Soorte resepte:

Dié melk moet kinders nie drink nie, sê studie

(Foto: Unsplash)

Meeste kinders onder die ouderdom van vyf moet plantgebaseerde melk vermy, volgens nuwe gesondheidsriglyne oor kinders se drinkgewoontes.

Dié nuwe riglyne kom van ʼn paneel van verskeie gesondheidsorganisasies soos die akademie van voedingswaarde en dieetkunde, die Amerikaanse akademie van pediatriese tandheelkunde, die Amerikaanse akademie van pediaters en die Amerikaanse hartorganisasie.

Kinders moet ook nie dieetkoeldrank, gegeurde melk en suikerbelaaide drinkgoed drink nie. Hoeveel sap hulle drink, moet ook beperk word, sê dié riglyne.

Plantgebaseerde melk sluit melk in wat afkomstig is van rys, kokosneut, hawermout en ander mengsels, met die uitsondering van gefortifiseerde sojamelk. Dié melkvariasies bevat nie die belangrikste voedingstowwe wat nodig is vir vroeë ontwikkeling nie.

“In die laaste vyf tot tien jaar was daar toenemende belangstelling in plantgebaseerde melk. Al meer ouers begin dié soort melk te verkies om verskeie redes en daar is ʼn wanpersepsie dat dit dieselfde is as koeimelk of suiwelmelk, maar dit is nie die geval nie,” het Megan Lott, die adjunkdirekteur van Healthy Eating Research, wat gehelp het om die riglyne saam te stel, aan BBC gesê.

Sy het gesê vorme van meeste plantgebaseerde melk bevat nie die belangrike voedingstowwe soos vitamien D en kalsium, wat kinders in die verskillende belangrike ontwikkelingsfase benodig nie.

“Die riglyne maak wel uitsondering vir kinders met suiwelallergieë of met laktose-intoleransie, wat religieuse reëls het of wat in ʼn huis woon waar ʼn vegan dieet gevolg word. In so ʼn geval moet die ouer met ʼn dieetkundige of pediater gaan praat,” het Lott gesê.

Behalwe daarvoor dat dié nuwe riglyne ouers waarsku oor plantgebaseerde melksoorte, word ander drankies ook uitgesonder wat liefs van kinders weggehou moet word. Dié drankies sluit lae-kilojoule drankies en drankies met geen kilojoules in.

“Ons vind meer en meer kunsmatige versoeters word aan kinders bemark. Daar is nie navorsing oor die onderwerp wat toon dat dit kinders kan leed aandoen nie, maar daar is ook nie navorsing wat wys dat dit veilig is nie,” het Lott gesê.

(Foto: Unsplash)

Gaskoeldrank, suikerbelaaide drankies, versoete drankies en gegeurde melk moet ook nie op die spyskaart wees vir kinders jonger as vyf jaar oud nie. Lott het gesê dit is in dié stadium van kinders se lewe waar hulle smaakvoorkeure ontwikkel, so dit is belangrik om gesonde eet-en-drinkgewoontes vroeg te kweek.

Wat sap betref het Lott gesê kinders jonger as een moet glad nie sap drink nie, terwyl kinders van een tot drie jaar oud nie meer as ʼn halwe koppie sap per dag moet drink nie. Kinders wat tussen vier en vyf jaar oud is moenie meer as ¾ koppie per dag drink nie.

Wat moet kinders drink?

MELK

0 tot 12 maande: Babas het slegs borsmelk of formulemelk nodig. Wanneer hulle ses maande oud is, kan hulle klein hoeveelhede water ook begin drink.

1 tot 2 jaar: Twee tot drie koppies volroommelk per dag.

2 tot 3 jaar: Nie meer as twee koppies afgeroomde of laevet melk per dag nie.

4 tot 5 jaar: Nie meer as 2½ koppies afgeroomde of laevet melk per dag nie.

WATER

6 tot 12 maande: ½ koppie per dag.

1 tot 3 jaar: Een tot vier koppies per dag.

