Soorte resepte:

Rooibos: Skink ʼn koppie vol gesondheid

Foto: Maroela Media

Foto: Maroela Media

Geskryf deur Sonja Carstens vir élan, Medihelp mediese skema se tydskrif, 2016-winteruitgawe.

Rooibostee word al vir eeue gebruik as natuurlike gesondheidsdrankie, en dis reeds meer as ʼn eeu sedert ons eie, Suid-Afrikaanse rooibostee wêreldwyd geskink word. Dié drankie, wat net in Suid-Afrika verbou word, is propvol gesondheid en kan help met veel meer as ʼn mooi vel.

In die diep, sanderige grond teen die hange van die Sederberg in die Wes-Kaap groei rooibos al eeue lank wild. Lank voor plantkundiges in 1772 dié bossie “ontdek” het, het die antieke San die kalmerende, strelende effek van dié bossie benut.

Suid-Afrika is die enigste produsent van rooibostee soos ons dit ken, maar ironies genoeg is dit te danke aan ʼn Russiese immigrant dat die rooibosbedryf vandag 15 000 ton tee per jaar produseer, en dat daar wêreldwyd daagliks sowat 16 miljoen koppies rooibostee gedrink word.

Die wêreld ontdek rooibos

Benjamin Ginsberg, ʼn jong Jood, het kort ná die Anglo-Boereoorlog in Clanwilliam aangekom om hom aan te sluit by sy pa, wat ʼn winkel in dié dorpie aan die voet van die Sederberg gehad het. Ginsberg, wat eens by ʼn beroemde Russiese teehandelaarsfamilie geloseer het, het dadelik die potensiaal van rooibostee raakgesien.

Ginsberg het hom voorgeneem om die Sederberg-gebied die nuwe Ceylon te maak. Hy het rooibostee onder stedelinge begin bemark deur pamflette en gratis koevertjies met tee in Adderleystraat in Kaapstad uit te deel. Kort voor lank het hy ook Indiese en Chinese droogtegnieke begin inspan om die smaak van die tee te verbeter en dit meer na Oosterse tee te laat lyk. Die oudste bestaande rooiboshandelsmerk, Eleven O’ Clock, is Ginsberg se oorspronklike rooibostee-handelsmerk.

Tot in die 1930’s is rooibostee geoes waar dit wild teen die hange van die Sederberg gegroei het. Maar met die hulp van ʼn goeie vriend, dr. Pieter le Fras Nortier, het hy rooibostee kommersieel begin verbou. Kort voor lank het die twee die kuns hiervan vervolmaak.

Maar in plaas daarvan om self voordeel te trek uit die kultiveringsmetode vir rooibos wat hy ontwikkel het, het Nortier dit met die hele distrik se boere gedeel. Toe Ceylontee in die Tweede Wêreldoorlog begin skaars word, het die rooibosteebedryf vlamgevat. Tot in 1968 was dit egter bloot ’n plaasvervanger vir Ceylontee.

Suid-Afrikaanse dokters het dekades lank kafeïenvrye rooibostee as kuur vir spysverteringsprobleme en senuweekwale voorgeskryf. Selfs in Amerika het die dieetkundige en vader van graanvlokkies, dr. JH Kellogg, rooibos reeds in 1910 as ’n gesonde alternatief vir gewone tee aanbeveel.

Vanjaar, 48 jaar gelede, het wyle dr. Annique Theron, stigter van die Annique-velsorgreeks, agtergekom rooibostee het ʼn kalmerende effek op haar allergiese koliekbaba. Dié effek van rooibos is maar een van talle wat later deur internasionale navorsing bevestig is.

Wat’s in jou koppie?

Rooibos behoort tot die Aspalathus-plantgroep wat bestaan uit meer as 200 spesies wat in die Sederberg-gebied van Suid-Afrika groei. Die naam “rooibos” het geografiese aanwyserstatus, wat beteken dat slegs rooibostee wat in die Wes-Kaap verbou word, “rooibos” genoem mag word.

Die blare van die bos, ook bekend as “rooi tee”, word geoes, gekneus en in die son gelaat om te oksideer – dis wat die tee ʼn kenmerkende rooi kleur gee. Dit word dan gekook of in water laat lê om ’n tee te maak wat warm of koud geniet kan word.

Rooibostee bevat aspalatien, ’n geurstof wat voorkom in geneeskragtige kruie wat gebruik word om vel- en sirkulasieprobleme mee te behandel. Rooibos het ’n besonder hoë vitamien C-inhoud van 15,7 mg per 100 g. Boonop bevat dit min tannien: sowat 4,4% teenoor die 12% in gewone tee. (Tannien belemmer die absorpsie van minerale.) Rooibostee bevat ook klein hoeveelhede fluoried, kalsium en mangaan.

Japanse navorsing oor die effek van oligosakkariede, wat ook in rooibos gevind word, dui aan dat hierdie stof die immuunstelsel help om virusinfeksies af te weer. Boonop is rooibos ryk aan flavonoïede (antioksidante wat die optrede van superoksied-dismutase of SOD naboots deurdat dit vrye radikale verwyder).

