Die storie agter die Karoolam

Foto: Liezel Hodgson

Deur Nichelle Steyn

Elke land het sy tradisies as dit by Kersfees kom. Meeste van die tradisies draai rondom die reuke wat uit die kombuis kom en die mooi gedekte Kerstafel wat gevul word met geregte van jou kinderjare. Dan smul almal weer aan daai familiegeregte.

Die Italianers hou daarvan om fees te vier met vis en seekos. Hulle sit ’n verskeidenheid seekosgeregte vir hul gaste voor. Afrikaners hou weer van ’n lekker braaivleisie op Oukersaand, maar op Kersdag moet ons darem ’n lekker stukkie varkboud of skaapboud met gebakte aartappels, rys en groentes voorsit.

Ons koop gewoonlik uitgesoekte skaapboud by ons gunstelingslaghuis, sonder om twee keer te dink aan waar dit vandaan kom. Maar wat as daardie skaapboud ’n simbool van is ’n windpomp, ’n skaap, ’n dorre Karooplaas en ’n boer, wat moeite doen om die beste gehalte vleis te produseer? Ons almal weet ons is wat ons eet. Dit is net so met diere en skape.  Daarom kan ’n stukkie skaapvleis mens terugvat na die Karoo. Net soos wat ’n oester ’n mens laat dink aan die see.

Liezel Hodgson van Karusaf Karoolam glo dit is inderdaad so.

“Karoolam het ‘n baie besliste kruiesmaak weens die bossies wat die diere eet. Dit gee aan die vleis het ‘n unieke smaak. Navorsers het bevind dat karoobos, ’n versamelnaam vir verskeie bossies wat in die karoo groei, soos die silwerkaroo, skaapbossie, kapokbossie rivierganna, ankerkaroo en perdebos, aan skaapvleis ’n unieke geur en smaak gee. Die vetsuur-profiel van skaapvleis afkomstig van skape wat hoofsaaklik op karoobos wei, is anders as skape wat net op gras wei.”

Volgens haar het elk van die bogenoemde bossies ’n ander geur en na gelang van die samestelling van die veld se bossies sal die vleis se smaak ook verskil. Die terrein beïnvloed die tipe bosse wat groei en ook die verskeidenheid.

“Elke kamp op elke plaas het omtrent ‘n ander verspreiding van die verskillende bossies wat ’n invloed het op die smaak van die vleis.”

Hodgson meen die taaiheid van die vleis word egter grotendeels deur die slagtingsproses bepaal.

“As die diere onder erge stres verkeer voordat hulle geslag word, kan die vleis taaier wees.”

Hodgson sê omdat die skape op natuurlike veld wei, is dit tans moeilik om met die droogte Karoolam te kry, maar hulle gee lank nie moed op nie aangesien die Karoo in hulle bloed is.

“Ek is van dié wêreld en nou maak ek my kinders ook hier groot.”

Sy onthou so goed as klein dogtertjie toe sy vakansies op haar oupa se plaas tussen Williston en Carnarvon help skaap aanjaag het en hoe die reuk van die gekneusde bossies in haar neus, hare, klere en hart gaan sit het.

“Nou bly ons in afwagting vir die reën dat die skaap se pote weer die reuk van die karoo uit die bossies kan trap.

“Die wêreld om ons lyk nie op die oomblik mooi nie en die boere is desperaat, maar die land maak sy hand en hart wyd oop vir ons boere in die vorm van skenkings van voer, geld en liefde. Die Williston-boereunie is aktief aan die soek na skenkings en sorg dat al ons boere gereeld voer ontvang om die diere weer so vir ‘n paar dae te voed. Hulle is op Facebook onder Williston Droogtehulp te vinde of mens kan hul e-pos by [email protected].”

Dit is hartseer vir haar om geharde boere wat al jare op die plaas is, te sien staan met trane in die oë en hoed in die hand voor die skenkings wat uitdeel word.

“’n Boer is nie iemand wat sommer vra vir hulp nie, die feit dat hulle so opdaag wanneer daar voer uitgedeel word, dui vir jou die erns van die saak aan. Daar is ‘n gesegde wat sê: ‘Al ‘n boer se probleme los op in reënwater.’ Reënwater is ook ongelukkig nie iets wat mens kan koop of maak nie, net ons Vader in die hemel kan dit vir ons gee.”

Sy vertel van een naweek toe die Bonnievale-gemeente Williston kom seën het met 25 ton se kospakkies, maar die mooiste van die naweek was ‘n gedig wat hulle gedeel het met die hoofgedagte: Ek weet nie, maar God weet.

“En dit is maar hoe ‘n boer in die Karoo boer en uithou. Hy glo en vertrou dat die Vader sal sorg. Nie net vir hom nie, maar ook vir sy diere.”

Hoe weet verbruikers die vleis by hul plaaslike slaghuis is werklik Karoolam, selfs al doop die slagter dit so? Die ware Jakob word verkoop onder ’n geregistreerde handelsmerk om die mense en boere van die Karoo se unieke produkte te beskerm.

Die Karoo-ontwikkeling-stigting (Karoo Development Foundation) is in 2009 gestig om produkte wat inwoners van die Karoo verkoop, onder ’n handelsmerk te registreer. Dit sluit Karoolam in.

“Karusaf is die geregistreerde handelsmerk van Williston Abattoir waaronder ons gesertifiseerde Karoovleis van Oorsprong verkoop,” sê Hodgson.

“Mense wat deur Williston reis, is ook welkom om by ons aanleg wat in die hoofstraat geleë is, te stop en sommer self te kyk wat ons alles doen.”

Sy beveel verbruikers aan om die webwerf www.karoomeatoforigin.com te besoek en te kyk watter ander verskaffers geregistreer is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae