Soorte resepte:

Klink ’n glasie sauvignon blanc

Errieda du Toit en Herman Lensing. (Foto: Nickey Bothma)

Daar bestaan nie ooreenstemming oor die presiese datum wanneer die eerste sauvignon blanc in Suid-Afrika geplant is, óf wie as enkele pionier vir dié kultivar uitgesonder kan word nie, maar dis in die laat 1880’s op Groot Constantia geplant.

Daar is wel beslis ooreenstemming dat dit Suid-Afrika se gewildste druifsoort is en weer tans (6 tot 8 Mei) met ʼn wynnaweek gevier word, skryf Maryke Roberts.

Die pragtige Constantia-wynvallei aan die voet van Tafelberg, het verlede jaar Suid-Afrika se eerste kultivar-spesifieke wynroete van stapel gestuur: die Constantia Sauvignon Blanc-roete. Dit sluit tans ses landgoedere op die Constantia Wynroete in: Steenberg, Buitenverwachting, Klein Constantia, Groot Constantia, Constantia Glen en Beau Constantia.

Tog kom internasionaal bekroonde sauvignon blancs van reg oor die wynlande.

Die Sauvignon Blanc SA-vereniging is die ambassadeur vir Suid-Afrika se mees geliefde wynkultivar en vier sedert 2020 ook in Mei Internasionale Sauvignon Blanc-dag saam met die res van die wêreld.

Ed Beukes van Du Toitskloof Wyne. (Foto: Nickey Bothma)

Sauvignon blanc kom van Wes-Frankryk in die Loire-vallei en Bordeaux-wynstreke. Sauvignon blanc is met cabernet franc gekruis, om geboorte te gee aan cabernet sauvignon.

Die druif is ʼn belangrike rolspeler in baie groot wynproduserende lande, van Europa en die Ou Wêreld tot byna alle Nuwe Wêreld-lande. Die topses lande in die wêreld in terme van die oppervlak met hierdie variëteit beplant, is Frankryk, Nieu-Seeland, Chili, Suid-Afrika, Australië en Roemenië. Daar is egter nog sowat 40 lande wat ook hierdie variëteit verbou.

RJ Botha, voorsitter van Sauvignon Blanc SA. (Foto verskaf)

Danksy sauvignon blanc-wyn se skerp en verfrissende suurheid, sowel as natuurlike aromatiese intensiteit, is dit een van die gewildste witwyne wêreldwyd.

Tans het sauvignon blanc ʼn 10,7% (9 831 ha) aandeel van die totale wyndruif-aanplantings in Suid-Afrika en is dit die vierde mees aangeplante druif in die land, na chenin blanc (18,6%), colombard (11,4%) en cabernet sauvignon (10,8%). Die oppervlakte onder sauvignon blanc-wingerde het van 9,4% in 2013 tot 10,7% in 2020 toegeneem.

Dis wyd versprei oor al die wynboustreke van Suid-Afrika. Die meeste wingerde word egter in Stellenbosch (2 627 ha), Robertson (1 620 ha) en Breedekloof (1 326 ha) geplant.

Die eerste kommersiële Suid-Afrikaanse sauvignon blanc-wyn is in 1977 deur Verdun (nou Asara) geproduseer, met Backsberg en De Wetshof kort daarna.

Daar is geen enkele Suid-Afrikaanse sauvignon blanc-pioniers wat alleen uitgesonder kan word nie. Verskeie wynmakers het egter ʼn beduidende invloed op dié druif se stewige erfenis gehad. Die meeste ontwikkeling en innovasie in die wynbedryf deur enkele wynmakers het ook eers die afgelope 50 jaar gebeur, omdat wynregulasies baie streng en koöperasies die norm was. Wynplase het hulle druiwe aan kelders gelewer en min plase het wyne onder hul eie etikette gebottel.

Danie de Wet van De Wetshof in die Robertson-wynvallei, word algemeen as een van die pioniers van edele witwyne in Suid-Afrika gereken. Tot 1984 was De Wetshof die grootste enkele voorsiener van sauvignon blanc-plantmateriaal aan die Suid-Afrikaanse wynbedryf.

