Soorte resepte:

5 redes om meer melk te drink

(Foto: Verskaf)

Ons word van kleins af geleer dat melk goed vir jou is – dit is ook geen wonder dat dit ʼn stapelvoedsel vir babas en jong kinders is nie. Die voordele van melk en suiwel stop egter nie by kinders nie, en werkende volwassenes kan groot voordeel (en energie) trek uit ʼn lekker glas melk.

“Melk is ʼn bron van goeie gehalte proteïene, natuurlike suiker, ʼn verskeidenheid vette en mikro-nutriënte wat ʼn gesonde immuunstelsel ondersteun. Suiwel is nutriëntryke kosse wat gerieflik is om te gebruik enige tyd van die dag. Dit sluit melk, kaas en jogurt in,” sê geregistreerde dieetkundige Mareta Vermaak.

Vermaak gee vyf redes waarom melk goed is vir jou:

Energie vir ʼn besige dag

Melk lewer natuurlike produkte wat maklik ingeneem en geabsorbeer kan word deur die liggaam. Vitamien B12 help met jou metabolisme en om jou energie te gee vir ʼn besige dag.

Die proteïene in suiwelprodukte bied jou al die nodige aminosure wat nodig is om liggaamsweefsel te herstel en bou. Hierdie aminosure kan nie self deur die liggaam vervaardig word nie en moet deur proteïen-ryke kosse ingeneem word.

Melkproteïene hou jou ook versadiger vir langer vir besige werksdae waar jy nie tyd het om tussenin te peusel nie.

Dermgesondheid

Suiwelprodukte wat gefermenteer is, soos jogurt, maaskaas en kefir, bied probioties-aktiewe bakterieë wat jou dermgesondheid en algemene gesondheid help.

Sterk immuniteit vir ʼn aktiewe leefstyl

Deur ʼn gebalanseerde dieet te volg, saamgestel uit ʼn verskeidenheid van voedselgroepe, help jy jou liggaam om ʼn sterk immuunstelsel te bou. ʼn Sterk immuunstelsel help jou weer om ʼn produktiewe en aktiewe leefstyl te kan volhou.

Proteïene, vitamiene A en sink is veral voordelig vir ʼn sterk immuunstelsel, en dit kom in baie suiwelprodukte voor.

Beter slaapgehalte

Dit is waar dat ʼn glas warm melk jou kan help om beter te slaap. Hoë stresvlakke meng gereeld in met ons vermoë om goeie gehalte slaap in te kry. Melk bevat die aminosuur triptofaan, wat kan help om meer serotonien vry te stel en dit help met ontspanning.

Bekostigbare voedingswaarde

Melk en suiwelprodukte is ryk in nutriënte wat beteken dat jy nie baie daarvan nodig het om ʼn verskil in jou gesondheid te maak nie. ʼn Maaltyd kan maklik gesonder gemaak word deur ʼn suiwelproduk in te sluit. Dit sal jou langer versadig hou, help om jou gesond en sterk te hou, én jou sak pas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jack Russ1

Wat van gebreekte bene? Lande met die hoogste suiwel verbruik het die meeste heup vervangings ens. Die ligaam gebruik kalsium om die sure van dierprodukte af te breek.

Suiwel dra ook by tot verskillende soorte kanker.

Cholesterol en versadigde vette.

Dit is ook vol antibiotikas.

Vererger aknee.

En dan is die mens ook die enigste wat ‘n ander se melk drink.

Stof

Soos die begroting toelaat, is daar altyd volroom melk in my yskas. Melk is so onmisbaar. Elke gebak het melk in. Koffie sonder melk is maar net nie dieselfde nie. En dan, is daar melksjokolade, voortreflik, verleidelik. Sou die werkdag lank word, is daar niks soos ‘n boksie suurmelk om weer die oemf terug te sit nie. En wat is die lewe dan sonder umkomasi?
Ek eer vir Blommetjie en haar kudde.