resep wat ons oumagrootjies gevolg het, voor daar al kitsgis in die winkels was. Die sout, louwarm-water, suiker en meel vorm ‘n suurdeeg, selfs sonder om gis by te voeg! Probeer dit gerus!
Groetnis
Tania nms Maroela Media
Maroela – ja watter suurdeeg praat jul van – niks in resep!
Dagsê E.K. die eerste
Dankie vir jou navraag. Hierdie is die tipe resep wat ons oumagrootjies gevolg het, voor daar al kitsgis in die winkels was. Die sout, louwarm-water, suiker en meel vorm ‘n suurdeeg, selfs sonder om gis by te voeg! Probeer dit gerus!
Groetnis
Tania nms Maroela Media
Die suiker, sout en ongesifte meel in die lou water wat oornag staan vorm die suurdeeg
Goeie genade kan die mense dan nie lees nie??? Daar kom nie suurdeeg by nie. Lees die resep van heelbo af!
Ja nee daar is soveelkeer gesê geen gis….
Hierdie is seker baie vetkoekies met 2kg meel?
Koek- of broodmeel?
Kalm bly mense – ek lees gewoonlik nie die paragraaf bokant die resep nie en draf net vinnig deur resep om te sien of ek alles in die huis het sou ek wou maak. Dus het ek die EENKEER wat dit genoem van bestandele wat gis vorm, gemis.