Soorte resepte:

Plantmelk: Alles wat jy moet weet

Plantmelk (Foto: ProVeg)

Plantgebaseerde diëte en veganisme word wêreldwyd al meer bekend en navorsing bevind toenemend dat meer plantprodukte en minder vleis beter is vir jou gesondheid.

Om minder diereprodukte in te neem stop egter nie net by vleis nie – plantmelk (in teenstelling met melk wat van diere af kom) word al meer bekend. Daar is reeds 79 melk-alternatiewe in Suid-Afrika, wat dit maklik maak vir enigeen om oor te skuif na plantmelk.

Die meeste van ons het al gehoor van kokosneutmelk, sojamelk en amandelmelk, maar volgens die nieregeringsorganisasie ProVeg South Africa is die plantmelk-bedryf baie meer divers as net dit.

Bruinrysmelk, haselneutmelk, quinoamelk, hempmelk en makadamiamelk is ook bekend onder Suid-Afrikaners wat op soek is na ʼn alternatief vir diereprodukte.

Volgens Donovan Will, ProVeg se direkteur vir Suid-Afrika, bestaan alternatiewe vir melk meestal vir mense wat laktose intolerant is. Maar baie mense maak deesdae sélf die besluit om oor te skakel na plantmelk oor etiese redes, gesondheidsredes, smaak of omgewingsbewaring.

“Die plaaslike mark vir hierdie produkte groei drasties om twee redes: Eerstens gee Suid-Afrikaners om oor hul gesondheid, die omgewing en hoe diere behandel word, en tweedens omdat hierdie produkte al meer toeganklik word met die meeste groot winkels wat plantmelk opsies verkoop.”

“Selfs restaurante en koffiewinkels het Suid-Afrika se groot variasie van plantmelk verwelkom. Vida, een van die land se grootste koffiewinkels, het byvoorbeeld reeds vyf plantmelkopsies om van te kies.”

Gesondheidsvoordele

Volgens onlangse navorsing is die keuse vir plantmelk toenemend nie meer as gevolg van laktose intoleransie nie. Soveel as 75% van die gebruikers wat betrek is by die navorsing het ander redes aangedui.

Ander redes om suiwelmelk uit te sny is omdat plantmelk veel minder versadigde vette bevat en geen hormone of cholesterol het nie.

Omgewingsimpak

Ten opsigte van die omgewingsimpak gebruik plantmelk aansienlik minder water as ander melk.

Om ʼn enkele liter koeimelk te produseer, word 628 liter water gebruik. Maar om dieselfde hoeveelheid sojamelk te produseer, word slegs 28 liter water gebruik. “In ʼn land met aanhoudende kommer oor watersekuriteit is hierdie statistieke op sy eie ʼn goeie rede om sojamelk ʼn kans te gee,” sê Will.

Behalwe vir waterverbruik stel die produksie van plantmelk ook minder kweekhuisgasse vry, gebruik minder spasie en lei tot minder waterbesoedeling.

Wat van kalsium?

ʼn Groot kommer vir mense wat na plantmelk wil skuif, is dat hulle nodige voedingstowwe soos kalsium sal ontbeer wanneer hulle nie meer koeimelk gebruik nie.

Dr. Paul Palmer, ʼn kenner van plantgebaseerde voedingstowwe, sê daar is duidelike navorsing wat daarop dui dat mense glad nie suiwelprodukte nodig het nie, en dat ons al die nodige voedingswaarde van ander kossoorte kan kry.

“Ons het grootgeword met die idee dat melk ons help om sterk bene te ontwikkel, maar wanneer ons na navorsing kyk, is daar geen bewyse hiervan nie. Ons vind inteendeel dat bevolkings wat meer koeimelk drink ʼn hoër koers van heupfrakture het en laer beendensiteit,” sê hy.

Al meer mense heroorweeg hul inname van suiwelmelk, en Kanada het reeds die eerste land geword wat amptelik suiwel as ʼn kosgroep uit hul nasionale voedingsriglyne geskrap het.

Hoe om te kies

Met so baie voordele en opsies van plantmelk is dit moeilik om te kies watter een die beste vir jou gaan deug.

Will sê dit hang van jou smaak af watter plantmelk die beste vir jou sal werk.

“Dit is die beste om die verskillende opsies te toets en dan te besluit. Verskillende handelsmerke se plantmelk proe ook dikwels anders. Een handelsmerk se sojamelk kan byvoorbeeld soet en romerig proe, terwyl ʼn ander een nader aan afgeroomde melk proe met geen soetigheid nie.”

(Foto: ProVeg)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anel ·

Nou wonder ek wat rook die lot. So moedersmelk is ook nou taboe! Man, as melk nie veronderstel was om goed vir ons te wees nie, sou die Here dit nie vir ons gegee het nie. Nou wat stel julle voor gee mens vir babas, mens en dier as jy nie gewone melk moet drink nie? Ek het eenkeel van hierdie volksvreemde melk geproe maar dis nie vir my nie, dsnkie. Gee my eerder ‘n beker vars melk, direk van die koeie se speen. En ek drink elke dag ten minste 2 glase volroom melk. Iewers wil iemand weer geld maak , want die goed is nie goedkoop nie. En so word mense alherhande snaakse goed wys gemaak. Ai, tog.

Ou Baardbek ·

Geagte Anel,
U het voorwaar insig en oortuiging, wat baie duidelik by ‘n al hoe groter wordende getal “slim” indiwidue ontbreek!!
Daar is ‘n spreekwoord wat stel: “Do not argue with a fool; you could never convince him!”
Die probleem lê waarskynlik daarin opgesluit dat geloofsoortuigings deesdae vervaag, en selfs “verdwyn.”
En dan natuurlik, is u heeltemaal korrek wat die stelling aanbetref dat dit gaan oor geld! Mammon het mos die koning geword om te aanbid!
Staan vas in u geloof!!

Anel ·

Baie dankie, ou Baardbek. Ek waardeer u komentaar. Soos hulle sê met grysheid kom wysheid.

Tiaan ·

Moedersmelk is baie belangrik vir babatjies, vir hul immuunstelsel. Tweedens, dai koei se melk is vir sy kalfie bedoel. En ek stem saam, nie al daardie plantmelke is baie lekker nie, maar dis baie gesonder en beter vir die omgewing, ekt op n plaas groot geword, baie baie melk gedrink, dit was deel ons en hoe ons groot geword het en nou dink mens dit is hoe dit moet wees maar gaan doen net bietjie meer navorsing oor die verskillende melke en wat dit vir di omgewing beteken. Nogal interessante feite wat jy sal raak lees.

Nienie ·

Ek het plantmelk probeer maar dit is nie ‘n smaak vir my nie. Ek is nie ‘n suiwel liefhebber nie maar plantmelk in my oggendkoffie proe net nie reg nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.