Soorte resepte:

Drankverbod inspirasie agter nuwe Pta-restaurant

Moonshine Menlyn se deure is nou amptelik oop. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Restaurant-eienaar Estiaan Joubert se sakeondernemings is soos talle ander die afgelope jaar weens die Covid-19-pandemie tot op hul knieë gedwing.

Suid-Afrika se drankverbod en gevolglik onwettige alkoholverkope in die inperkingstyd het egter gedien as die hoofinspirasie vir Moonshine Menlyn, Joubert se splinternuwe restaurant by Time Square in Menlyn, Pretoria.

Die woord moonshine kom natuurlik uit die Amerikaanse drankverbod-era, toe die VSA ʼn landwye grondwetlike verbod op die vervaardiging, invoer, vervoer en verkoop van alkoholiese drank ingestel het. Tussen 1920 en 1933 kon distilleerders dus hul kuns slegs onder die maanlig beoefen.

Joubert, ʼn regsgeleerde en eienaar van Salsa Mexican én Vovo Tello by Loftus Park in Pretoria, sê hy wou met sy jongste eetplek wegbreek van franchises en die geleentheid kry om sy eie unieke stempel af te druk.

Estiaan Joubert, eienaar van Moonshine Menlyn, en sy vrou, Talitha. (Foto: Verskaf)

Hy het tydens die pandemie die idee vir Moonshine Menlyn gekonseptualiseer en die spyskaart én dekor put inspirasie uit die sakeman se tyd in die VSA.

“Ek het my MBA-kwalifikasie in Amerika behaal en is blootgestel aan ʼn wye verskeidenheid van kossoorte. Die New York-pizzastyl, Texas-barbeque en Meksikaanse kos was van my gunstelinge en ek het net gevoel dat dit nog nooit ordentlik in Suid-Afrika vlamgevat het nie.”

Daarom bestaan Moonshine Menlyn se spyskaart uit ʼn verskeidenheid van disse wat dié kossoorte kombineer.

“Mense dink braai en Amerikaanse barbeque is een en dieselfde ding, maar die gaarmaakproses verskil baie en ek wou vir Suid-Afrikaners die geleentheid bied om dit hier ook te ervaar en geniet.”

Vir peuselhappies kan gaste onder meer uitsien na hoendervlerkies, macaroni-en-kaas-bolletjies, Texas-styl-ribbetjies, taco’s, nacho’s of ʼn trio van klein hamburgers.

Hoofgeregte sluit ʼn verskeidenheid van eg New York-styl-pizzas, met hul kenmerkende dun, dog sagte en buigsame kors, asook ʼn verskeidenheid van hamburgers en seekos in.

Vleisliefhebbers kan uitsien na verskillende vark- en beesvleisdisse, wat oor ʼn oop vlam of rookbraai gaargemaak word, met bykosse soos kaasbedekte aartappelskyfies, gevulde aartappels, mieliebrood, koolslaai en vele meer.

Vir peuselhappies kan gaste onder meer uitsien na Texas-styl hoendervlerkies. (Foto: Verskaf)

Souse word ook nie in bottels of blikke vervoer nie, maar in die Moonshine Menlyn-kombuis opgetower, aldus die restaurant se uitvoerende sjef, Wessel van Jaarsveld.

Kliënte kan hul soettand met eg Amerikaanse nageregte soos ʼn kiwi-lemmetjie-tert, New York- gebakte kaaskoek of oliebol (met net ʼn knertsie witblits) bevredig.

ʼn Lang lys van skemerkelkies bied verligting vir ʼn droë keel en volgens Joubert moet die “Moscow Mule”-drankie heel eerste geproe word.

Dié nuutste Time Square-toevoeging pronk op die hoek van Aramistlaan, binne stapafstand van die SunBet Arena – wat vanjaar gasheer vir geleenthede soos Afrikaans is Groot, Mej. Suid-Afrika, asook internasionale name soos One Republic en The Lumineers gaan wees.

“Moonshine is daarom juis die ideale plek vir ʼn pre- of post-konsert-skemerkelkie of -maaltyd,” sê Joubert.

Hoofgeregte sluit ʼn verskeidenheid van eg New York-styl-pizzas in. (Foto: Verskaf)

Daar sal egter in die restaurant self ook gereeld ʼn verskeidenheid van regstreekse musiek wees, van platejoggies en akoestiese Afrikaanse musiek, tot jazz. “Daar is nie eintlik meer baie restaurante in Pretoria waarvoor mense ‘opdress’ as hulle uitgaan nie en bitter min wat regstreekse agtergrondmusiek speel. Ons wil vir ons kliënte ʼn meesleurende ervaring bied,” sê Joubert.

Die restaurant se moderne, dog outentieke dekor weerspieël ook die vermenging van sy Texas- en New York-invloede en sy stoep bied die perfekte uitsig op die Pretoriase sonsondergang.

Moonshine se deure is middel Julie tydens ʼn spoggerige geleentheid voor ʼn uitgesoekte gehoor van bekendes, invloedrykes en smaakskeppers geopen. “Ons was baie geseënd dat die masker-regulasies verander het kort voor ons oopgemaak het. Mense kon die ervaring ten volle geniet,” meen Joubert.

“Ná twee jaar wat Covid-19 ons bedryf in ʼn wurggreep gehad het, is dit lekker om weer asem te kan haal. Ek glo Moonshine gaan dié plek wees om te kuier in Pretoria.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.