“My eksperiment met sauvignon blanc het groot sukses getoon. Gedurende die winter van 1973 kry ek by Desiderius Pongrácz van Nietvoorbij se sauvignon blanc-plantmateriaal – nieamptelik, natuurlik. Hierdie kan gesien word as die begin van die Sauvignon Blanc-bedryf in Suid-Afrika.

“Ek het die spesifieke materiaal – bekend as die Weerstasie-kloon – afgeënt op ʼn paar wilde stokke en in November 1974 ent ons dit toe weer af op ʼn Steen-wingerd, om sodoende die materiaal so spoedig moontlik te vermeerder.

“De Wetshof het in 1979 sy eerste 3 000 liter sauvignon blanc gemaak, en dit was ʼn pragtige wyn. Ek en my pa was behoorlik in ons noppies met hierdie eerste maak van ʼn wynkultivar wat toe nog onbekend was onder Suid-Afrikaanse wyndrinkers. In 1980 maak ons 9 000 liter en bemark dit daardie Desember vir die eerste keer onder die De Wetshof-etiket. Dit het ʼn Superieur-etiket gekry en is wonderlik ontvang.

“Die plaaslike wynskrywers het behoorlik begin skryf van hierdie nuwe vars bries wat besig is om –  danksy die beskikbaarheid van ʼn nuwe druifsoort – deur die Kaapse wingerde te waai. Die ys is gebreek vir ʼn nuwe era van wit edel-variëteite, en die mark was gereed.

“Die sukses van die sauvignon blanc-materiaal wat gepropageer is en die gehalte en gewildheid van hierdie nuwe wyn, het my geweldig geïnspireer. Dit het my vermoedens bevestig dat die enigste manier vir vooruitgang in die bedryf gelê het in die verkryging van die beste plantmateriaal en van nuwe kultivars. Op welke manier ook al,” vertel Danie.

Paul Cluver en sy pa, dr. Paul Cluver. (Foto verskaf)

In die Elgin-vallei is dr. Paul Cluver ʼn baanbreker in eie reg. Hy het wingerde aangeplant in landerye wat vir dekades as appelboorde uitvoervrugte gelewer het. Sauvignon blanc floreer daar in die koeler valleie.

Neil Ellis (Foto verskaf)

Dis bykans 40 jaar gelede wat Neil Ellis, ʼn baanbreker in terrein-identifikasie, druif-aankope uit ander streke en plekspesifieke wyne, die eerste oesjaar van sy naamgenoot-etiket gemaak het. Hy voel gevlei deur die term “baanbreker”, maar beskou homself nie só nie. “Ons het almal maar ʼn tikkie geluk in ons loopbane gehad – jy weet, regte tyd en regte plek.”

Hy vertel in 2019 vir Anton Pretorius in Wineland SA-tydskrif, dat wynbenamingsregulasies teen 1990 verander het en hy die eerste gesertifiseerde Elgin Sauvignon Blanc van dieselfde oesjaar bekendstel, uit ʼn wingerd wat in 1981 op die Whitehall-eiendom geplant is. Kort daarna, in 1991, het die Groenekloof Sauvignon Blanc van Darling sy buiging gemaak as nog ʼn eerste vir die bedryf.

Die Neil Ellis Groenekloof Sauvignon Blanc word sedertdien uit daardie selfde wingerd gemaak en het al ʼn kultusstatus opgebou.

Hy word op die webwerf van die Britste González Byass aangehaal: “Wynmaak is beide kuns en wetenskap, intellek en passie – ʼn ontmoeting van die hart en verstand.”

Hy word daar beskryf as niks minder nie as ʼn groot baanbreker vir die steeds ontwikkelende Suid-Afrikaanse wynbedryf. Sonder sy onvermoeide vasberadenheid om die Suid-Afrikaanse wynraad te kry om die belangrikheid van streeksverwysing in wynklassifikasie te erken, sou ons dalk nie die blote verskeidenheid en kaliber wyne wat vandag in die land geproduseer word, kon waardeer nie.

Die hele filosofie agter die Neil Ellis-handelsmerk is versigtige terreinkeuses om plekke te vind waar individuele druifvariëteite sal uitblink. Hy weet dat geen enkele wingerdterrein die behoeftes van veelvuldige druifsoorte kan bevredig nie en neem die praktyk van ‘plekspesifieke’ wynproduksie na ʼn heel nuwe vlak.

