Soorte resepte:

Ek sê Syrah; jy sê Shiraz

Edmund Terblanche, keldermeester by La Motte en voorsitter van Shiraz SA. (Foto verskaf)

Nasionale Shirazdag word op 21 Augustus gevier en dit skop ook die Seven Days of Shiraz & Venison af. Elke plaas wat shiraz maak, stel hul eie program hiervoor saam en die publiek kan lekker saamkuier oor wildsvleis en shiraz wat sulke goeie pasmaats is. Hoe dit ookal sy, shiraz is al vir bykans 100 jaar een van Suid-Afrika se gunstelingrooiwyne, skryf Maryke Roberts.

Gaan soek jou vingers die klawers op jou toetsbord, gaan Internasionale Shirazdag van 16 Februarie eerste hand opsteek. Maar Nasionale Shirazdag op 21 Augustus is trots Suid-Afrikaans.

Soos Edmund Terblanche, voorsitter van Shiraz SA − die amptelike liggaam wat die bevordering van dié druifsoort in Suid-Afrika ten doel het − verduidelik: “Die internasionale datum is gekies vir die noordelike halfrond se winter. Februarie is hoog somer hier by ons en shiraz smaak nie op sy beste as dit 40 ˚C is nie. Augustus is die perfekte tyd vir shiraz en daarom het ons in 2021 besluit om ons eie nasionale dag te vier.”

Shiraz SA is in Augustus 2008 tot stand gebring met 25 lede en het vandag meer as 220 individuele lede. Al Suid-Afrika se wynroetes is ook lede.

Edmund is ook die keldermeester by La Motte en van shiraz is daar bitter min wat jy hom kan vertel. Hy is immers al vir 20 jaar wynmaker en sy shiraz het al van die land se voorste pryse ingepalm. Ek wou aanvanklik ʼn paar uitsonder, tot ek die A4 folio onder oë gehad het en besef het die landgoed spog met nie minder nie as 42 internasionale toekennings en ʼn gros 4 of 4.5 Platter-sterre! Die Syrah-Viognier-versnit spog met dubbel soveel.

Deur die jare was daar baie weergawes oor die oorsprong van shiraz of syrah – net soos jy verkies. Shiraz SA het nie verniet ʼn slagspreuk: “I say Syrah: You say Shiraz” nie. Maar ons kom nog daarby.

Eers is daar geglo dat shiraz sy oorsprong in antieke Persië (die hedendaagse Iran) in die dorp Shiraz gehad het. Ander volksverhale het vertel dat dit in ongeveer 560 voor Christus van die Midde-Ooste na Marseille, Frankryk, gebring is. Een van die teorieë was ook dat Romeinse legioene uit Egipte dit na Syracuse op die eiland Sicilië gedra het en nog een dat dit sy weg na Frankryk gevind het deur kruisvaarders van Siprus, wat in die 13de eeu uit die Midde-Ooste teruggekeer het.

Deur die jare was daar baie weergawes oor die oorsprong van shiraz of syrah – net soos jy verkies. (Foto verskaf)

Dis egter op Shiraz SA se webwerf wat die ware verhaal vertel word: “Bogenoemde blyk egter niks anders as romantiese verhale te wees nie, want in die laat 90’s is bewys dat shiraz eintlik in Frankryk ontstaan ​​het.

“Die wingerd-identifikasiekenners, Carole Meredith, ʼn professor aan die Universiteit van Kalifornië in Davis, en Jean-Michel Boursiquot van L’Ecole Nationale Superiore Agronomique de Montpellier, het deur middel van DNS-toetse bewys dat shiraz, ʼn kruising van twee obskure Franse variëteite, dureza en mondeuse blanche is. Eersgenoemde is inheems aan die Ardéche en laasgenoemde aan die Savoie.”

Dié bevinding maak hulle in 2001 by ʼn konvensie van die American Society of Enology and Viticulture.

Edmund vertel dis nie bekend hoe shiraz Suid-Afrika bereik het nie. “Dis dalk in dieselfde tyd toe James Busby in 1840 plantmateriaal na Australië geneem het. Hy het blykbaar op pad by Kaapstad aangedoen. Die eerste bevestiging dat dit geplant is, was aan die einde van die 1890’s in die wingerde van Groot Constantia in Kaapstad. Dit was egter Australiese-entings.

