Soorte resepte:

Proe dié Portugese tafelwyne en verbreed jou horisonne

Twee van Allesverloren se bekendste Portugese tafelwyne, die touriga naçional en tinta barocca.

Die meeste mense se kennis van Portugese wynkultivars is te danke aan port (van Portugal) en portstylwyne (van die res van die wêreld) en touriga naçional staan hier uit. Maar met die tradisionele soetwynmark wat jaarliks krimp, het heelwat Suid-Afrikaanse produsente die afgelope paar jaar begin om stilwyne van Portugese kultivars te maak en name soos touriga franca, tannat, verdelho, tinta roriz (Tempranillo) en tinta barroca word al gewilder, skryf Maryke Roberts.

Hierdie Portugese kultivars floreer die afgelope paar dekades in Suid-Afrika, veral in die Swartland en Klein Karoo, en volgens Suid-Afrikaanse Wynbedryfinligting en -stelsels (SAWIS)-statistiek, het die Swartland in 2021 altesaam 87,40 ha tinta barocca en 38,15 ha touriga naçional gehad. Die totale tinta barocca in die land is 153,86 ha, met Paarl en Klein Karoo in tweede en derde plek, en 99,18 ha touriga naçional, waarvan die Klein Karoo en Paarl onderskeidelik in tweede en derde plek is.

Elkeen van die gewildste Portugese kultivars spog nou ook met hul eie internasionale gedenkdae, waaronder portstylwyne op 27 Januarie; en Tempranillo op 9 November.

Daar is nie veel plase in Suid-Afrika wat kan spog dat hulle al vir 150 jaar in dieselfde familie én pioniers op verskeie vlakke is nie. Maar Allesverloren buite Riebeek-Wes kan dié roset met trots op hul baadjielapel steek. Die plaas is sedert 1872 in die Malans se besit en het onder meer naam gemaak omdat dit die geboorteplek is waar Portugese kultivars in Afrika-grond gevestig is.

Allesverloren is bekend vir sy bekroonde portstylwyne – ʼn styl waarin hy eens eksklusief gespesialiseer het. Met die verloop van tyd, het dit egter ook bekend geword vir sy premium kwaliteit, rooiwyne van shiraz, cabernet sauvignon, touriga naçional en tinta barocca, én sy enkele wingerd landgoed muskadel.

Sy bekende wyne sluit in die vlagskip Très Vermelhos – ʼn versnit van drie rooies, die souzão, tinta barocca en touriga naçional; en Tinta Rosé, ʼn tosé-versnit met tinta barocca as die dominante variëteit.

Benewens een en ʼn half eeu in familiebesit, was die jaar 2022 ook een van feesvier en nuwe dinge, waaronder die einde van Allesverloren se suksesvolle verspreidingskontrak van 43 jaar met Distillers Corporation – nou Distell.

Om dié geleentheid te herdenk, het Allesverloren ʼn reserwewyn – die Allesverloren Fanie Malan Reserve-portstylwyn 2014 – vrygestel. Fanie Malan het in 1972 die eerste wyn onder die Allesverloren-handelsmerk gemaak.

Die wyn is vernoem na wyle Fanie Malan, pa van Danie Malan, huidige keldermeester en vyfde generasie-eienaar.

Hierdie spesiale vrystelling smeek natuurlik om ʼn kuier by die erfenis-beskermde wynproelokaal en lekker middagete daarna by die bekende Pleasant Pheasant-restaurant, ʼn katspoegie verder weg op die plaas.

Albei geboue kyk uit oor die wingerde en gons oor naweke. Ons het ʼn lekker tafel buite onder die latte prieel bespreek en doen die wynproe.

Vandag is Allesverloren se huidige bestuurspan Danie Malan en sy vrou, Juanita, met die ervare wynmaker Wilhelm de Vries as wynmaker. Die Malans se dogter, Danielle, is verantwoordelik vir bemarking, en seun, Fanie, vir plaasbestuur en wingerdbestuur.

Die landgoed beslaan 272 ha, uitgestrek langs die noordoostelike hange van die Kasteelberg. Dit is uitsluitlik aan wyndruifboerdery gewy, met 115 ha onder wingerd. Hulle floreer in gronde van ontbinde skalie, klei en alluvium.

Wilhelm verduidelik dat port gemaak word deur gedistilleerde druiwespiritus, gewoonlik onverouderde brandewynspiritus, by ʼn wynbasis te voeg. Die byvoeging van die hoë-alkohol-spiritus stop fermentasie en fortifiseer die wyn. Sedert 1 Januarie 2012 kan slegs port wat in Portugal se Douro-vallei gemaak word, as port, of porto in Europa, op die etiket aangedui word. Ander streke kan dit net portstylwyn noem.

