Soorte resepte:

Dís hoekom soetrissies goed is vir jou

Soetrissies is ʼn fantastiese bron van vitamien C en hou ook talle ander gesondheidsvoordele in.

Hannatjie en Francois Fouché boer al 20 jaar lank buite Naboomspruit met soetrissies en hulle sê dié vrug het ʼn spesiale plek in hul harte.

“Francois sê altyd ‘as jy ʼn soetrissie verstaan, kan jy ʼn vrou ook verstaan’,” sê Hannatjie. “Dit is ʼn baie moeilike vrugsoort om aan die groei te kry, want dit is sensitief vir die klimaat en water.”

Volgens Hannatjie is die beste soetrissies om in ʼn winkel te koop dié met ʼn dik wand en wat wel nog ʼn stingel bevat. “Hoe swaarder die soetrissie, hoe beter, want dit sal dan langer vars bly,” sê sy.

Sy sê soetrissie was voorheen ʼn nisproduk en baie mense het nie daarvan gehou nie, maar dit raak nou ál meer bekend en gewild.

Hannatjie vertel haar kinders eet die soetrissies soos appels (Foto: Verskaf)

“Wat baie mense nie weet nie, is dat groen soetrissies eintlik nog nie behoorlik ryp is nie; dis ook hoekom die rooi en oranje soetrissies soeter is, omdat die vrug al heeltemal ryp is.”

Sy vertel dat hulle al sap uit soetrissies gemaak het, roereier daarin bedien het, of dit sommer net so soos ʼn appel in die kweekhuis verorber.

Hier is van die gesondheidsvoordele van soetrissies:

  • Bevat baie vitamien C wat sorg vir ʼn sterk immuunstelsel
  • Help met oog- en siggesondheid
  • Rou soetrissies help veg teen anemie
  • Bevat baie anti-oksidante
  • Kan jou risiko op kroniese siektes verlaag
  • Rooi soetrissies kan jou help om beter in die nag te sien
  • Groen soetrissies kan help teen asma
  • Soetrissies bevat baie kalsium, wat help om bene en tande sterk te hou

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.