Soorte resepte:

Crème brûlée, croque monsieur vir Melanie du Bois

In die eerste episode van Martelize se stamtafel kuier die sepiester Melanie du Bois saam met Martelize. Hulle gesels oor Melanie se Franse herkoms, kuier in die kombuis en langs die vuur, en maak crème brûlée en croque monsieur.

Martelize Brink se croque monsieur en crème brûlée. (Foto: Verskaf)

Maak Martelize se resepte só:

Vlam-fudge crème brûlée (genoeg vir 6 persone)

Bestanddele

  • 1 vanieljepeul
  • 1 liter room (gerookte room, opsioneel)
  • 200 g suiker
  • 7 ekstragroot eiergele
  • 1 eetlepel rooswater (opsioneel)
  • 6 klein blokkies fudge
  • kookwater

Metode

  • Verhit die oond tot 150 °C.
  • Sny die vanieljepeul oorlangs oop en krap die sade uit. Hou die peul. Jy kan dit in die toekoms weer by ʼn mengsel gooi. Daar sit altyd nog baie van die sade in die peul vas en dis goud werd.
  • Voeg die vanieljesade, room en suiker bymekaar. Plaas in ʼn pan op die stoof en verhit oor matige hitte.
  • Roer gedurig tot die suiker opgelos is en tot jy stoom sien vorm. Die room moet nie kook nie.
  • Plaas die eiergele in ʼn bak en klits.
  • Voeg ʼn klein bietjie van die room-en-suikermengsel by die eiergele terwyl jy die heeltyd klits.
  • Voeg die res van die room-en-suikermengsel stadig maar seker by. Moenie die warm mengsel te vinnig by die eiergele voeg nie.
  • Wanneer dit goed gemeng is, gooi die mengsel terug in die pan en plaas oor matige hitte terwyl jy deurentyd roer tot dit begin dik raak.
  • Voeg die rooswater by.
  • Verdeel die mengsel tussen klein bakkies en plaas in ʼn diep oondbak.
  • Gooi kookwater versigtig in die oondbak tot die water die helfte van die hoogte van die bakkies bereik.
  • Bak in oond vir 30-40 minute. Die inhoud moet nog ʼn bietjie beweeg wanneer jy dit liggies skud.
  • Haal uit die oond en laat afkoel.
  • Plaas in die yskas vir 3 ure of langer.
  • Sit jou oond se rooster aan (of gebruik ʼn kombuisvlam).
  • Rasper die fudge met die fyn kant van die rasper en strooi dit oor die crème brûlée.
  • Plaas in die oond direk onder die roosterelement vir ongeveer ʼn minuut of tot die fudge liggies karamelliseer.
  • Moet dit nie te lank onder die rooster hou nie. Dit sal vinnig brand en indien die crème brûlée te warm raak, kan dit smelt of loperig raak.
  • Indien jy die room wil rook, plaas die inhoud van ʼn paar sakkies tee of saagsels in ʼn bak (soos ʼn braaibak) wat jy oor die kole of oor ʼn gasvlam kan plaas.
  • Plaas foelie bo-op en ʼn rakkie wat binne-in die bak pas.
  • Giet die room in ’n oondvaste bakkie.
  • Plaas die bak oor hitte, sit die deksel op en laat die room blootgestel word aan die rook in die bak vir 10 minute.

Vlam-fudge crème brûlée (Foto: Verskaf)

Brood met croque monsieur-fondue (ham, kaas en witsous) (genoeg vir 4 persone)

Jy kan die witbrooddeegresep hieronder maak of deeg koop.