Regmerkies vir rooibostee

  • Rooibos is heeltemal suiwer en natuurlik sonder enige bymiddels, preserveer- of kleurmiddels.
  • Dit is die ideale drankie vir diegene met ’n bedrywige lewenswyse, want dit kan in onbeperkte hoeveelhede ingeneem word sonder enige nadelige uitwerking.
  • Rooibos is ’n verfrissende dorslesser vir sportlui as dit in die vorm van ystee of gemeng met vrugtesap gedrink word. Dit is ’n strelende drankie sonder enige kilojoules – ideaal vir figuurbewustes.
  • Rooibostee is uitstekende waarde vir geld in vergelyking met ander teesoorte. Dit bevat klein hoeveelhede yster, kalium, magnesium, mangaan, koper, kalsium en sink. Die sakkies kan meer as een keer gebruik word sonder om smaak te verloor.
  • Studies wat vroeër deur die mediese navorsingsraad gedoen is, dui daarop dat rooibos ’n kragtige antioksidant bevat wat beskerming bied teen selfbeskadiging en mutasies, wat lei tot siektes soos kanker.
  • Dit het anti-inflammatoriese en anti-allergiese eienskappe. Rooisbostee kan verligting bring vir toestande soos hooikoors, asma, allergieë, slapeloosheid, spanning, hardlywigheid, maagkrampe, koliek, aknee, ekseem, doekuitslag en selfs ligte depressie.

Rooibos en kanker

Kanker ontstaan in die liggaam wanneer die DNS van ’n gesonde sel só beskadig word dat dit in ʼn kankersel ontvorm. Dit gebeur deur onder meer rook, alkohol, die son, virusse, die omgewing of jou dieet. Rooibos beskerm die DNS-selle van die liggaam waar kanker vorm. Rooibos werk ook die vorming teen van vergroeisels op die vel wat velkanker veroorsaak. Waar daar reeds kankerselle is, kan dit help voorkom dat kankerselle vermenigvuldig en ’n kankergewas vorm.

Rooibos en diabetes

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) sal diabetes 493 miljoen mense wêreldwyd raak teen 2030. Tans worstel meer as 7 miljoen Suid-Afrikaners reeds met die siekte. In ’n Japanse studie is bewys die aspalatien in rooibostee kan help om die glukose-opname van spierselle by tipe 2-diabetes te verbeter, wat help om ʼn normale bloedsuikervlak te handhaaf. Rooibos dien ook as eetlusdemper wat weer help met gewigsverlies – ook ʼn risikofaktor vir diabetes.

Rooibos en hartsiektes

Benewens MIV- en vigsverwante siektes, is kardiovaskulêre siektes die hoofoorsaak van sterftes in Suid-Afrika. Navorsing het bevind die biomerkers wat met kardiovaskulêre siekte verband hou, verminder aansienlik met die drink van rooibostee. Kliniese navorsing op mense het bewys ses koppies rooibostee per dag vir ses weke is veilig vir die lewer en niere, terwyl dit bloeddruk en cholesterol binne normale perke kan help hou.

Rooibos en lewersiektes

In ’n tien weke lange studie is slegs rooibostee (geen water nie) aan rotte met lewerskade gegee. Die studie het bevind dat die rooibostee die lewer teen strukturele, ensiem- en biochemiese skade beskerm en selfs van die skade wat reeds aan die lewer gedoen is, kon herstel.

Vinnige feite oor rooibostee

  • Rooibostee help om hoofpyn te verlig.
  • Rooibos gee jou immuunstelsel ’n hupstoot.
  • Kies eerder rooibos as ander drankies as jy met nierstene sukkel. Dit bevat amper geen oksaalsuur (’n toksiese suur wat in sommige plante aangetref word en die vorming van nierstene aanhelp) nie.
  • As gevolg van die lae tannieninhoud in rooibos is dit die perfekte drankie vir swanger of borsvoedende vroue en mense wat las het van bloedarmoede, want dit belemmer nie die opname van yster en proteïen nie.
  • Drink ses koppies rooibostee per dag vir ses weke om jou lewer en niere te ontgif.

Bekendes wat in rooibos glo

Wat het Charlize Theron, Anthony Hopkins, Angelina Jolie, Hugh Jackman en Gwyneth Paltrow in gemeen? Hulle gebruik almal rooibos as skoonheidsmiddel in die een of ander vorm. Die sink in rooibos is noodsaaklik vir velvernuwing, terwyl die natuurlike alfahidroksiesuur help om fyn lyntjies en plooie te versag.

  • Angelina Jolie hou haar vol lippe vogtig met ʼn lipbalsem wat onder meer rooibos bevat.
  • Gwyneth Paltrow en die supermodel Miranda Kerr drink rooibostee om te ontgif en om hul gewig in beheer te hou.
  • Charlize Theron, Jessica Alba, Hugh Jackman en supermodel Candice Swanepoel gebruik skoonheidsprodukte wat rooibostee bevat.
  • Die aktrise Salma Hayek en Victoria Secret-model Adriana Lima drink ’n rooisbosdrankie om hul velle te reinig.
  • Die aktrise Helen Mirren vat haar sakkies rooibostee oral saam met haar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Waarheid ·

Gesondheid. Dis net freshpak wat mens 2keer die sakkie kan gebruik sonder dat smaak en kleur onaanvaarbaar verdwyn. MAAR sy prys het byna verdubbel wat duidelik grens aan verbruiker uitbuiting. Jammer maar waar.

Tresia Browne ·

Annique, elke produk op die mark bevat, Rooibos ekstrak. Die mees suiwerste rooibos op die mark. Gaan kyk op ons web, wat se produkte is daar alles op die mark. Werklik die beste.

Renie ·

As kind het ons regte “bossies” tee gedrink – baie lekker! Dit moes lank getrek het. Dit het in die Ooskaap lngs die kus gegroei. Kan iemand meer uitbrei daaroor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.