“Ons het nog altyd ʼn Fine Old Vintage Reserve vrygestel wanneer ʼn besonder goeie oesjare dit regverdig het,” vertel Danie terwyl hy sy glas teen die lug hou en die mooi dieprooi kleur waardeer. “Die 2014-oesjaar, wat in die bottel ontwikkel het tot vrystelling as die Fanie Malan, was net só ʼn jaar.”

Allesverloren stel altyd ʼn Fine Old Vintage Reserve vry, wanneer besonder goeie oesjare dit regverdig.

Danie en ʼn goeie vriend van sy oorlede pa, wyle Sakkie Kotze, het die Fanie Malan Fine Old Vintage Reserve 2014 gemaak. Sakkie was die wynmaker by Le Bonheur en ná sy aftrede in 2013 het hy besluit om ʼn laaste wyn ter ere van sy vriend te maak. Dis ʼn versnit van tinta barocca, tinta amarilla, tinta franciska, touriga naçional, touriga franciska, pontac en souzão.

Hy het elke vat gekies – slegs ouer Franse eikehoutvate van die hoogste gehalte – en die wyn is vir ses jaar daarin verouder voordat dit in 2020 gebottel is. Sakkie het nooit die skepping gesien nie; hy is in 2015 oorlede.

Om ʼn wyn na sy oorlede pa te vernoem, was vir baie jare Danie se droom. “Allesverloren se hart en siel is baanbrekerswerk, wat deur mense soos my oupa, Danie en my pa, Fanie, gedoen is. Ten spyte daarvan dat my pa die grootste verskaffer van portstylwyn aan die KWV was – toe nog ʼn wetgewende bedryfsreguleerder – het hy weggebreek om Allesverloren suksesvol as ʼn onafhanklike entiteit te vestig.

“Hy was ook ʼn nuwe generasie wynmaker wat onder andere eerste was om cabernet sauvignon, shiraz, merlot en sauvignon blanc in die Swartland te plant. Hy was een van die stigterslede van die Swartland Wynroete en een van die eerste bestuurslede ook.

“Dit wat baie mense as taboe beskou het, het my pa verkeerd bewys.”

Maar om terug te keer na Portugese kultivars, is ons terug by Danie Malan sr., wat bykans 100 jaar gelde touriga naçional, tinta Barocca, souzão en tinta franciska in die Swartland geplant het. Die kultivars is eie aan Portugal se Douro-wynstreek, die grootste bergagtige wynstreek ter wêreld, waar droëland boerdery die oorgrote meerderheid vorm.

Twee van Allesverloren se bekendste Portugese tafelwyne, die touriga naçional en tinta barocca.

David sr. en Braam van Velden, van Overgaauw buite Stellenbosch, was egter die eerste Suid-Afrikaners wat touriga naçional geplant het om meer kompleksiteit by hul oesjaar-styl portwyn te voeg, wat hulle toe reeds met vyf Portugese variëteite, wat op die landgoed geplant is, gemaak het.

In die 1970’s het hulle ʼn gewilde droë rooi, genaamd Overtinto, wat van vyf Portugese variëteite gemaak is, geproduseer. Die gewildheid van hierdie wyn het die skepping van die enkel-kultivar touriga naçional geïnspireer.

Die Portugese variëteite was aanvanklik eksklusief vir die maak van port, soos die praktyk daardie jare in Portugal was. Dit was eers in die 1990’s dat Portugal se Douro-streek sy gebruik van die kultivars vir tafelwyne verhoog het, en Suid-Afrika het gou sy voorbeeld gevolg.

Boere in ander gebiede het ook die potensiaal raakgesien en hul eie aanplantings begin, wat Swartland trots die stamvader van dié variëteite in Suid-Afrika maak. Vandag is daar verskeie jonger wynmakers daar wat uitstaande wyne van ou wingerd Portugese kultivars maak, waaronder Eben Sadie van Sadie Family Wines se Treinspoor, wat gemaak word van ʼn tinta barocca-wingerd wat in 1974 geplant is. Dit is nie die oudste wingerd van sy soort nie en die Old Vine Project lys onder sy wyne ʼn wingerd van die Paardeberg wat uit 1971 dateer.

André Bruyns van City on a Hill-wynkelder en Wim Smit van Hofstraat Kelder is ook baie passievol oor tinta barocca. Wim se Renosterbos-reeks het dié druifsoort as ster.

André sê: “In die Swartland is tinta barocca verantwoordelik vir ʼn groot gedeelte van die rooiwyn ouwingerd-stand. Die stokke lyk dalk nie na skouperde nie, maar is goed aangepas vir ons droëland toestande. Die wyne het ʼn groot struktuur en is rustic in ʼn goeie sin. Daar is min wyne wat beter drink met braaivleis.”

Portugese kultivars in die Klein Karoo

Twee Calitzdorp-broers, Chris en Danie Nel, het in die 1970’s wingerdstokke bestel en geglo dit is shiraz, wat in die Swartland baie goed gevaar het. Boets Nel, besturende direkteur van De Krans, vertel daar is in 1973 vyf hektaar tinta barocca op De Krans geplant. In die vroeë sewentigs het dié twee bekende wynkelders, Boplaas en De Krans, nog saam wyn gemaak op Hoë Krans-wynmakery, wat later ook as Die Krans bekend gestaan het.

Die “shiraz” was toe egter tinta barocca – die grootste verteenwoordiger van die Portugese-kategorie in Suid-Afrika. Maar toe was die koeël al deur die kerk, oftewel, die wingerd al in die grond.

Die twee broers, Chris en Danie, het in 1976 hul eerste stilwyne van tinta barocca gemaak en ʼn jaar later hul eerste portstylwyn. In 2000 het Chris se seuns, Boets en Stroebel, die eerste touriga naçional-stilwyne in Suid-Afrika gemaak en die eerste tinta roriz (Tempranillo) in 2003.

“Ons het ook in 2015 ʼn nuwe versnit gemaak onder die etiket, A Twist of Fate. Dit kombineer tinta barocca en tinta amarela, wat albei per ongeluk na die plaas gekom het. Ek en Stroebel het tinta roriz in 2003 geplant, maar het vier jaar later ontdek dat dit tinta amarela was. Dié versnit is lig en ideaal vir somerdrinkery; dit herinner aan ʼn ligter styl rooi, soos pinot noir.”

Boets vertel voorts dat hy en sy broer 8 ha touriga naçional en 0,6 ha souzão in 1994; 2 ha tinta roriz in 2003 en 1,2 ha tinta amarela in 2004 op De Krans geplant het.

Hy werk graag met die variëteite. Hy reken hulle is meer kompleks en vruggedrewe as Franse kultivars en het ʼn ongelooflike verouderingspotensiaal as gevolg van inherente veerkragtigheid teen oksidasie.

De Krans se Tritonia Calitzdorp-versnit is reeds twee keer aangewys as die beste nie-Bordeaux-versnit in Suid-Afrika by die toonaangewende Trophy Wine Show. De Krans het ook die laaste drie jare elke jaar die SA Kampioen-port berei op die SA Jongwynskou en het reeds meer as 15 Platter vyfster-toekennings vir sy Cape Vintage Reserve-portstylwyn verower.

“Sodra dit in die bottel is, is Portugese tafelwyne volrond met komplekse geure van viooltjies, speserye en sjokolade met sappige tannine. Hulle komplementeer rooivleis baie goed”, sê Boets. Hy geniet dit om die wyne saam met wild, lamskenkel en Springbok-carpaccio voor te sit.

“Suid-Afrikaners is oor die algemeen nog onbekend met, en skugter vir, wyne van Portugese kultivars, omdat hulle dit nie ken nie. Die meeste van hierdie wyne word dus tans uitgevoer na markte in Europa. Maar wanneer besoekers op die plaas kom kuier proe hulle dié wyne en ervaar die wonderlike geure en smake, en veral die veelsydigheid van die wyne met kos. Hierdie is ʼn stadige proses, maar wyne van Portugese kultivars raak definitief meer gewild,” vertel Boets.

Vandag bestaan Allesverloren se huidige bestuurspan uit Danie Malan, sy vrou en die ervare wynmaker, Wilhelm de Vries.

In 1981 het die twee Nel-broers, Chris en Danie, besluit om elkeen hul eie wynplaas te bedryf en Boplaas het sy eie kelder gebou. Boplaas het sy eerste tinta barocca in 1982 gebottel.

Boplaas is al verskeie kere aangewys as Suid-Afrika se kampioen Portstyl-wynkelder en die patriarg, Carel Nel, vyfde geslag, en sy dogter, Margeaux, sesde geslag, wat nou die wynmaker is, is internasionaal bekend vir hul insig oor Portugese kultivars. Margeaux het selfs haar meestersgraad gedoen oor die effek van die Klein Karoo se terroir op touriga naçional.

Vandag is Carel se seun, Daniel, en ander dogter, Rozanne, ook deel van die Boplaas-span en aan voortreflikheid is daar geen einde nie.

Carel se pa, Daniel, was die een wat met ʼn swaargelaaide Chevy El Camino vol pinotage en shiraz uit die Swartland teruggekeer het en hy en sy vriende en familie het korte mette van die shiraz gemaak en opslag besluit die Klein Karoo kort shiraz-wingerde. Dis toe van die Swartland bestel en in Calitzdorp geplant.

Rozanne vertel: “In daardie dae het meeste Calitzdorp boere brandewyn gedrink, maar oupa Danie was baie lief vir rooiwyn.”

Die Nel-gesin van Boplaas is van links Margaux, Daniel, Rozanne, Carel en Jeanne.

In 1975 het Carel, terwyl hy wingerdboukunde aan die Universiteit Stellenbosch studeer het, een van die wingerdblare na sy dosent geneem, wat bevestig het dis nie shiraz wat in die Klein Karoo geplant is nie, maar tinta barocca.

Carel het verskeie reise na die Douro se Port-produsente onderneem en waardevolle insigte gekry oor hoe om dié kategorie te vervolmaak. Hy is in 2021 deur die gesogte Veritas-toekenning as een van Suid-Afrika se lewende legendes ingelyf.

Hy was ʼn stigterslid van die Cape Port Producers Association en was die organisasie se eerste voorsitter. Hy was ook die stigter en eerste voorsitter van die Calitzdorp Portfees.

Carel is een van slegs drie wynmakers in die land wat ʼn Kaapse wynmeester sowel as lid van die gesogte Kaapse Wynmakersgilde is.

Onder sy leiding is Boplaas met 10 SA Kampioen Port-trofeë bekroon; twee SA Kampioen Sauvignon Blanc-trofeë en een SA Kampioen Rooi Versnit-trofee by die SA Jongwynskou. In totaal het Boplaas ook 28 dubbelgoue medaljes by Veritas en 22 Platter-vyfsterre vir port, brandewyn en muskadel ontvang. Hulle eerste vyfster was vir die Boplaas Cape Vintage Reserve 1991.

Vandag beslaan Boplaas se tinta barocca 40% van die plaas se wingerde. Die touriga naçional is in 1995 geplant en beslaan 40%. Souzão, wat in 2008 geplant is, dek 10%, en verdelho, die res.

Die eerste variëteit bottelering van ʼn tafelwyn van tinta barocca by Boplaas, dateer uit 1982 en sedertdien is hierdie geharde Portugese druif ʼn staatmaker in die kelder se reeks.

Portugese kultivars verskil van die Franse wyne op die tong en wynmakers is versigtig om nie te veel tannine te onttrek nie. Dit kort ʼn sagte hand in die kelder, sê Carel. Hy sê die hoofkenmerke van die verskillende kultivars wat in versnitte gebruik word, is touriga naçional (pittigheid, viooltjies en rooi bessies); tinta barocca (aardsheid) en souzão (die donker kleur en vars suurheid).

In die Klein Karoo is daar vandag selfs ʼn spesiale wyn wat Portugese kultivars huldig: die Calitzdorp Blend is in 2011 gevestig en om dié naam op sy etiket te mag dra, moet al die wyne die wyn van oorsprong uit Calitzdorp dra en ʼn 70% minimum Portugese kultivars insluit. Die eerste Calitzdorp Blend is egter al in 2009 deur ʼn ander Calitzdorp-baanbreker, Peter Bayly, gemaak.

Hy het 1,2 ha touriga naçional 56%, tinta barocca 27% en souzão 17% tussen skalie en kwarts geplant.

Aan die ander kant van die produksieskaal, is Calitzdorp Cellars wat oor meer as 300 ha en 40 plase versprei is. Alhoewel dit in 1928 gestig is met hanepoot en soet muskadel as vlagskepe, produseer dit ook Portugese tafelwyne en ʼn Calitzdorp Blend genaamd Tinto.

Drie lidplase verbou Portugese kultivars op ongeveer 5 ha, wat tussen 2000 en 2014 geplant is.

Met klimaatsverandering, droogtetoestande en al minder water vir besproeiing, is geharde Portugese kultivars wat ook meer hittebestand is, al meer wingerdboere se fokus. In die volgende tien of twintig jaar gaan wynliefhebbers hul tonge moet oefen om nie net die Portugese kultivars se name uit te spreek nie, maar ook hul gunsteling-wyne te laat word.

  • Foto’s: Verskaf en deur Clifford Roberts

Die plaas Allesverloren buite Riebeek-Wes, aan die voete van Kasteelberg.

Vandag is Allesverloren se huidige bestuurspan Danie Malan en sy vrou, Juanita. Die Malans se dogter, Danielle, is verantwoordelik vir bemarking, en seun, Fanie, vir plaasbestuur en wingerdbestuur.

Boplaas se touriga naçional en tinta barocca is groot gunstelinge – nie net onder die publiek nie, maar ook onder wynbeoordelaars.

Daniel, Margaux en Carel Nel op een van hul besoeke aan Portugal, om meer van die Portugese kultivars te leer.

Christoff de Wet, wynmaker by De Krans, wat nou drie jaar in ʼn ry die SA Kampioen Port-trofee gewen het.

De Krans se Portugese tafelwyne is baie gewild. (Foto: Verskaf)

André Bruyns van City on a Hill-wynkelder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.