“In 1935 is 15 shiraz-wyne vir die Suid-Afrikaanse Wynskou in Kaapstad ingeskryf. Hiervan was 12 soetwyne. Daar word geglo dat shiraz in hierdie tye meer gewild geword het, vanweë sy vermoë om wyn van goeie gehalte teen hoë opbrengste te produseer. Dit is nie ʼn moeilike druif om óf te verbou óf te vinifiseer nie en is aanpasbaar by ʼn verskeidenheid terreine en behandelings.

Vanjaar se beoordelingspaneel vir die 10de Shiraz-top-12-uitdaging het onder voorsitterskap van Charles Hopkins, De Grendel keldermeester (heel regs) gestaan en Riaan Möller, keldermeester van MAN Vintners en ondervoorsitter van Shiraz SA, Terry-Ann Klink − Kaapse Wynmakersgilde Protégé, Higgo Jacobs, sommellier, Cathy van Zyl, Britse Wynmeester, Frans Smit, Spier HUB en veteraan-wynmaker, ingesluit. (Foto verskaf)

Hy vertel voorts dat die Suid-Afrikaanse wynbedryf toe reeds ʼn lang tydperk betree het, waar distillasie die antwoord op alle probleme was. Dit het veilig geword om ʼn variëteit te plant, wat ook in tye van oorproduksie gedistilleer kon word.

“Shiraz het hiervoor gewerk, maar dit het sterk mededinging van ander variëteite soos chenin blanc, semillon en cinsaut gehad.”

Maar lank voor shiraz een van ons land se geliefste rooiwyne geword het, maak ʼn jong paartjie geskiedenis op die Bellingham-wynlandgoed in Franschhoek. Bernard en Fredagh Podlashuk koop die afgeleefde plaas in 1943 en begin in alle erns om die historiese herehuis te restoureer en tot sy voormalige glorie te herstel. Die plaas dateer uit 1693.

Ná reise na Duitsland en Frankryk, waar hulle uitgebreide wynnavorsing doen, vestig hulle weer wingerde op die plaas en stel in 1949 die Kaap se eerste rosé vry; toe die eerste Premier Grand Cru in 1951 en skaars vyf jaar later die land se eerste enkel-kultivar shiraz in 1956.

Dit was dus heel gepas dat in 2021 – 65 jaar ná daardie historiese dag – die eerste viering van Nasionale Shirazdag op 21 Augustus ingestel is. En watter lekker rede om op daardie dag jou glas met een van die land se bekroonde shiraz-wyne te vul.

Vandag kan jy steeds by Bellingham Wines die wynreeks wat hulde aan Bernard Podlashuk bring −  The Bernard Series − geniet. Dit bestaan uit vier wyne: ʼn Old Vine Chenin blanc, Pinotage, Syrah en The Maverick S.M.V (ʼn shiraz-gedrewe versnit met mourvèdre en viognier).

Die top 12 Shiraze in vanjaar se 10de Shiraz-top-12-uitdaging. (Foto verskaf)

Edmund sê daardie geskiedkundige bottel Podlashuk-Shiraz was die eerste stap vir shiraz na ʼn kwaliteitroete.

“Groot Constantia volg in 1963 en Klawer Kelder in 1965. Daar was nie baie inspirasie vir hierdie variëteit in daardie dae nie. ʼn Mens moet onthou dat daar in 1960 net 60 ha syrah in Frankryk was. (Vandag sowat 70 000 ha). In 1968 was daar net 10 shiraz-wyne in Suid-Afrika. In die 70’s het die gewildheid van hierdie druif dramaties in Frankryk toegeneem. Die Rhone-wyne is erken as ʼn hoë kwaliteit alternatief vir die duur Bordeaux-wyne.

“Suid-Afrikaanse produsente het gevolg met ʼn stadiger − maar merkbare − momentum. Teen 1992, toe die kwotastelsel in Suid-Afrika gedereguleer is en ʼn hele nuwe era begin het, was daar 50 shiraz-produsente en sowat 900 ha aanplantings in Suid-Afrika − minder as 1 % van alle aanplantings. Dit was genoeg om die aandag te vestig op die opwindende alternatiewe smaak van shiraz,” vertel hy.

Edmund sê shiraz het soortgelyke rypwordingsvlakke as cabernet sauvignon, die ander gewilde variëteit vir kwaliteit wyne in hierdie tyd; dit produseer wyne met sagte tannine en toeganklikheid kort ná produksie. Die oplewing was op die punt om te begin. Teen 2001 was daar 105 produsente van shiraz en 7 200 ha. In 2004 was daar 230 produsente en sowat 9 000 ha. In onlangse jare het hierdie tendens gestabiliseer.”

Vandag pryk daar 280 shiraz-versnitte en meer as 700 shiraz-wyne in die Platter’s-wyngids.

