Soorte resepte:

Annelien se kombuis: Pynappel-en-gemmerbier

Pynappel-en-gemmerbier (Foto: Annelien Pienaar)

Hierdie bier word met afvalstukke pynappel gemaak en die natuurlike fermentasie lewer ’n bier met redelike skop. Geen kommersiële of brouersgis word in hierdie resep gebruik nie. Die natuurlike mikrobes van die vrug en die suiker lewer ’n wonderlike bruisdrankie.

Om hierdie drankie aan te vul voeg ek gemmer by om teen die winterkoue se verkoue en griep te baklei.

Annelien Pienaar is ‘n voedselwetenskaplike en skrywer van die bekende resepteboek en blog Boerekos met ʼn twist.

Notas

  1. Fermenteer teen niks warmer as 23 °C nie. Die bier sal binne ’n kort tydjie baie suur word.
  2. Steriliseer alle toerusting wat jy gebruik (bottels, proppe, lepels, siffies en alles wat aan die bier raak) deur dit in warm soutwater te kook en dan vir 15 min in ’n oond teen 120 °C te verhit.

Lewer 1,5 ℓ

Bestanddele

  • 1 pynappel, alle skille gekap en die helfte van die pynappel gepuree vir die bier (die ander helfte kan slaai word).
  • 200 g gemmer, gerasper
  • 200 g (1 k) klewerige suiker. Dit móét treacle-suiker wees want hier het jy die onverwerkte produk se mikrobes nodig om fermentasie aan te help. Ander verfynde suiker is te veel verwerk.
  • 1 ℓ water, gebottel as jy nie seker is van die suiwerheid van die water nie. Water met hoë chloor-vlakke sal die fermentasie negatief beïnvloed en vertraag.
  • 1 kaneelstokkie
  • 3 kruienaeltjies
  • 2 e suurlemoensap

Metode

  1. Plaas pynappel- en gemmerstukke, water, suiker, kaneel, kruienaeltjies en suurlemoensap in ’n glasfles. Meng sodat die suiker kan oplos. Nie al die suiker sal oplos nie, maar moenie bekommer nie.
  2. Bedek die opening met ’n kombuislappie sodat dit kan asemhaal en fermentasie kan begin. Hou die lappie in plek met ’n rekkie want die muggies gaan wil intrek. Dit is ’n baie goeie teken as muggies wil kuier in jou kombuis want dan is daar sommer baie goeie mikrobes in jou huis.
  3. Laat die fermentasie begin vir 24 uur. Jy sal ’n wit skuim opmerk en dit moet afgeskep word anders word die bier suur.
  4. Fermenteer nog 24 uur en proe dan of dit vir jou smaaklik is. Jy kan dit vir nog ʼn paar uur laat fermenteer, maar slegs tot 36 uur, anders begin jy asyn maak. Hier is die wonderlike ding van hierdie resep. As jy dalk per ongeluk oor die tyd gaan en dit word tog suur kan jy dit net laat om verder te versuur en dan daarvan pynappel-asyn maak.
  1. Dreineer die stukkies en bottel die bier in ’n glasbottel met ’n prop wat dig pas en hou in die yskas vir 4 weke.

Besoek Annelien Pienaar se webtuiste en Facebook-blad. Vul jou besonderhede hier in om die resep in PDF-formaat te ontvang.

  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.