Soorte resepte:

SA chenin kan Amerikaners se aandag trek

lauren-buzzeo-01

Lauren Buzzeo, die besturende redakteur van die hoogs gerekende ‘Wine Enthusiast’, ʼn tydskrif en webwerf wat in die VSA gesetel is, maar wêreldwyd gelees word. Foto: Verskaf.

Indien Suid-Afrika sy bemarkingsboodskap aan ʼn enkele variëteit van wyn koppel soos wat Nieu-Seeland met sauvignon blanc en Argentinië met die malbec gedoen het, kan die land daarin slaag om direk met die hart van Amerikaanse wynliefhebbers te praat.

Dit is die mening van Lauren Buzzeo wat onlangs aangestel is as besturende redakteur van die hoogs gerekende Wine Enthusiast, ʼn tydskrif en webwerf wat in die VSA gesetel is, maar wêreldwyd gelees word.

Buzzeo, wat sedert 2010 as die tydskrif se proedirekteur en senior redakteur oor Suid-Afrika verslag doen, het Suid-Afrika vroeg in Julie besoek as een van die beoordelaars in die 2017 Standard Bank/Chenin Blanc Top 10 Challenge. Die ander vyf beoordelaars, twee van hulle wat Masters of Wine-toekennings ontvang het, woon almal in Suid-Afrika.

“In plaas daarvan om daarop aanspraak te maak dat julle alles kan doen, sou dit beter wees om die klem te laat val op dit wat julle die beste doen,” was haar advies aan plaaslike wynmakers. “As julle chenin blanc sou posisioneer as ʼn Suid-Afrikaanse spesialiteit, staan julle ʼn beer kans om by wynliefhebbers ʼn deurbraak te maak. Gee hulle iets waarmee hulle hulself kan assosieer, iets wat hulle ʼn beter begrip van die wyne van die land gee, want, jammer om te sê, Suid-Afrika is nie wyd bekend in die Amerikaanse mark nie.

“Dit sal makliker vir Amerikaners wees om Suid-Afrika te sien as die land van die oorsprong van hierdie verbasend verfrissende, tafelwyn as om hulle te probeer vertel dat die land se sterk punt sy vermoë is om ʼn enorme verskeidenheid van wynstyle te produseer.”

Die VSA is sedert 2013, betreffende waarde, die wêreld se grootste enkele wynmark.

Buzzeo meen dat, soos wat die bewustheid groei en aanvraag toeneem, sal Suid-Afrika se kenmerkende chenins – met geure van sitrus en ryp steenvrugte, dus nie te soet nie en met ʼn onopgesmukte effe suur smaak –gemaklik tussen $10 (sowat R129) en $20 (sowat R260) verkoop.

Sy het gewaarsku dat wynmakers nie hulle chenins te laag vir die Amerikaanse mark moet prys nie. “Deur hoëgehaltewyne teen ʼn té lae prys te bied, loop wynmakers die gevaar dat die verbruikers sal dink hul wyne is nie die moeite werd nie en dat hulle nie verdien om ernstig opgeneem te word nie.”

Sowat 18,5% van Suid-Afrika se nasionale wingerd van 95 775 hektaar is onder chenin blanc. Dit is meer as in enige ander land. Om die waarheid te sê, dit is meer as die totaal van wat elders in die wêreld aangeplant is. Vir die oorgrote deel van die 20ste eeu is die druiwe hoofsaaklik deur brandewynprodusente gebruik.

Wat tóé ploegperd was, is egter nou skouperd, danksy die Chenin Blanc-vereniging onder voorsitterskap van die bekende wynmaker Ken Forrester, wat ʼn belangrike rol gespeel het om die beeld van dié druifsoort weer aansien te gee. Vandag gebruik baie van die land se voorste wynmakers chenin blanc vir hul vlagskipwyne en wen daarmee internasionale erkenning oor die hele spektrum heen.

Chenin blanc, wat vermoedelik sy oorsprong in die Loire-gebied van Frankryk gehad het, is ʼn uiters veelsydige kultivar wat homself leen tot ʼn wye verskeidenheid van droë, vrugtiger en edel-laatoeswyne.

Volgens Buzzeo neig Suid-Afrikaanse chenins om meer vrug-gefokus as hul Franse teenhangers te wees: “Hulle is nie grootdoenerig nie, maar hul wyne is toegankliker as dié van die Loire, wat ʼn meer sober en mineraalagtige karakter het.”

Sy stel egter nie voor dat Suid-Afrika se totale bemarking op chenin gefokus moet wees nie. “Ek is werklik opgewonde oor die gehalte van Suid-Afrikaanse chardonnays en pinotages. ʼn Nuwe dag het aangebreek vir pinotage – laat ons vergeet van die negatiewe assosiasies met geure van asetoon en gebrande rubber. Daar is ʼn nuwegeslag-wynverbruikers wat gretig is om interessante en ongewone wyne te proe. Hulle is nie bewus van die bagasie wat pinotage met hom saamdra nie en is gereed en opgewonde om die hedendaagse verfynde en elegante wyne op die proef te stel.”

Sy het ook lof gehad vir Suid-Afrikaanse cabernets.

Met verwysing na die wyne wat vir vanjaar se Standard Bank/Chenin Blanc Top 10 Challenge ingeskryf is, het sy gesê hulle weerspieël ʼn voortgesette verbetering en innovasie. “Ek het werklik oor baie van hierdie wyne opgewonde geraak. Daar is ʼn wonderlike gees en ʼn vermoë om grense te verskuif. Hierdie chenins gee uitdrukking aan wat Suid-Afrika so ʼn bekoorlike land maak.

“Ek is dol oor die mense, die wyn, die kos, die stories, die argitektuur en die feit dat daar so ʼn sterk fokus op volhoubaarheid is. Danksy sosiale media het julle nou die kans om nie net met woorde te kommunikeer nie, maar ook met die allerpragtigste foto’s waarvan die Amerikaanse verbruiker meer benodig om ʼn beter begrip van die oorweldigende skoonheid van die land te kan vorm.”

  • Die wenners van die 2017 Standard Bank/Chenin Blanc Top 10 Challenge word op 23 Augustus aangekondig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Andre ·

Dink more middag sal gebraaide snoek en n yskoue chenin blanc op my menu wees.

Mielie ·

Ek lief Chenin. Sal lief om net n Chenin tasting te doen….

Boland ·

Wel daar moes al 5 jaar terug iets met pryse vir produsente by kooperatiewe kelders gedoen gewees het.Ek is n wynboer in die Boland en kry R2.50 van n bottel wyn vir my druiwe.Dan is dit droeland wat gehalte is.Na 2 jare van droogte en n derde oppad is ons op ons kniee.Kom nou wyn liefhebbers begin vrae vra hoekom boere so min kry anders gaan julle een van die dae net ingevoerde crap moet drink.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.