Soorte resepte:

Koebaai skemerkelkuur, dis teetyd

(Foto: Unsplash)

Die pandemie, wat ons lewens al vir twee jaar omvêrgooi, het ook heelwat veranderinge in ons aankooppatrone van kruideniersware meegebring. Die veranderende dinamika het in die guns van die teebedryf gewerk.

Voedsel- en drankkenners verwys na 2022 as die jaar waarin verbruikers produkte prioritiseer wat funksionele voordele inhou om sodoende hul persoonlike gesondheid en welstand te bevorder.

Volgens die jongste kos‑ en dranktendense wat onlangs deur die sosialemediaplatform Pinterest aangekondig is, is ʼn teetjie glo die nuwe gunstelingverversing met sonsondergang in 2022. Hul voorspelling is gegrond op die gebruike van hul 444 miljoen gebruikers wêreldwyd, van wie baie tee saam met ’n vriend bo drankies na werk gekies het.

Nicie Vorster, direkteur van die Suid-Afrikaanse Rooibosraad, vertel dat aanlyn soektogte na gesonde tee, teekoekies, -partytjies en dies meer, oor alle ouderdomsgroepe toeneem, wat uiters goeie nuus vir die plaaslike teebedryf inhou.

Rooibos is die eerste Afrika-voedselproduk wat beskermde oorsprongbenaming-status (BOB-status) van die Europese Unie (EU) geniet. Die BOB-status identifiseer ’n produk wat aan ʼn spesifieke streek gekoppel is, en verbind die gehalte en reputasie daarvan met daardie gebied.

Verbruikers raak toenemend bekommerd oor die oorsprong en gehalte van die hope produkte wat hulle verswelg en dieselfde geld nou vir tee.

Rooibos-produkte wat in die EU verkoop word, sal die BOB-seël dra, wat dit van ander tee in die mark onderskei.

“Met die toenemende vraag na gesonde en funksionele voedselprodukte, soos rooibos, kan ʼn eksponensiële groei in hierdie sektor verwag word,” meen Vorster.

Dit word voorspel dat warm tee die vinnigste waardegroei sal registreer teen ’n saamgestelde jaarlikse groeikoers van 7,5% oor die volgende drie jaar. Dit is die meeste ooit volgens volume, met verkope van 33,1 miljoen kilogram in 2020.

Die teemark het in twaalf maande tot September 2021, met 3,8% gegroei en die waarde van hierdie mark is tans ʼn stewige R2,6 miljard.

Die segment vir swarttee is die grootste binne die totale teemark. Dit beslaan 47,8% van die mark, met ʼn waarde van R1,2 miljard. Daarna volg rooibostee met 30,8% van dié mark, wat ʼn waarde van R788 miljoen beloop, terwyl ander spesialiteitstee 21,4% van die mark besit, met ʼn waarde van R547,6 miljoen.

Volgens Vorster is sommige van die neigings wat na verwagting die teesektor sal rig, die volgende:

  • Welstandtee – “Baie verbruikers voeg kruiemengsels soos kamille, gemmer, borrie en ginseng by hul tee, om die gesondheidsvoordele verder te verbeter. Om dit makliker te maak vir verbruikers met min tyd tot hul beskikking, is baie van hierdie adaptogene nou by rooibos-produkte gevoeg,” sê Vorster.

’n Adaptogeen is ’n plantekstrak wat die liggaam se vermoë verhoog om die skadelike uitwerking van spanning en inflammasie te beveg. Dit is ook bekend daarvoor om normale fisiologiese funksionering te bevorder.

