Soorte resepte:

‘Ruimtewyn’ vir ʼn paar miljoen per bottel

(Foto: Christie’s Images Limited 2021)

Pétrus 2000, ʼn bottel ruimte-verouderde Bordeaux-wyn wat ongeveer 14 maande aan boord van die Internasionale Ruimtestasie (ISS) deurgebring het, sal na verwagting vir miljoene opgeveil word.

Die afslaer Christie’s het onlangs bekendgemaak dat dié “ruimtewyn” kopers sowat $1 miljoen (ongeveer R14 miljoen) uit die sak kan jaag.

Dit is die eerste keer dat wyn in die ruimte verouder is en na die aarde teruggekeer het. Die wyn is in ʼn noukeurig gemonitorde en beheerde omgewing verouder as deel van ʼn reeks eksperimente wat deur Space Cargo Unlimited gedoen is.

Op 2 November 2019 het Space Cargo Unlimited, in vennootskap met Thales Alenia Space en Nanoracks, 12 bottels wyn aan boord van ʼn Cygnus-kapsule (Northrop Grumman) na die ISS gestuur. Dit het op 14 Januarie 2021 aan boord van ʼn Dragon-ruimtetuig (SpaceX) teruggekeer na die aarde.

ʼn Bottel van dié ruimtewyn word nou aangebied in ʼn unieke trommel wat deur die Paryse Maison d’Arts Les Ateliers Victor ontwerp en gemaak is, saam met ʼn wynkraffie, glase en ʼn kurktrekker gemaak van ʼn meteoriet.

In Maart het ʼn paneel van 12 wynkenners en wetenskaplikes, onder wie Jane Anson, Philippe Darriet en Erik Samazeuilh, ʼn proegeleentheid bygewoon om die aardwyn en ruimtewyn volgens visuele, smaak en reukagtige kriteria te beoordeel. Die aanvanklike resultate het bevind dat al 12 bottels positief op die voorbereiding, reis en berging op die ISS gereageer het.

Opvallende verskille in die kleur-, aroma- en smaakkomponente is opgemerk.

Pétrus is wêreldwyd bekend vir sy uitsonderlike eienskappe. Dié wyn is gekies as die voorkeurwyn vir hierdie eksperiment omdat die Pétrus-landgoed hoofsaaklik een variëteit, merlot, gebruik, en omdat die wyn ʼn gedokumenteerde geskiedenis het wat die invloed van die tyd wat die wyn in die ruimte deurgebring het, kan meet. Die 2000-oesjaar bied ook ʼn ideale struktuur vir die ontleding van so ʼn eksperiment.

Volgens Christie’s sal die opbrengs gaan vir die finansiering van toekomstige ruimtesendings. Versamelaars het dus die geleentheid om ‘n stuk wyn- en ruimtegeskiedenis te bekom, terwyl hulle ook bydra tot deurlopende navorsing. Die wyn is beskikbaar vir onmiddellike aankope op Christie’s se private verkoopafdeling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cherokee ·

Klink asof die beoogde vleisbraai meer kan kos as waarvoor begroot is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.