Soorte resepte:

Minder of geen alkohol die jongste gier?

Deur: Janie Monsieur

ʼn Wêreldwye tendens is dat al meer jongmense verkies om geheelonthouers te wees of om drankies met ʼn laer alkoholinhoud te geniet.

Die Suid-Afrikaanse beweging World Without Wine ondersteun ook dié skuif na ʼn alkoholvrye wêreld.

Janet Gourand, die stigter van World Without Wine, het aan Maroela Media vertel hoe dit jou lewe kan beïnvloed as jy alkohol, veral wyn, opgee.

Gourand beskou haarself as iemand wat ʼn funksionerende alkoholis was. “Ek het elke aand ʼn bottel wyn gedrink, en ek het vir jare probeer om die hoeveelheid wyn wat ek gedrink het, te verminder. Ek het besef dit gaan nie werk nie en dat ek heeltemal moes ophou,” vertel sy.

Nadat sy in 2015 opgehou wyn drink het, het sy besluit om haar eie program en werkwinkels te formuleer om ander mense ook daarmee te help.

Sy het reeds 42 wynvrye-programme en -werkwinkels aangebied wat deur meer as 700 Suid-Afrikaners bygewoon is. Altesaam 44% van die mense wat aan die werkwinkels deelgeneem het, drink glo nie meer wyn nie.

Janet Gourand (Foto: Verskaf)

Gourand sê sy fokus spesifiek op wyn in haar programme en werkwinkels omdat dit die drank is wat mense die meeste normaliseer.

“Wyn was my probleem, en as ek moet skat is dit 95% van die mense wat my werkwinkels bywoon se probleem ook,” sê sy. “Dit is die wynbedryf wat so goed is. Hulle doen so ʼn goeie werk om wyn te bemark dat mense later glo dat ons dit nodig het om sosiaal te wees en om te ontspan.”

Gourand sê sy is verheug en opgewonde daaroor dat jongmense wêreldwyd die keuse uitoefen om minder alkohol te drink.

“Ek dink dit is as gevolg van die hele welstandsgier wat jongmense volg. Dit help nie hulle doen joga, eet glutenvrye en organiese kosse, maar dan drink hulle ʼn bottel wyn elke aand op nie.”

Talle alkoholvrye kroeë en klubs het al ontstaan as gevolg van dié tendens en die meeste drank-vervaardigers het al alkoholvrye weergawes van hul drankies gemaak. Die bierbedryf het veral al baie spronge gemaak na lae-alkohol‑ of alkoholvrye bier.

Die Suid-Afrikaanse Brouery (SAB) beoog om 25% van sy reeks alkoholvry te maak.

“Ek dink mense word meer bewus van die gevare van alkohol, of hulle begin minstens daaraan dink. Ons kry meer en meer mense elke jaar wat alkohol- of wynvry is,” sê Gourand.

Volgens Gourand is die voordele daarvan om alkoholvry te wees oneindig. Sy meen dat een van die meer onverwagse voordele is dat jy skielik meer tyd het.

“Jy bestee baie tyd daaraan om die alkohol te geniet en om dan weer daarvan te herstel. Skielik het jy meer tyd op hande! Dis juis hoekom ek my werkwinkels begin het – omdat ek meer tyd gehad het nadat ek ophou drink het.”

Volgens Gourand is daar ook talle gesondheidsvoordele soos gewigsverlies, ʼn gesonder vel en groter helderheid van denke.

Sy moedig mense aan om hul afhanklikheid van alkohol en wyn uit te daag. “As dit vir jou regtig moeilik is om vir ʼn maand nie te drink nie, is jy heel waarskynlik té afhanklik,” sê sy.

“Dit is so maklik om daarin vasgevang te word. Ongeveer 20% van gereelde drinkers [mense wat een of twee glase wyn elke aand drink] sal afhanklik word van die drank. Vind uit of jy dit regtig mis, en laat vaar dit eerder sodat jy nie afhanklik daarvan hoef te wees nie.”

Vir meer inligting, besoek World Without Wine se Facebook-blad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gawie ·

Ekself het in 1983 geheel ophou alkohol gebruik. Ek het nog nooit gevoel ek mis uit op iets nie. Selfs by opgeruide kantoorpartytjies en dies meer het ek nooit gevoel iets is kort nie.
Die beste van dit is dat ek nooit hoef te wonder of ek dalk te veel gedrink het om te bestuur nie, of dat ek die volgende oggend met ‘n seer kop gaan wakker word nie!
Ek sê egter glad nie vir iemand anders om dieselfde besluit te neem nie – al wat ek sê is: Hou matigheid voor oë.

quartus ·

Ek het in november verlede jaar my laaste bederfie gedrink,,en voel stukke beter,,my geld sake ook,,wonder wel of die pakkie wine gums wat ek ou jaars aand in my bed genuttig het,,gesien word as n glasie wyn…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.