Soorte resepte:

Kerf só ʼn pad in die koffiebedryf uit

Heavenly Coffees is in Centurion geleë. (Foto: Japie van Reenen Photography)

Op enige fees- of vlooimarkterrein, of by plekke waar talle mense byeenkom soos sportgeleenthede en winkelsentrums, kan jy altyd van een ding seker wees – die handelaar wat die koffie verkoop, lag al die pad bank toe.

Koffie word nou wel in die volksmond as boeretroos geken, maar dit is een geur wat oor die wêreld heen passie en kreatiwiteit ontlok.

Vir sommige koffieliefhebbers, soos Francois en Elsabé Dreyer van Heavenly Coffees in Centurion, is koffie meer as net ʼn passie – dit is ʼn leefstyl.

Wat in 2012 as kleinsakeonderneming in die Dreyers se eetkamer begin het, is vandag ʼn onderneming wat bone, masjiene en ʼn wye verskeidenheid van bybehore verkoop.

Daar is ook ʼn koffiewinkel op die winkel se perseel in Centurion, waar heerlike koffie saam met vars tuisgebak en Belgiese wafels of ligte etes bedien word.

Heavenly Coffees spog ook met ʼn aparte fabriek waar ʼn gedugte span die koffie rooster, maal en verpak vir grootmaatverkope.

Heavenly Coffees spog ook met ʼn aparte fabriek waar ʼn gedugte span die koffie rooster, maal en verpak vir grootmaatverkope.

“Waar ons begin het met ʼn 1 kg-rooster, gebruik ons nou ʼn 15 kg-rooster met die kapasiteit om tonne koffie per maand te rooster,” sê die Dreyers.

Die Dreyers, wat klein begin het, het nie geskroom om ʼn droom na te jaag en ʼn passie in ʼn bron van inkomste te omskep nie.

“Ons het as ʼn man-en-vrou-duo begin, maar ons oudste dogter is nou voltyds een van ons werknemers en bestuur die maatskappy se vervaardiging, groothandel- en aanlyn bestellings.

“Ons het tans agt voltydse werknemers, buiten die familielede.”

Die Dreyers het die volgende raad vir passievolle koffieliefhebbers wat ook ʼn paadjie in die koffiebedryf wil uitkerf:

  • Wees bereid om ʼn groot bedrag geld in jou nuwe onderneming te belê. Die hele opset kan ‘n minimum van R300 000 kos, van koffiemasjien tot yskaste en meubels. Groter koffiewinkels kan tot R1 miljoen of meer uit die sak jaag, afhangend van hoe groot en luuks die plek is.
  • Hou in gedagte dat ʼn winkelspasie se huur jou sak kan ruk. Winkelsentrums kan ongenaakbaar wees wanneer dit kom by uitstaande huurpaaiemente, maar dit is weer goed om in ʼn besige plek te wees waar jou winkel sigbaar is en wat baie voete lok.
  • Om ʼn koffiewinkel te bestuur is harde werk en lang ure en hoë stresvlakke is deel van die onderneming.
  • Jy kan dit slegs aanpak as koffie jou passie is. As jy nie passievol is oor koffie nie, gaan jy nie genot daaruit put om jou klante te bedien nie.
  • Vir meer raad en wenke oor waar om te begin as jy ʼn pad in die koffiebedryf wil stap, besoek Heavenly Coffees se webwerf.

Besoek Heavenly Coffees se Facebook-blad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Goldy ·

Uitstekende koffie, was baie lanklaas in die omgewing maar sal weer kom draai wanneer ons in gauteng is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.