Soorte resepte:

Pta-restaurant brou eie boetiekbier

Capital Craft en Devil’s Peak Brewery het saamgespan om die Hop On Hop Off Pale Ale te brou uit hop wat in Pretoria verbou is. (Foto: Capital Craft)

Die hoofstad kan nou uiteindelik met sy eie boetiekbier spog waarvan die hop plaaslik in die hartjie van Menlopark in die ooste van Pretoria verbou is.

Capital Craft, ʼn restaurant wat sedert 2014 die tuiste van boetiekbiere in Pretoria is, beskik oor ʼn reeks van 202 van dié soort biere wat enige fynproewer se hart sommer vinniger sal laat klop.

“Ons visie was egter nog altyd om die plaaslike boetiekbierbedryf te bemark en hoewel baie mense ons al gevra het om self ʼn bier te produseer – en glo my soveel mense het ons al genader – het ons nog altyd gedink dit is nie ons plek nie.

“Nou het ons ʼn skuiwergat gekry – ons het nie ons eie bier gemaak nie, ons het dit verbou,” vertel Johan Auriacombe van Capital Craft met ʼn glimlag.

Die Capital Craft-span het Donderdag, met die bekendstelling van Hop on Hop Off Pale Ale, trots vertel hoe Neil Groenewald ʼn hop-plantjie in 2015 by ʼn hop-plaas in George gekry het. Die plantjie van die Africa Queen-hop het meer as 1 200 km per motor gereis en uiteindelik ʼn nuwe tuiste in ʼn houtkratbedding by dié restaurant in Menlopark gevind. Dit het hier amper sewe jaar die vreemde weersomstandighede van Pretoria, wat glad nie ideaal is vir hop-plante nie, getrotseer totdat daar uiteindelik genoeg geoes kon word vir die bierbrouproses.

Capital Craft het sy eie boetiekbier wat plaaslik verbou is onlangs bekendgestel. (Foto: Maroela Media)

Volgens Auriacombe en Groenewald is die hop aanvanklik net vir die estetiese waarde van die plant by die restaurant gekweek en die idee was nooit om self bier te brou nie. Die hop-plant het lank gesukkel, maar met die inperking verlede jaar het dit skielik net begin floreer.

Hop word hoofsaaklik in die bierbrouproses gebruik as ʼn bitter-, geur- en stabiliteitsmiddel in die bier, wat aan die bier sy kenmerkende bitterheid, maar ook blom-, vrugtige of sitrusgeure en aromas gee.

Ná dit geoes is, is dit in ʼn tas teruggevlieg na die Kaap waar die Devil’s Peak Brewery die span van Capital Craft gehelp het om 700 l van die besonderse ligkleurige bier te brou.

Die hoofstad se eie hop verleen aan die bier ʼn aroma wat herinner aan ʼn verskeidenheid van vrugte, wat wissel van sitrus tot tropiese vrugte, ondersteun met ʼn sagte mout, wat die ruggraat van die boetiekbier vorm.

“Gelukkig het die oë darem nie te veel gerek oor die vreemde groen plante, verpak in sakke met Johannesburg se silhoeëtte daarop gedruk nie,” vertel Auriacombe.

“Nou het ons ʼn skuiwergat gekry – ons het nie ons eie bier gemaak nie, ons het dit verbou,” vertel Johan Auriacombe van Capital Craft. (Foto: Evan Captures/Verskaf)

Die Capital Craft-span is dit eens dat die bier, en die hop-plantjie waaruit dit ontstaan het, die toonbeeld is van die uitdagings wat die restaurant in sy bestaan en veral met die pandemie deurstaan het.

“Droogte en dronkenskap en kilometers lange reise – as daar ʼn simbool en plakkaat van inspirasie vir ons restaurant gemaak moet word, sal dit dié hop-plantjie wees.”

Die Hop On Hop Off Pale Ale kan slegs by Capital Craft in Pretoria geniet word. Kom proe ʼn glas van die “beperkte bier-uitgawe” by dié restaurant.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.