Hy vertel dat sy eerste kennismaking met sauvignon blanc in 1982 juis in die Constantia-vallei was. Hy onthou daardie oesjaar as besonders, omdat dit die eerste oesjaar van sauvignon in die vallei was. “Ons weet die eerste oes van ʼn wingerdstok is altyd sy beste. En boonop was die verbruikers só verras met die nuwe kultivar, dat dit van die begin af gewild was.” Neil sê die veelsydigheid van sauvignon is heel moontlik die rede vir sy gewildheid, want “wyndrinkers kry elke keer net ʼn lekker glas wyn. Daar is dalk ander kultivars met meer diepte en karakter, maar sauvignon blanc se uiteenlopendheid maak dit ideaal vir ʼn wye spektrum.”

Hy sê die koms van sauvignon blanc het nie net ʼn nuwe wynkultivar gebring nie, maar ook baie wynmakers en wingerdboukundiges laat besef dat hulle uit die kelder moet kom en meer tyd in die wingerde moet spandeer, want keurige wynboumetodes lewer baie verskillende eindresultate.

Neil het ook ʼn groot rol gespeel as die vorige sameroeper van die Sauvignon Blanc SA Top 10- beoordelaarspaneel.

Hy sê die toekoms van sauvignon blanc, wat veral beter vaar in koel streke, hang van twee groot faktore af: klimaatsverandering en die verbruiker se voorkeure. Nuwe kultivars en wynstyle gee aan verbruikers meer opsies en vraag en aanbod bly dié oorwegende faktor by nuwe aanplantings én wanneer wingerde uitgetrek sal word.

“Ons weet die oostelike deel van ons land word al natter en die westelike kant al droër en die meeste van ons wynlande is in die suidwestelike kant van die land geleë. Die soort boerdery sal in die toekoms volgens hierdie twee faktore aangepas word en wyndruifboere sal dalk met ander gewasse begin boer en vind dat hulle baie meer geld maak daaruit as uit wyndruiwe,” vertel hy met ironie.

Hy sê voorts dat neigings ook ʼn groot rol speel in verbruikers se aankooppatrone. “Ons voorspel dat mense in die toekoms minder sal drink, maar beter sal drink en sauvignon blanc met spontane gistings, vat-veroudering en alternatiewe style, is ideaal.”

Suné en Bartho Eksteen. (Foto: www.barthoeksteen.co.za)

Bartho Eksteen, die Diners Klub-wynmaker van die jaar 2010, het juis dié titel met ʼn Sauvignon Blanc ingepalm. Geen wonder nie, want die toonaangewende Platter-wyngids noem hom “Monsieur Sauvignon Blanc” en die wynskrywer, Neil Pendock, praat van die “Sage of Sauvignon”. Bartho het vir etlike jare jaarliks ʼn Sauvignon Blanc-fees by Hermanuspietersfontein in Hemel-en-Aarde gehou, sodat almal wat so lief vir dié kultivar is, kan saamkuier.

Nie alle baanbrekers is ouer wynmakers nie. Hulle staan dalk wel op die skouers van pioniers wat die weg gebaan het, maar in tye wat dinge oornag verander, is andersdenkendes dikwels dié wat sukses behaal. Soms is hierdie baanbrekers jong bemarkers of sjefs, wat hul liefde vir erfenis met vooruitgang kombineer.

Ek lees op Sauvignon Blanc SA se webwerf dat Suid-Afrika se oudste sauvignon blanc-wingerd in die Swartland op die plaas Kleinamos staan. Daar is 5,3 ha sauvignon blanc in 1965 geplant. Naas dié blok, is Bloemendal se blok wat in die vroeë 1970’s geplant is.

Daar word jaarliks slegs 3 000 bottels Spice Route The Amos Block Perpetual Reserve van die land se oudste blok gemaak. Die plaas se totale hektaar onder wingerd beslaan 80 ha.

Dis een van slegs 10 ou wingerd sauvignon blancs wat deel vorm van die Old Vine Project, ʼn sertifiseringstelsel waarvolgens lede-wingerde ouer as 35 jaar ʼn spesiale stempel op die kurk kan dra. Die ander is: Du Toitskloof Old Vine Sauvignon Blanc, Deux Frères Sauvignon Blanc, Jordan Timepiece Sauvignon Blanc, Le Bonheur Reserve Blanc Fume, Neethlingshof Sauvignon Blanc, Slaley Cellar Broken Stone White, Amos Block Sauvignon Blanc, Villiera Bush Vine Sauvignon Blanc en Villion Sauvignon Blanc. Die meeste van hierdie ou wingerde is skaars ʼn paar hektaar groot.