Volgens die Old Vine Project (OVP)-statistiek, is daar tans 32,27 ha ou shiraz-wingerde in Suid-Afrika. Dis 13de op die lys van 47 kultivars. Wingerde wat ouer as 35 jaar is, kan deel word van die projek. Twee lede van die projek produseer shiraz, Muratie Landgoed met Ronnie Melck Family Selection Syrah, en Super Single Vineyards met Voorloper Syrah.

Die OVP is die enigste sertifiseringsprojek van sy soort in die wêreld en spog met ʼn Certified Heritage Vineyards-seël wat lede op hul wyne se bottelnek kan aanbring.

Die OVP poog om van wingerde, wat reeds 100 tot 122 jaar oorleef het, te leer oor hoe om in die toekoms te boer om klimaatskokke te probeer oorleef. Die OVP is in 2016 amptelik gestig, hoewel Rosa Kruger, ʼn wingerdboukundige, al sedert 2002 ou wingerde uitsonder en opteken en die stigter van die OVP is.

Die Shiraz-versnit-wenners in die 10de Shiraz-top-12-uitdaging. (Foto verskaf)

Shiraz in syfers

Volgens die jongste statistiek van die Suid-Afrikaanse wynbedryf-inligting en -stelsels (SAWIS), is daar ʼn totaal van 9011 ha shiraz in Suid-Afrika, 10% van die land se totale wyndruif-hektare. Shiraz kom in bykans al die wynstreke voor, maar die Paarl (2 110 ha), Swartland (1 993 ha) en Stellenbosch (1 826 ha) loop voor met totale hektaar.

5. Muratie is een van slegs twee lede van die OVP-projek wat shiraz produseer. Die Ronnie Melck Family Selection Syrah is afkomstig uit ʼn blok wat in 1977 geplant is. (Foto verskaf)

Die grootste gedeelte van Suid-Afrika se Shiraz-wingerde in hektaar is 16-20 jaar oud, met ouer as 20 jaar in die tweede plek.

Edmund sê Suid-Afrikaanse shiraz se diversiteit bly die element wat dit vir kopers plaaslik en internasionaal, interessant maak. “Ons maak aantreklike wyne oor die hele prysklas. Mense kry goeie waarde vir geld in die onderste prysklasse en van ons duurder wyne het hulself al bewys onder die beste in die wêreld. Ons wyne vul ook die gaping tussen wat beskou word as klassiek en die wat beskou word as modern.

Baie wynliefhebbers is steeds verward oor die verskil − of nie − tussen syrah en shiraz. “Dis dieselfde druif, maar die manier waarop die wyn gemaak word, maak die verskil”, verduidelik Edmund.

Hier in Suid-Afrika kry ʼn mens beide op wyn-etikette en daar is geen reël vir die gebruik nie, maar baie kelders gee vir hul vlagskip-wyne (die meer ernstige wyne) die naam syrah.

In ʼn onderhoud op die aanlyn weergawe van die gewilde Jan-tydskrif, verduidelik Edmund as volg: “Daar is geen verskil nie. Tradisioneel gebruik Frankryk en Amerika die term syrah, en Australië en Suid-Afrika gebruik die term shiraz. Daar is mense wat probeer bewys het dat die oorsprong van die woord shiraz afkomstig is van die ou Persiese dorpie met dieselfde naam… wat later verkeerd bewys is. Maar deesdae beweer wynskrywers graag dat wynmakers die term syrah kies om hul wyn ʼn meer klassieke ouwêreldse konnotasie te gee. Klassieke wyne is tipies laer in alkohol, minder houtagtig, minder vrugtig vorentoe… maar ek veralgemeen. Aan die ander kant van die spektrum word dit meer vrugbaar, ryper, meer houtagtig, met ʼn hoër alkohol-inhoud… hierdie eienskappe word gesien as deel van die meer moderne skool van wynmaak.

“Maar namate die Franse hoër temperature begin sien, word hul wyne meer vrugbaar en hoër in alkohol – maar hulle klou aan hul klassiekheid, al is hierdie idees nie meer so duidelik nie. Sommige wynmakers glo ook werklik dat hulle ʼn klassieke wyn maak, maar as jy dit proe, is dit glad nie die geval nie. So op die ou end, of ʼn wynmaker dit syrah of shiraz noem, dit sal jou nie noodwendig lei om die regte wyn te koop nie… of ten minste wat jy verwag het om te koop nie.”