4 tot 5 jaar: 1½ tot vyf koppies per dag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

magda ·

as ons alles moet glo wat die “studie” uitdink was ons almal al dood …. ons het water uit die tuinslang gedrink en melk direk uit die koei se speen – en ek is spek vet en gesond … Mense wat dink hulle is so slim is gewoonlik nie so slim nie :)

Ronel ·

Ek stem heelthartig saam. Ek het deels op ‘n plaas gtootgeword en was melktyd altyd by die stalle. Daar is altyd ‘n blikbekertjie met vuurwarm melk vir my uitgehou en dan het die plaaswerkers lekker gelag vir my melksnor. Groente is sommer so van die land af, rou geëet en vrugte in die loop tussen boorde geëet. Dit alles terwyl ek Ouma se gumboots gedra het wat amper tot onder my arms gekom het. So by the way. Dit het alles gebeur tot op die ouderdom van 10. Met my gesondheid skort daar niks en eks al oor die 40 met nog geen stopsel en nog nooit ‘n been gebreek nie.
Later jare het ons met ons fietse na die melkerye toe gery met ons fietse en emmertjies so aan die handvatses gehak om daar vars melk te gaan koop.

Liza ·

Se dit al lankal, vandag se foefies met melk is algehele gemors. Ek en my sussies het die sterkste en gesondste tande en bene as gevolg van volroom melk direk van die melkery, ons het sommer onder die koei gele en drink… Bid jou aan – plantgebaseerde melk??? lol!

AndrewL ·

Moet ‘n kind enigsins gestraf word met laevet of afgeroomde melk?

Niki ·

Wou presies dieselfde vraag vra…

Volroom (direk van die plaas af) is die gesondste, nou wil hulle weer kom karring met afgeroomde en laevet melk.

Ek steur my in elk geval nie meer aan studies nie, doen my eie navorsing met my gesonde verstand waarmee ek geseën is.

Enigste navorsing wat ek spyt is wat ek nie gedoen het nie, was oor suiker inname van kinders 18jr gelede. Spyt kom altyd té laat, maar met ouderdom kom wysheid.

@Niki ·

Ek stem saam Niki, alhoewel nie met die artikel iets te doen is ek ook spyt soos jy sê, dat ek my ore uitgeleen het vir slim medici wat gesê het lae dosis antibiotika vir aknee het geen (haha) newe effekte, vandag sukkel hulle almal met ‘n immuniteit komplikasies.

Dirk ·

Ek onthou nog toe studies bevind het rooibos tee is ongesond. Later het studies bevind dis gesond.

SandraF ·

Ongelukkig het lae vet en afgeroomde melk ontsaglik baie suiker in. Verstommend dat die regering dit toe laat. Vol room melk het minder suiker in maar sien ook dit vermeerder oor die laaste maande. Hulle bring suiker belasting in pleks dat hulle al die suiker stop wat in meeste produkte voorkom.

Suikelkundige ·

@SandraF waar kry jy hierdie inligting? Geen suiker word by varsmelk gevoeg nie? Die suiker in melk is laktose wat natuurlik daarin voorkom . Al verskil tussen volroom (> 3.3 – 4.5%) en laevet melk (> 0.5 – 1.5) is die vetinhoud.

Suzette ·

Genade, dan moet ek mos nou dodelik siek wees, so ook my kinders. Ek is basies met beesmelk groot gemaak van geboorte. My pa het kanker gehad toe ek gebore is en vir my eerste nege maande het ek by my peetouers gebly tot my pa oorlede is. Beesmelk was al uitweg. Daar was nie geld vir blikmelk nie. Toe ek groter word, was daar altyd met etes melk op die tafel en glo my, somtyds was die yskoue melk op somersdae baie meer aanlokliker as die warm bord kos en is daar sommer 2 en 3 glase gedrink op ‘n slag. My kinders is op 3 en 6 maande van borsmelk, direk op beesmelk. Vandag is almal van ons perkfris en gesond. Nee wat, drink steeds vars plaasmelk, glase vol en steek navorsing in die keel.

Dorothy ·

Ons het groot geword met kondensmelk in die yskas. Met twee gate in die blik. Ons het die hele blik uigesuig.
Niemand van ons loop krom en het been breuke nie.

Anna ·

Ek aanvaar plantgebaseerde melk verwys na coconut melk, sojamelk, amandelmelk, rysmelk en so aan. Nie koeimelk nie. Almal wat vertel hoe gesond hulle grootgeword het met melk direk uit die koei uit is reg en inlyn met die studie.
Ongelukkig is meeste melk in die winkels nie meer vars of suiwer koeimelk nie, al sê dit so op die boksie of bottel, dis alles behandel en verwerk op een of ander manier. Stad kinders kan nie grootword soos julle nie, al het hulle ouers die beste bedoelinge.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.