Wat ʼn voorreg om by van die gereelde Old Vine-proeë te kan wees en waar jy die kans kry om hierdie raar wyne te geniet. En veral as jy besef daar is net ʼn paar honderd bottels gemaak, omdat ouer wingerde se opbrengs soveel laer is.

Skaars ʼn maand gelede, is ek deel van die Aan tafel saam met die Du Toits ʼn kos-en-wyn-ervaring, waar gaste die nuwe wyne van Du Toitskloof Wyne kon geniet, na die stories kon luister van koskenner en gasvrou, Errieda du Toit, en Ed Beukes, bemarkings- en verkoopsbestuurder van Du Toitskloof Wyne, en hul kon verlustig in kos-erfenis.

Ons was aan tafel in die bekroonde sjef en televisie-aanbieder, Herman Lensing, se Sluysken-ateljee in ʼn Kaapse voorstad. Dis hier waar ek die eerste ooit Du Toitskloof Old Vine Sauvignon Blanc 2020 in my glas kry.

Innovasie deur ʼn jong span.

Om ʼn ou wingerd-wyn in ʼn moderne sauvigon blanc-styl saam met innoverende disse soos Herman se bokkom- en anysmosbolletjies met korrelkonfyt en vanieljebotter te kon proe, is ʼn ware onthou-ervaring.

Ed se amper liriese beskrywing van Blok no.20 (ook bekend as “Oupa”) wat in 1985 geplant is, se “skouspelagtige druiwe met vars aromas van sitrus, kruie en Kaapse appelliefies. Tropiese vrugtegeure soos kiwi en koejawel is goed gebalanseer met subtiele houtgeure, wat bly saamsmelt met die wyn se intense kompleksiteit van 100 dae op die moer deurbring. Die ideale suurvlakke verseker dat die wyn ʼn kakofonie van geure lewer”, laat ʼn mens se mond water. En boonop is daar net 2,8 ha aanplantings waaruit die wyn gemaak word.

En dis nie net ons wat dink dis voortreflik nie: In April 2021 is die wyn as die beste Suid-Afrikaanse wyn by die London Wine Competition gekroon. Daar was meer as 36 lande wat 135 verskillende druifkultivars vir die kompetisie ingeskryf het.

Thys Louw van Diemersdal Wyne. (Foto verskaf)

Ek was nog nooit in Nieu-Seeland nie, maar danksy Thys Louw van Diemersdal-landgoed in die Durvanville-wynvallei, kon ek van die Nieu-Seelandse Suid-eiland se heerlike sauvignon blanc proe − wat Thys in Marlborough gaan maak het.

Diemersdal het aan die einde van 2019 sy eerste Marlborough Sauvignon Blanc vrygestel, ʼn wyn wat Thys 11 000 km van Diemersdal se wynmakery in Durbanville gaan maak het.

By die bekendstellingsgeleentheid vertel Thys dat hy verlief geraak het op Nieu-Seelandse Sauvignon Blanc tydens ʼn besoek in 2016 en net daar besluit het om ʼn wyn, wat in daardie wynstreek gemaak word, onder sy Diemersdal-etiket bekend te stel.

“Ten spyte daarvan dat ek sauvignon blanc vir 20 jaar gemaak het en vertroud was met Nieu-Seeland se uitbundige, tropiese wynstyl, het my oë werklik oopgegaan toe ek Nieu-Seeland die eerste keer besoek en die kans gekry het om Marlborough se algemene verbintenis tot sauvignon blanc te ervaar,” sê Thys.

Thys het met die bekende Marlborough-wynmaker, Ben Glover van Glover Family Vineyards, saamgespan om Projek Diemersdal Marlborough Sauvignon Blanc te begin. Die doel van hierdie projek, het hy verduidelik, is om plaaslike wynliefhebbers ʼn smakie te gee van die uitbundige geurspektrum van Nieu-Seelandse sauvignon blancs waarvoor die Kiwi’s wêreldbekend geword het.

