Soorte resepte:

‘Dit gaan oor porsiebeheer’, meen dieetkundige


hilda2

Hilda het by Maroela Media kom kuier. Foto: Adéle Changuion

Die resepteboeke wat Hilda Lategan al gepubliseer het kan ʼn boekrak vol staan. Ondanks die magdom resepteboeke wat beskikbaar is – en ʼn mens sou dink dat dié mark al versadig is – bly uitgewers vir Hilda vra vir haar resepte.

Sy werk sedert 1975 as dieetkundige in verskeie vertakkings van die beroep en praktiseer tans as terapeutiese dieetkundige in Pretoria. “Ek het aanvanklik begin om resepte te ontwikkel omdat daar ʼn behoefte daarvoor was by pasiënte wat graag riglyne wou hê,” sê sy.

Hilda neem bestaande resepte en ontwikkel dit só dat ʼn mens nie net lekker eet nie, maar dat die kos ook voedingswaarde het. Sy lees baie wyd en toets self elke resep voordat dit gepubliseer word. ”As ek byvoorbeeld aan ʼn bobotieresep werk, dan sal ek drie of vier boeke om my hê. Ek werk ook met ʼn voedingstof-analiseprogram wat presies sê waar die vet en koolhidrate vandaan kom, en op dié manier kan ek die resep verder ontwikkel.”

As dieetkundige is Hilda gefokus op gesonde kos, maar omdat sy ook ʼn liefde vir kos het, sê sy dat kos ook lekker moet wees. “Al van kindsbeen af was ek baie lief vir kosmaak. Ek het ʼn wonderlike ma gehad wat meer van tuinwerk en naaldwerk gehou het as kosmaak. Sy het altyd vir ons goeie kos gegee, maar as ons snaakse goed wou probeer, het sy gesê ons moet dit self doen. Ons kon die resep uitprobeer – ons moes haar net sê wat ons nodig het, en natuurlik seker maak die kombuis is weer skoon.”

En die geheim vir gesond eet? Hilda sê dis nie nodig om jouself te weerhou van suiker nie want dit is gewoonlik nie volhoubaar nie. ”Vir my is dit belangriker om vir mense van porsiebeheer te leer. Jy moet leer dat jy ʼn koekie uit ʼn koekblik kan haal en die deksel terugsit, in plaas daarvan om die hele blik leeg te eet.”

Haar boeke fokus op maklike resepte wat enigiemand kan maak.

Hilda se jongste resepteboek, Uitpakkos, het die Gourmand-toekenning ontvang in die kategorie “maklike resepte”. Dié toekenning is vir kosboeke wat ’n Oscar vir ’n rolprent sal wees. Die Gourmands word toegeken deur die World Cookbook Fair, wat weer ’n vennoot is van die bekende boekeskou in Frankfurt. Hierdie jaar word die algehele wenners aangewys tydens ’n glansuitstalling van 28 tot 31 Mei in Jantai, China.

Luister na die podsending om Hilda se wenke te hoor oor hoe om kos te maak wanneer jy eenvoudig net nie tyd het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.