Bestanddele

  • 75 ml botter
  • 60 ml meel
  • 3 koppies melk
  • 2 eetlepels Dijon-mosterd
  • 100 g bloukaas
  • 5 ml sout (die bloukaas en gruyère is reeds baie sout)
  • peper
  • witbrooddeeg
  • 250 g ham, in blokkies gesny
  • 250 g gruyère, fyngerasper

Metode

  • Smelt die botter, voeg die meel by, meng deur en kook vir 3 minute.
  • Voeg die melk stelselmatig by terwyl jy aanhoudend roer om klonte te voorkom. Kook vir 10 minute. Roer aanhoudend.
  • Voeg die mosterd, bloukaas, sout en peper by.
  • Roer die mengsel tot die bloukaas gesmelt het en laat afkoel.
  • Vat ʼn gholfbalgrootte hoeveelheid van die deeg en druk dit plat, ongeveer ʼn sentimeter dik.
  • Smeer ʼn potjie of broodpan met botter.
  • Druk die witbrooddeeg rofweg met die hand plat en voer die pan of potjie met die deeg uit. Dit moet met ongeveer 4 sentimeter oorhang sodat jy dit kan toevou.
  • Plaas ʼn laag witsous in die deeg, dan ʼn laag van die ham en gruyère.
  • Herhaal lae tot die bak vol of die witsous op is.
  • Vou die deeg bo-oor en knyp dit toe.
  • Laat rus vir 20 minute tot die deeg weer rys.
  • Verhit oond tot 180 °C.
  • Bak vir ongeveer 30 minute of tot die broodjie ligbruin is bo-op.
  • Sny die brood oop (die sous sal uitloop) of breek die bokant van die brood oop en doop die stukke in die sous.

Brood met croque monsieur-fondue (ham, kaas en witsous). (Foto: Verskaf)

Maklike witbrood (maak ’n mediumgrootte brood)

Hierdie deeg is ʼn basis vir ʼn groot verskeidenheid resepte.

Bestanddele

  • 500 g witbroodmeel (hou altyd ekstra meel byderhand.)
  • ʼn halwe pakkie kitsgis
  • ½ eetlepel sout
  • 1 eetlepel suiker of heuning
  • 310 ml louwarm water (hou altyd ekstra water byderhand.)
  • 2 eetlepels olyfolie

Hierdie hoeveelhede bied ʼn sagte, stewige deeg vir ʼn groot brood. Let wel: Meel is soms droër, afhangend van jou ligging en die seisoen. Hou dus altyd ekstra meel en water byderhand. Nadat jy goed geknie het, behoort jy ʼn sagte, maar stewige deeg te hê wat nie klam aan jou hande vasklou nie. Indien die deeg bietjie natter is, is dit oukei. Dit rys heerlik met groter lugborrels, perfek vir ʼn potbrood.

Enige ekstra deeg kan vir ʼn dag of twee in die yskas gehou word vir latere gebruik.

Martelize Brink gesels in episode een van ‘Martelize se stamtafel’ met die sepiester Melanie du Bois oor haar Franse herkoms. (Foto: Verskaf)

Metode

  • Meng al die droë bestanddele saam.
  • Voeg water bietjie vir bietjie by tot ʼn stewige deeg vorm wat maklik knie.
  • Voeg die olie by.
  • Knie vir minstens 10 minute of tot jou hande skoon is. Hoe langer jy knie, hoe beter die brood. Voeg meer water of meel by indien jy sien die deeg is te droog of te pap.
  • Laat rys vir so 40 minute of tot dit verdubbel het.
  • Knie af en plaas in jou broodpan of pot vir die vuur.
  • Daar moet genoeg spasie in die pan wees vir die brood om amper te verdubbel.
  • Laat die brood weer rys vir ongeveer 40 minute.
  • Bak teen 180 °C vir 30-40 minute. Wanneer dit ligbruin is, kan jy begin dophou.
  • Indien jy kleiner broodjies in bv. muffinpannetjies bak, bak dit korter, anders gaan jy met harde beskuitbrood sit.

Martelize se stamtafel word Woensdag om 17:00 op VIA, DStv-kanaal 147, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elinette ·

Sy het dalk die van, maar van Franse oorsprong is sy net so min soos ek.

Nited ·

Miskien net miskien was n Grote grootjie Franschoek se Krotoa.
Ek dink sy moet sy haar losmaak van stigma van herkoms en probeer om uit die wurggreep van die tragiese karakter te kom.
Sy versinnebeeld n hartseer, boring karakter.
Miskien moet sy maak soos Engelse se” Act your age” Want jitte tot Tant miems van Nommer Asseblief het meer lewendig haar rolle gespeel

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.