Soorte resepte:

Maak ’n draai by Mosselbaai se eie jenewerskool

Jenewerbessies gee aan gin sy unieke geur. Foto: Verskaf.

Deur Susan Purén

Suid-Afrika beleef soos die res van die wêreld ʼn jenewer-herlewing. Die tendens volg op die sogenaamde handgebroude whiskey-distilleerderye en bierbrouerye wat in die laaste dekade oral opgeskiet het.

“Waar daar twee jaar gelede slegs ʼn paar handelsname was om van te kies is sowat 300 verskillende jenewers deesdae beskikbaar,” sê Vernol Constance, een van die leermeesters by Mosselbaai se Inverroche Gin-skool.

Mense stroom deesdae na die skool wat in Maart verlede jaar sy deure oopgemaak het. Constance en sy kollega, Ronnie Mbunge, leer jou daar binne twee ure hoe om jou eie jenewer te maak.

Die jenewerskool is digby Mosselbaai se Dias-museum in ʼn smaakvol gerestoureerde gebou wat sowat honderd jaar gelede aan ʼn kraal en ʼn staanplek vir besoekende ossewaens gegrens het.

Ek sit saam met Duitse toeriste, vakansiegangers uit Gauteng en ʼn paar plaaslike inwoners by een van die skool se lang tafels. Dis prentjiemooi gedek met rye koper stookketeltjies, elk met ʼn spiraal glaspypie waardeur die jenewer gaan uitloop wanneer die distilleerproses voltooi is.

Dit is soortgelyk aan die metode wat die Hollanders al in die 17de eeu gebruik het toe honderde distilleerderye in Amsterdam begin het om jenewer te maak; uiteraard op ʼn groter skaal as wat ons klomp hier by die skool doen.

Die skool se brosjure sê om jenewer te maak is nie ʼn eksakte wetenskap nie, dis alchemie, deels kuns en deels wetenskap, maar hoofsaaklik volharding wat uiteindelik tot die skepping van ʼn towerformule kan lei.

“En terwyl jy nog nie jou formule vervolmaak het nie, is die bonus dat jy hier wegstap met ʼn bottel voggies wat jy self gegeur het en wat jou eie naam en vingerafdruk dra,” sê Constance.

Die noodsaaklike bestanddeel wat aan jenewer sy unieke smaak gee, is die jenewerbessie, die vroulike saad van die jenewerstruik, deel van die plantgroep waarby die denneboom ook ingesluit is. Die droë bessies word uit Toskane in Italië ingevoer.

Die bessies is in elk van die vyf verskillende mengsels van aromatiese botaniese bestanddele waaruit ek een moet kies om ʼn basiese geur aan my eie unieke jenewer te gee. Ek kies die sitrusmengsel: suurlemoenskil, pomeloskil, kremetart, hibiskus en natuurlik jenewerbessies.

Die ander vier mengsels op die tafel word as blomme-, kruie-, ʼn warm en ʼn koue geur beskryf en buiten die jenewerbessies kom al dié bestanddele uit die omgewing en selfs uit die skool se eie kruietuin. Daar is gedroogde fynbos, kooigoed, wilde dagga, kankerbos, boegoe, roosmaryn, anys, gemmerwortel en laventel, om net ʼn paar te noem.

Nog vyf bykomende bestanddele soos rooibos, suiker, rosyne, klapper en heuningbos kan in klein hoeveelhede by enige van die basiese mengsels gevoeg word.

Nadat dit fyngestamp is om die geure te laat meng word alles in kaasdoek toegebind en by die verhitte rietspiritus in die stookketeltjie geplaas om die aromatiese geure uit die botaniese materiaal te onttrek.

Drie skroewe hou die twee gedeeltes van die keteltjie bymekaar en dié word styf vasgedraai om te verhoed dat die ‘oop vlam wat dit warm maak met die rietspiritus in aanraking kom.

Die hitte laat die alkoholdampe uitsit en bo in die ketelhoof versamel vanwaar dit afloop in die glasspiraal binne in die kondensator wat met koue water gevul is. Die water laat die dampe afkoel en weer na vloeistof kondenseer.

Die eerste 20 ml wat by die uitlaat opgevang word, is 90% metanol en kan nie as jenewer gebruik word nie, maar die volgende 250 ml is die ware Jakob; gekonsentreerde jenewer-distillaat. Dit is gevul met die unieke geure van die sitrus‑ botaniese mengsel wat ek gebruik het, maar het ʼn alkoholinhoudvan 60%, wat ver bo die wetlike voorskrifte vir jenewer is.

Die alkoholinhoud word tot 43% verminder deur gedistilleerde water by te voeg waarna die jenewer gebottel en gekleur word.  Deur ʼn knertsie gedroogde rooi hibiskus of blou poublomme by te voeg, kry die jenewer onmiddellik ʼn pienk of blou skynsel.

Al wat nog gedoen moet word, is om die handgeskrewe etiket op die bottel te plak: dit sê gebottel deur Susan Purén op 21 Januarie 2020.

Ek is skoon in ekstase oor die jenewer wat ek gemaak het en noem dit “Media Magnaat”. Laastens word die kaartjie waarop my vingerafdruk gemaak is om die bottel se nek gehang.

Na die opgewondenheid vergader ons groep in die skool se kruietuin wat op ʼn lappie grond tussen die geboue digby die see aangelê is. Die plante gedy in die son, maar word ook gereeld en veral vroegoggend aan mistige toestande blootgestel.

Constance vertel dat feitlik al die botaniese bestanddele wat ons gebruik het hier geoes en by die skool gedroog is.

Later stel Mbunge ons voor aan die verskillende jenewers wat by die Inverroche-distilleerdery by Stilbaai gemaak word. Hy verduidelik en ons proe watter jenewer by die verskillende kosse pas. Daar is salm-soesji, biltong en komkommerbroodjies, bobotie-vetkoeke met spekboomblatjang en crème brûlée-melktert.

Die happies is genoeg om enige smulpaap se mond te laat water en saam met ʼn bypassende jenewer is dit voorwaar ʼn onvergeetlike gastronomiese ervaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.