Soorte resepte:

Prut vandag ʼn potjie rooibostee

Nasionale Rooibosdag word jaarliks op 16 Januarie gevier. (Foto: Pixabay)

Die wonderlike gesondheidsvoordele van rooibostee word jaarliks op 16 Januarie tydens Nasionale Rooibosdag gevier.

Van diabeteslyers tot depressie- en angslyers en selfs ywerige bakkers kan voordeel trek uit die legio voordele en gebruike van rooibostee.

Maroela Media het onlangs die gesondheidsvoordeel van rooibostee vir veral diabeteslyers gedeel.

“Rooibostee is ideaal [vir diabeteslyers] aangesien dit kalorievry is en ʼn natuurlike soet smaak het, wat beteken geen versoeters is nodig nie,” sê prof. Christo Muller, hoofspesialiswetenskaplike by die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMRC).

Rooibos bevat boonop aktiewe verbindings wat kan help om bloedglukose te beheer, terwyl dit ook inflammasie verlaag.

“ʼn Unieke fenoliese verbinding wat net in die rooibos-plantspesies voorkom, genaamd aspalatien, kan ook help om bloedglukosevlakke te verbeter. Groen rooibos, wat meer aspalatien bevat, het in navorsing by diere getoon dat dit doeltreffend is om verhoogde bloedglukosevlakke te verlaag.

“In hierdie navorsing het aspalatien insulienaktiwiteit verbeter deur inflammasie en oksidatiewe stres te verminder. Dit is albei faktore wat die ontwikkeling van tipe 2-diabetes en kardiovaskulêre siekte onderlê.”

Rooibos beskerm ook die hart deur vaskulêre ontsteking en aterosklerose te onderdruk. “Hoë bloedsuikervlakke kan probleme soos hierdie aanhelp,” verduidelik Muller.

(Argieffoto)

Rooibostee kan nie net jou kans op depressie en angs verminder nie, selfs die eenvoudige ritueel om self ʼn koppie tee te maak, kan al ʼn positiewe uitwerking op jou gemoed hê. Dié goeie nuus word deur navorsing gestaaf.

Adele du Toit, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Rooibosraad (SARR), sê al hoe meer navorsing dui deesdae op die belang van ʼn gesonde leefstyl om depressie te help afweer. Dit sluit in die drink van ʼn koppie lekker, stomende tee.

Navorsers het bevind dat gereelde teeverbruik noemenswaardig met die verligting van stres en angs verband hou.

Du Toit verwys spesifiek na ʼn studie wat toon dat iemand se risiko vir depressie met ʼn allemintige 37% verminder vir elke drie koppies tee wat die persoon per dag drink.

“Dit is moontlik dat die gesonde verbindings in tee ʼn positiewe reaksie in die ingewande en brein stimuleer wat ʼn mens se bui verbeter. Net so is die daad van teemaak op sigself ontspannend en maak dit vir ons moontlik om ʼn sielkundige en emosionele blaaskans te neem,” verduidelik Du Toit.

Heleen Meyer, gewilde kookboekskrywer en gesondevoedselkonsultant, sê met ʼn dieet wat ryk is aan polifenole (polyphenols) sal die meeste antioksidante wat in kos voorkom die liggaam help om suiker beter te metaboliseer.

“Dit sluit in die eet van helderkleurige vrugte en groente, neute, vis en die drink van rooibostee, wat alles propvol antioksidante is.

Argieffoto. (Foto: Pixabay)

“Behalwe om die tee te drink, is daar talle maniere om rooibos deel van ʼn maaltyd te maak. Dink aan rooibos as ’n heeltemal natuurlike geur- en kookbestanddeel. Dit is ’n wonderlike kookvloeistof aangesien dit smaaklik en vol voedsaamheid is. Rooibos is die perfekte plaasvervanger vir winkelaftreksel, wat dikwels baie hoog in sout, kunsmatige geurmiddels of preserveermiddels en selfs suiker is.

“Die geur van rooibos pas goed by soveel ander bestanddele, wat wissel van tamaties, gemmer, brandrissie, knoffel tot kruie en speserye, en kan vir ’n wye reeks resepte gebruik word. Voeg dit as ’n vloeistof by sop, bredies of selfs wanneer hoender of groente in die oond gebraai word.

“Dit is ook ’n heerlike basis vir ’n slaaisous, marinade of sous. Volgende keer as jy ’n tamatie-gebaseerde sous voorberei, voeg rooibos by in plaas van aftreksel. Balsamiese asyn of suurlemoensap en ’n bietjie olyfolie, in sterk, afgekoelde rooibostee geklits, is ’n heerlike slaaisous en kan met vars kruie van jou keuse gegeur word.”

Meyer sê rooibos is ook wonderlik om mee te bak en nageregte te maak. Melk of water in ’n bakresep kan dikwels vervang word met rooibostee, wat geur en ʼn pragtige ryk kleur sal gee aan wat jy ook al maak.

Lees hier Meyer se resepte vir hoender-en-rooibos-gebak en rooibos-en-aarbei-chai-poeding. Hier is ook nog ʼn paar van Maroela Media se gunsteling-rooibosresepte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.