Soorte resepte:

Dié ma en dogter is hul sout werd

Ouma Anneke van Rooyen en haar dogter Johannita Eksteen (Foto: Verskaf)

Funky Ouma is ʼn eg Suid-Afrikaanse onderneming wat verskillende soute, kruie en speserye meng, en dit dan in wonderlike en interessante speseryekonkoksies verander.

Hulle is bekend vir hul beetsout, biltong-en-parmesaansout en ment-en-roossout, om net ʼn paar te noem.

Johannita Eksteen (36) en haar ma, Anneke van Rooyen (74), het ses jaar gelede op die blink gedagte vir die besigheid gekom nadat hulle die soutmengsels ʼn lang tydperk net vir persoonlike gebruik gemaak het.

“My ma het altyd soutmengsels gemaak en dit vir vriende gegee. Sy het sommer kruie gebruik wat in die tuin gekweek is. My pa was siek en kon dus nie preserveer- en kleurmiddels in sy kos geëet het nie. So, my ma het dié mengsels sout vir hom gemaak,” het Eksteen aan Maroela Media vertel.

Mense het toe agtergekom hoe lekker dié soutmengsels is en bestellings begin plaas.

Funky Ouma werkers Jan Hector, Johannita Eksteen, Emma Hendriks, Audria Samuels (Foto: Verskaf)

“My ma het dit eintlik net weggegee, maar toe sê ek vir haar dat die produk goeie potensiaal het om ʼn besigheid te wees. Ons het vir die eerste keer die soutmengsels in potte gesit en dit by Malmesbury-plaasmark gaan verkoop. Die eerste keer by die mark het die soutmengsels uitverkoop, die tweede keer het ons dubbeld daarvan gevat en dit het wéér uitverkoop.”

Eksteen sê hulle het begin uitbrei na ander markte en later het winkels hulle genader om Funky Ouma-soutmengsels aan te hou. Dit is tóé dat hulle sien hulle het ʼn goeie ding beet.

Die naam “Funky Ouma” het gekom omdat Anneke ʼn ouma van 10 kleinkinders is. Eksteen het die naam voorgestel omdat haar ma so lekker met haar kleinkinders speel en baie vol lewe is.

“My ma is ‘funky’ én sy is ʼn ouma. Sy speel altyd met die kleinkinders soos ʼn jong vrou, sy is op Facebook en sy kan met ʼn skootrekenaar werk. Ons het toe besluit op die naam Funky Ouma. Ons het nog daaroor gelag, want dit het vir ons half snaaks geklink,” sê Eksteen.

“Funky Ouma het eintlik net begin as ʼn klein besigheid in ons stoorkamer wat my ma in haar vrye tyd kon behartig, maar nou is dit ons albei se voltydse werk. My ma hanteer baie van die interessante produkontwikkeling, en ek is in beheer van die algemene bestuur en bemarking. Ons het nou 10 mense wat vir Funky Ouma werk, asook ʼn fabriek in Wellington.”

Funky Ouma verskaf ook al aan 300 winkels landwyd en vervaardig sowat 500 soutmengsels per dag.

Eksteen sê daar is iets besonder spesiaal daaraan om saam met haar ma te werk, veral omdat sy ʼn “laatlammetjie” en baie na aan haar ma is.

“Dis wonderlik om saam met my ma te werk. Sy is regtig my mentor en my beste vriendin. Sy is my ma, maar ook die ouma van my kleinkinders. Op die oomblik fokus sy daarop om ʼn ouma te wees, en ek fokus op die besigheid. Sy is my ondersteuningsraamwerk. Sy help byvoorbeeld baie met die kinders by die huis as ek na markte toe moet gaan.”

Volgens Eksteen was kosmaak en eksperimenteer met geure nog altyd deel van hul lewe.

Johannita Eksteen en haar ma, Anneke van Rooyen (Foto: Verskaf)

“My ma maak die lekkerste kos, en ek is baie lief vir geure, kleure en smake, so ons vul mekaar goed aan. Ons praat altyd oor watter geur by ʼn dis sal werk. Ons sintuie is albei so ingestel dat ons ʼn geur in gedagte het, en die eerste keer dat ons die mengsel maak, is hy reg. Ons hoef nie nog daaraan te karring nie.”

Funky Ouma glo daaraan dat natuurlike produkte die beste is, en het daarom geen onnatuurlike middels in hul soutmengsels nie. Die sout wat hulle gebruik, word van Walvisbaai en die Himalajagebergte ingevoer en die kruie word op hul plaas in Wellington gekweek.

“Met my pa wat siek was en ons ervaring met kanker, het ons familie net weereens die gevare van MSG, preserveer- en kleurmiddels besef,” beklemtoon Eksteen.

“As die basis van jou produk reg is, hoef jy dit nie beter te probeer maak met onnatuurlike middels nie. Dít is Funky Ouma se hoofuitgangspunt: ʼn uitstekende en geurvolle gehalteproduk.”

Volgens Eksteen sal Funky Ouma nog lank nie sy einde sien nie; sy wil eerder nog beleef hoe háár kleinkinders in die fabriek rondhardloop.

“Ek sal beslis met die onderneming wil aanhou tot ek ʼn ouma is. Dit is só ʼn lekker familiebesigheid en die kinders is ook gereeld in die fabriek, hulle is deel daarvan. Ek kan myself sien as ʼn ouma, met my dogter wat weer eendag saam met my werk, en háár kinders wat dan in die fabriek rondhardloop.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Justice ·

Uitstekend! – ek wens julle alle sukses en voorspoed toe.

Jaco ·

Dis altyd lekker om so iets opbeurends te lees! Mag jul besigheid sommer daagliks nuwe hoogdes bereik! Ek is trots op elke Liewe Suid Afrikaanse Entrepreneur wat help om ons land n beter plek te maak in plaas daarvan om die heeltyd oor als te klae en self niks van hul kant af doen nie! Sal sommer wanneer ek winkels toe gaan uitkyk vir jul produkte! :-)

Esther ·

Hi van julle produkte op vakansie by Thyme and again gekoop. Bly in Centurion …..waar kan ek dit hier koop. Love julle produkte

mimi ·

Dit is so n inspirerende verhaal. Anneke en Johannita, julle is so gelukkig dat julle so goed kan saamwerk! Dankie vir “natuurlike produkte”…ons het meer van dit nodig. Alle voorspoed, doen so voort. Ja ek in Pretoria wil ook graag weet waar dit te koop sal wees.

Izanda Ferreira ·

Het al Funky Ouma hier in Pretoria by iemand gekoop én as geskenke vir ander gegee. Almal is dit eens: dis heeeeerlik en gee daai ekstra interessante smaak! Wens net ons kon dit makliker bekom! Do zo voort!

Xit ·

Ek het Funky ouma produkte gekoop by n winkel met die naam van Grey Matters in Hazeldean Pretoria Oos

Tresia ·

In Potchefstroom is daar n winkel en koffiekroeg wat Funky Ouma aanhou die plek se naam is Rooideur en dit is in die West Acres sentrum.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.