Soorte resepte:

Darling Vleismark: Waar 5 generasies slagters saamwerk

Die derde-, vierde- en vyfdegenerasie slagters op Darling is van links Kevin, Sean, Parker en Stephen Kriel. (Foto: Susan Kriel)

Deur Sarie Marais-Nell

In Darling, teen die Weskus, staan ʼn slaghuis waar ou waardes en moderne produkte suksesvol saamsmelt. Omdat dit ʼn plek is waar mense mekaar nog in die oë kyk en vriendelik groet, kom kliënte keer op keer terug na hierdie vyfdegenerasie-slagters.

Alles het begin toe ʼn derdegenerasie-slagter, Parker Kriel, vroeg in die 1980’s na Darling verhuis het; hy en sy vrou wou naby sy suster gaan aftree. Maar Parker is nie ʼn man vir stilsit nie, daarom het hy geleidelik weer in die vleisbedryf betrokke geraak en in 1982 het hy Darling Vleismark/ Darling Meat Market geopen.

Dalk moes die familie vooraf geweet het so iets sou gebeur, want slagter-wees vloei in die Kriel-familie se are. Parker se oupa Alexander was ʼn slagter met tien kinders; hierdie agt seuns het almal slagters geword. Alexander se twee dogters het eers boekhouding vir hierdie slaghuise gedoen – en toe ook met slagters getrou.

Parker se pa James, die tweedegenerasie-slagter, se lewe met vleis het hom geneem na verskeie dorpe – van die Kalahari tot die Oos-Kaap: Upington, Umtata, Port St. Johns, New Castle en McGregor.

Dit was amper logies toe Parker as 16-jarige in ʼn slaghuis begin werk. Hy en sy vrou Denise het hulle later in Bonnievale gevestig en hier het hul vier kinders in die Kriel-slaghuis grootgeword. As vyfjarige het hul seun Stephen op ʼn krat gestaan en vleis sny. Kevin, hul jongste, is as baba gereeld binne sy wiegstoeltjie op die slaghuistoonbank neergesit. Al wiegend sou welmenende klante dikwels die baba se trane wegsus. Want slaghuiswerk is harde werk, veral as ʼn familie saamstaan om vleisprodukte te omskep in trefferprodukte.

Toe Parker dus in Darling (probeer) aftree, het sy aftreestokperdjie ontwikkel in ʼn voltydse slaghuis wat vanjaar sy 42ste verjaardag vier. Dit is ook die plek waar 30 personeellede jaarliks hul inkomste verdien; waar Parker se seuns Stephen en Kevin as die vierdegenerasie-slagters intussen die slaghuis oorgekoop het, en waar Stephen se seun Sean as vyfdegenerasie-slagter ook pas aangesluit het.

Die slaghuis se sukses lê enersyds in die aangename atmosfeer wat daar heers, asook ander wen-oortuigings: Dat hulle slegs primavleis gebruik; dat hulle familieresep vir wors en droëwors steeds gewild is plus die hoeveelheid nuwerwetse variasies in hul rakke.

Binne Darling Vleismark wag dus interessante lekkertes soos oepsies, peppadew-pops, angel kisses, pastrami, the devil on horseback, kalahari-kreef en kalahari-prawns, asook ou gunstelinge soos sult, salami-stokkies, gewone wors asook worsvariasies soos gerook, en met kaas of kersies.

Terwyl die gewone produkte van bees, lam, hoender en vark hier verwerk word, is lewerprodukte geensins hier te vinde nie. “Nie een van ons is lief vir lewer nie, maar dis omtrent die enigste produk wat ons nie aanbied nie,” vertel Kevin.

In ʼn slim beplande ruimte verwerk die personeel groot hoeveelhede vleis wat weekliks uitgery word na Spar-winkels so ver as Upington, Keimoes, Carnarvon en Calvinia. En omdat naburige dorpe en Kaapstad se noordelike voorstede ook Darlingvleis wil eet, word vleisbestellings weekliks van Dinsdag tot Vrydag daarheen uitgery.

Denise en Parker Kriel het oorspronklik op Darling kom aftree, maar 42 jaar later getuig hul liefde vir werk met vleis steeds in die Darling Vleismark. (Foto: Susan Kriel)

Parker (85), loer nog graag by die slaghuis in. Naweke en Kersvakansies spring hy gereeld in om hul befaamde vleisprodukte af te weeg in hoeveelhede soos klante dit versoek.

“Eienskappe wat ons pa by ons ingedril het, is eerlikheid en hardwerkendheid,” vertel Kevin. Waarby Sean voeg: “Wanneer ek saam met Oupa na ons satelliettak in die township ry, leer ek soveel by hom. Hy behandel elke mens dieselfde: opreg, vriendelik en behulpsaam, laai soms in hierdie hitte ʼn voetganger op.”

Stephen, ʼn opgeleide gesondheidsinspekteur, het eers ander werksondervinding opgedoen en die wêreld plat gereis. Kevin, opgelei in rekenaars, het ook eers sy horisonne in ander wêrelddele verbreed voordat eers Stephen en later Kevin as vierdegenerasie-slagters by die besigheid aangesluit het.

Stephen – elf jaar ouer as Kevin – is versot op ekstreme sportsoorte en het voorheen jaarliks deelgeneem aan die Kalahari Augrabies Extreme-marathon, waar die keuses lê tussen die 160 km vyf dae-ultramarathon en die Big Daddy 250 km (7 dae-selfsorg)-uitdaging.

Intussen het Stephen oorgeskakel na ekstreme fietsry-uitdagings; Novembermaand het hy deelgeneem aan die Annapurna Bergmarathon in Nepal.

Kevin beoefen sportskiet. “Ek was nog altyd lief vir gewere, maar ʼn mens kan nie heeljaar jag nie. As lid van SA Jag se Weskustak, is sportskiet my passie; langafstandskiet tot sover as 1,8 km. Dis die lekkerste uitdaging buite my werksterrein.”

Kevin wat die rekenaarstelsel vasvat; Stephen wat graag met speserye en nuwe produkte eksperimenteer en sy vrou Susan wat die boekhouding behartig. En nou ook hul seun, Sean, wat na sy studies by die Universiteit Stellenbosch as vyfdegenerasie by die span aangesluit het.

“Ons ken die gesigte van baie van ons gereelde klante van reg oor die land. Hier is altyd ʼn blye weersiens, ʼn vraag wat beantwoord moet word, of ʼn vinnige grappie.”

Voorheen, toe die slaghuis nog oor middagetes toegemaak het, het ouma Denise elke Donderdag ʼn koninklike middagete vir haar man en seuns gekook. Hierdie etenstye in haar en Parker se huis, oorkant die slaghuis, was kosbare gesinstyd. Vandat die slaghuis oor middagetes oop bly, kook Ouma steeds die etes, maar kuiertye is nou afgeskaal na vinnig hap ‘want die werk wag’.

“Almal van ons is lief daarvoor om met vleis te werk. As dit nie was vir hierdie liefde vir vleis nie, kon ons dit maar gelos het – daar is sekerlik makliker maniere om geld te maak,” skerts Kevin.

*Darling Vleismark het oor die laaste feesseisoen minstens 3 000 kg (3 ton) van hul gewilde wors en produkte verkoop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Samuel ·

Darling vleismark is voorwaar ‘n aangename plek om te gaan inloer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.