Trizanne Barnard van Trizanne Signature Wines, het haar tande op sauvignon blanc en ander variëteite by Klein Constantia in die Constantia-vallei geslyp. Sy doen dinge anders – en mense neem kennis en gee nie om om daarvoor te betaal nie, want die sauvignon blancs wat sy maak, staan breëbors onder die Platter-sterre, plakkers en toekennings. Een hiervan die 2020 Platter’s-wyngids Sauvignon Blanc van die Jaar.

“Die hoeksteen waarop ek my wynmaakfilosofie bou, is diversiteit. Hierdie soeke na unieke en nuwe perspektiewe, strek ook tot sover as waar ek my druiwe aankoop. Ek soek altyd varsheid, uniekheid en kontras, wat ek gevind het in die koeler temperatuur wingerde van Elim vir sauvignon blanc.

“Deur klein wingerdblokke te vind en daaruit druiwe te kry, produseer ek wyne wat die beste van hierdie unieke en diverse streke weerspieël.”

Dis die variëteit waarmee sy al die langste werk – van haar eerste oesjaar ná universiteit toe sy in Margaretriver in Australië, ook ʼn koeler area, gepars het. “Ek is maar eers onlangs dapper genoeg om dit in totaal ander style te maak en só het ek dit weer herontdek. En dis ʼn druif wat jou baie vryheid gee om baie interessante style wyn te maak.”

Trizanne sê baie mense is nie mal oor sauvignon blanc nie, maar jy kan nie almal oor dieselfde kam skeer nie. “Probeer ander style, laer alkohol- en suurvlakke, kombineer dit met verskillende disse en vind een wat jou tong-tippie-toets deurstaan.”

In 2007 is ʼn jaarlikse Sauvignon Blanc SA Top 10-kompetisie ingestel, om wynmakers tot nog groter hoogtes aan te spoor. Die huidige voorsitter, RJ Botha, is self ʼn bekroonde sauvignon blanc-wynskepper van Kleine Zalze Landgoed, wat met verskeie plakkers spog.

Volgens RJ is sauvignon blanc, as die kultivar waarvan daar die meeste wyn uitgevoer word, een van Suid-Afrika se top internasionaal-bekende handelsmerke.

“Moenie die geleentheid misloop om tydens ons Internasionale Sauvignon Blanc-vieringe van die beste sauvignon blancs in die wêreld te proe nie.”

Hy sê sauvignon blanc is ʼn perfekte voorbeeld van die kompleksiteit en verskeidenheid wat Suid-Afrikaanse wyne bied en verdien die internasionale aandag wat ons toenemend bekom. “Ons is trots om die Sauvignon Blanc SA-handelsmerk saam met ons platinum-vennote FNB en EVER Solutions uit te bou.”

Trizanne Barnard (Foto verskaf)

Watter geure is kenmerkend aan sauvignon blanc?

Geure van groen aspersie, pomelo, vuurklip, lemmetjie, groen spanspek, appelliefie, grenadella, vars gesnyde gras en soetrissie.

Wat is die verskil tussen Ouwêreldse en Nuwe Wêreld-wyne?

Dis basies geografies: “Ou Wêreld” verwys na die tradisionele wynboustreke van Europa, terwyl “Nuwe Wêreld” na die res verwys.

Ouwêreldse wynstreke is waar moderne wynmaaktradisies die eerste keer ontstaan ​​het en word dikwels met tradisie en geskiedenis geassosieer. Hierdie wynbougebiede word in Europa, Noord-Afrika en die Midde-Ooste aangetref. Dit sluit onder meer Frankryk, Italië, Spanje, Hongarye, Portugal, Duitsland, Libanon, Kroasië en Israel in.

Nuwe Wêreld verwys na daardie lande wat tradisies en wynmaakpraktyke van ander lande geleen en dikwels aangepas het om hul eie nywerhede te skep. Dit het dikwels saam met kolonisasie gebeur.

Nuwe Wêreld-wyne word gewoonlik geassosieer met tegnologie, wetenskap, korporasies en bemarking. Nuwe Wêreld-streke sluit onder meer Suid-Afrika, Australië, Nieu-Seeland, Noord-Amerika en Suid-Amerika in.

Lees meer:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.