Soorte resepte:

Brou só die perfekte koppie tee op internasionale teedag

Argieffoto. (Foto: Unsplash)

Verlede jaar het Maroela Media berig oor die konsternasie wat ʼn TikTok-gebruiker op dié videoplatform veroorsaak het toe sy onthul het hoe sy ʼn koppie tee maak.

Die vrou, wat haarself as “ʼn Amerikaner wat in die Verenigde Koninkryk woon” beskryf, het haar metode vir “warm tee” op TikTok gedeel, wat teeliefhebbers met afgryse vervul het.

Michelle, met die gebruikernaam @jchelle36, verduidelik in die video dat sy daarvan hou om “baie bestanddele” by te voeg. Nie een van die bestanddele sluit ʼn teesakkie of melk in nie, maar baie suiker.

“Ek kry baie vrae oor warm tee, so ek wil vandag vir julle wys hoe dié Amerikaanse meisie van haar warm tee hou,” sê sy. “Ek meng baie bestanddele saam. Die eerste is ʼn koppie kitstee, dan twee koppies Tang (oranje poeierkoeldrankmengsel), Country Time Lemonade, een koppie suiker, nog ʼn koppie suiker, ʼn bietjie kaneel en ʼn bietjie kruienaeltjies.”

Sy meng dan die droë bestanddele saam voordat sy ʼn beker kry en water ingooi. In plaas van ʼn ketel, verhit sy die water in die mikrogolfoond. Sy voeg dan “ʼn paar teelepels” van die bisarre mengsel by die water en klits dit goed.

Internasionale Teedag – 15 Desember

Argieffoto. (Foto: Unsplash)

Yorkshire Tea, wat sedert 1977 die gewildste tradisionele swarttee handelsmerk is wat in Brittanje verkoop word, het teruggekap met ʼn nuttige gids oor hoe om die perfekte koppie warm tee te maak.

Dié teemakers se webwerf gee gebruikers die opsie om te kies of hulle tee in ʼn koppie of ʼn pot gaan maak, en verskaf dan wenke na gelang van die gekose opsie.

Sou jy besluit om dit direk in ʼn koppie te maak, is dit belangrik dat jy die water in die ketel slegs een keer kook om die suurstofvlakke in die water te behou.

“Suurstof help vir goeie geur,” lui die webwerf.

Plaas dan die teesakkie in jou koppie, gooi die kookwater oor en roer vlugtig. ʼn Tikkie geduld moet dan aan die dag gelê word, en jy moet sowat vier tot vyf minute wag vir jou teesakkie om behoorlik te trek.

“Dit gee jou genoeg tyd om ʼn koekie te eet of te dagdroom oor ʼn vakansie,” sê die webwerf.

Voordat jy die teesakkie verwyder, druk dit een keer sagkens teen die kant van die koppie met die lepel vas. Net een keer, anders sal jou tee bitter smaak, sê hulle.

“Ons hou van ʼn titseltjie semi-afgeroomde of volroom melk, maar jou brousel is uniek aan jou – so voeg melk, suiker, heuning, suurlemoen of absoluut niks by nie. Die belangrikste is om jou tee dan te geniet.”

Kyk hier hoe jy volgens Yorkshire Tea die perfekte brousel in ʼn teepot maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elinette ·

Genade, as mens dan nog aanwysings moet volg om die eenvoudigste drankie op aarde te maak …….. Gelukkig is ek nie ‘n “tea-fan” nie, maar ás ek die dag wel tee drink, is dit eerste die koppie uitspoel met kookwater, dán die melk ingooi, dan kookwater byvoeg, gevolg deur een teesakkie, 2 minute laat “trek” en heel laaste versoeter byvoeg en báie effens ‘roer’.

Kobus ·

Dankie maar nee dankie. Klink vir my die tee gaan erger as koffie wees. Ek verkies my teesakkie en melk eerste en dan kookwater. Nie te sterk nie. Tee wat te sterk is is niks lekker nie. Persoonlike smaak is al wat tel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.