(Foto: Unsplash)

  • Jou eie tee – Om jou eie tee te kan ontwerp deur verskillende geure vir ’n unieke smaak by te voeg, word individue in staat gestel om hulself uit te druk terwyl hulle hul smaakknoppies bevredig.
  • Koue tee – “Gereed-om-te-drink-tee” neem drasties toe in gewildheid. Dit word gesien as ʼn gesonder alternatief vir gebottelde gaskoeldrank. Bemarkers begin reeds om ’n groter verskeidenheid van koue tee bekend te stel.
  • Nuwe tee-ervarings – Teeliefhebbers sal eerder restaurante besoek wat ’n uitgebreide tee-spyskaart het as restaurante met die standaard een of twee opsies. Net soos koffie-liefhebbers na die uithoeke van die aarde gaan om gehalte-koffie te soek, sal teeliefhebbers dieselfde begin doen.

“Baie teeliefhebbers geniet dit om los teeblare te brou en sal dieselfde meesleurende ervaring by ’n eetplek wil hê waar hulle kan smul aan unieke versnitte en geure. Die opkoms van tee-paringspyskaarte, soos jy wyn met verskillende geregte sou verbind, sal ook meer prominent word en sal nuwe klante lok wat op soek is na ’n sensoriese ervaring” sê Vorster.

  • Tee‑aflewering – Die pandemie het verbruikers uit hul vorige aankooproetines geruk, wat aanlyn verkope en huisaflewering aangedryf het.

“Die model behels die bestel van tee wat op ’n maandelikse of meer gereelde basis direk by jou huis afgelewer word. Daar is ʼn wye verskeidenheid vorme van tee wat wissel van koue tee tot ’n saamgestelde boks teesakkies of los teeblare.

“Tee-intekenaars word ʼn al hoe algemener verskynsel en dit is ’n goeie manier om klantlojaliteit te kweek en te behou, wat nou meer kritiek as ooit is in ’n erg mededingende ruimte,” vertel Vorster.

  • Tee-skemerkelkies – Met al minder mense wat alkohol tydens ’n aand uit drink, word tee-gebaseerde drankies ’n stapelvoedsel in kroeë wêreldwyd.

“Tee maak ’n ideale basisbestanddeel en bied ’n veel groter verskeidenheid opsies wanneer dit kom by die vermenging van alkoholiese en selfs nie-alkoholiese drankies. Dit voeg ook ’n ander dimensie by talle gunstelingskemerkelkie‑formate.”

  • Tee as ʼn geskenk – Spesialiteit- en nuutheidstee is nou ’n gewilde geskenkopsie in 2022. Tee is nie meer ’n eenvoudige kruideniersitem nie. Tee van ʼn hoë gehalte het ʼn teken van sofistikasie geword.

“Dit is veral jonger verbruikers wat gretig is om nuwe teevariëteite en verskillende broutegnieke te probeer. Die neiging sal waarskynlik die verkope van teeware en bykomstighede, soos ingieters en teesiffies verhoog, saam met fynproewerstee en pasgemaakte versnitte in spoggerige verpakkings – ideaal as ʼn geskenk.”

  • Sertifisering en naspeurbaarheid – Gesertifiseerde volhoubare tee is ’n moet vir ’n groeiende aantal verbruikers vir wie etiese teeverkryging, naspeurbaarheid en omgewingsvolhoubaarheid belangrik is. Dit word ook oor die algemeen ’n prioriteit in die bedryf. Gesertifiseerde teeverkope het oor die laaste paar jaar met 49% gestyg en sluit tee met Rainforest Alliance‑ en UTZ-sertifisering, asook organiese en Fairtrade-akkreditasie in.

(Foto: Unsplash)

“Aangesien verbruikers waarskynlik tee nog geruime tyd deel van hul alledaagse welstandroetine sal maak, kan ons verwag om te sien dat meer teeprodukte as supervoedsel geposisioneer word met bykomende funksionele bestanddele soos probiotikas, adaptogene en vitamines.

“Die teebedryf verander vinnig om aan te pas by die dinamika-tendense van die dag, en ons sien uit daarna om te sien hoe die jaar vorm aanneem in kruideniersgange en ander sektore van die mark,” sê Vorster.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.