Die Britse wynmeester, Richard Kershaw, was verlede jaar een van die beoordelaars op die shiraz-paneel en noem iets interessant: “ʼn Vinnige evolusie het posgevat toe Suid-Afrika in die 1990’s toegang tot internasionale markte verkry het. Daar was baie uiteenlopende wyne – sommige beter as ander − moontlik omdat ons nie die beste kloon-seleksie gehad het of die beste begrip van shiraz gehad het nie. Baie shiraz is op armer gronde geplant; omdat shiraz geneig is om oral en maklik te groei. Maar namate nuwe aanplantings gedoen is, is al meer shiraz in die regte grond- en klimaatstoestande geplant.

“Vanuit ʼn oorsese perspektief is die aantrekkingskrag van Suid-Afrikaanse wyne die streek, wat baie verskillende interpretasies van shiraz bied. Hulle is almal briljante wyne wat elkeen op ʼn ander manier gemaak word,” verklaar hy.

6. Die shiraz-blok op Muratie wat in 1977 geplant is en waaruit die bekroonde Ronnie Melck Family Selection Syrah afkomstig is. (Foto verskaf)

Edmund sluit hierby aan en sê: “Uit my eie ervaring en ook waargeneem in die beoordeling van onlangse kompetisies, merk ek die volgende: Daar is ʼn groot persentasie wyne wat net dieselfde bly. Wynmakers gebruik die baie vrygewige elemente van shiraz om baie kleur en ekstraksie te kry en gebruik baie hout om daarby te pas.

“Waar hierdie resultate in balans is, bereik hulle dikwels groot indrukwekkende wyne en daar is ʼn plek daarvoor. Baie wynmakers verfyn dit en kry die regte houtkombinasies om hul wyne beter te maak. Die meer ondernemende en dinamiese wynmakers het die afgelope dekade meestal op drie elemente gekonsentreer: vroeër pars, verskillende houers (groter vate/ stukvate, sementtenke asook eiervormige houers van verskillende materiale) en heeltros en/ of die gebruik van stingels tydens fermentasie. Dit het nog meer diversiteit tot gevolg, as wat net die terroir vir ons gee.”

Vanjaar is die 10de Shiraz-top 12-uitdaging gehou. Die top 12-shiraz-kampioene is Bon Courage Inkará Shiraz 2020, Saronsberg Shiraz 2020, Stellenbosch Reserve Syrah 2020, Bellingham The Bernard Series Basket Press Syrah 2019, Cederberg Shiraz 2020, KWV Cathedral Cellar Shiraz 2019, Driehoek Syrah 2020, De Grendel Op die Berg Shiraz 2020, Groot Phesantekraal Syrah 2021, Fuselage Sideslip Shiraz 2021, Diemersdal Shiraz 2021 en Swartland Bush Vine Syrah 2020. Die top drie versnitte is Guardian Peak SMG 2020, Lomond Belladonna 2019 en die Bellingham The Bernard Series The Maverick 2019. Die Allée Bleue Shiraz Rosé 2022 wen die rosé-afdeling.

ʼn Nuutjie is die instelling van die Bernard Podlashuk-trofee, vernoem na die “Vader van Suid-Afrikaanse shiraz”. Die trofee, met ʼn kontantprys van R30 000, word geborg deur Bellingham. Die trofee is aan Saronsberg toegeken as produsent wat die beste presteer het oor die 10 jaar van die Shiraz-uitdaging. Volgens Edmund sal die kriteria vir die Bernard Podlashuk-trofee in die toekoms “innovasie, uitnemendheid en volhoubaarheid” wees.

Vanjaar se beoordelingspaneel het onder voorsitterskap van Charles Hopkins, De Grendel-keldermeester, gestaan en sommellier Higgo Jacobs, Britse wynmeester Cathy van Zyl, Spier HUB en veteraan-wynmaker Frans Smit, keldermeester van MAN Vintners en ondervoorsitter van Shiraz SA Riaan Möller en Terry-Ann Klink − Kaapse Wynmakersgilde Protégé, ingesluit.

ʼn Totaal van 189 inskrywings is ontvang, waarvan 7 rosé, 34 versnitte en 148 shiraz-wyne. Hiervan is sewe 2022-oesjaar rosé, versnitte van 2016-2021 en shiraz-wyne van 2013 en 2015-2021 ontvang. Die twee gewildste oesjare wat ingeskryf is, is 2020 met 54 shiraze en 9 versnitte en 2019 met 47 shiraze en 14 versnitte. Die meeste wyne was onder kurk.

Die spesiale logo van Shiraz SA om die 10de Shiraz-top-12-uitdaging te vier. (Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.