Soorte resepte:

Só beklink verskillende lande rooibos op internasionale teedag

Baie Suid-Afrikaners geniet ‘n doodgewone koppie rooibostee in sy suiwerste vorm. (Foto: MyaTH/Unsplash)

Rooibostee is lankal nie meer net Suid-Afrikaanse teedrinkers se hart se punt nie.

Teedrinkers wêreldwyd lig vandag ʼn koppie op hul geliefde drankie tydens die viering van internasionale teedag.

Dié viering het ten doel om bewustheid van die lang geskiedenis, diep kulturele en ekonomiese betekenis, sowel as die volhoubare produsering van tee regoor die wêreld te vier. Die internasionale teedag word ook sedert 2005 op 15 Desember in ander teeproduserende lande, onder meer Indië, Sri Lanka, Nepal, Viëtnam en Indonesië gevier.

Party mense hou van ‘n tikkie suurlemoen in hul tee. (Foto: Elena Leya/Unsplash)

Hoewel daar honderde variante en weergawes van dié kruiedrankie is, blyk dit ook toenemend dat mense wêreldwyd graag ʼn koppie geurige rooibustee nuttig.

Volgens Adele du Toit, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Rooibosraad, word dié trots Suid-Afrikaanse uitvoerproduk egter op verskillende wyses wêreldwyd geniet.

“Teedrinktradisies is al eeue lank in kulture regoor die wêreld geïnkorporeer en die verskillende maniere waarop mense hul tee drink, openbaar elk se unieke kulturele nuanses.”

Hoe geniet Suid-Afrikaners hul koppie rooibostee?

Volgens ʼn opname wat die Rooibosraad by meer as 1 000 tee-entoesiaste gedoen het, verkies die meeste Suid-Afrikaners (41%) om rooibos in sy suiwerste vorm te drink. Slegs vier uit tien sal melk byvoeg.

Sowat 21% versoet hul tee met suiker, versoeter of heuning en 20% voeg selfs ʼn tikkie suurlemoen daarby. Sommiges het ook gesê hulle hou daarvan om ʼn bietjie whisky of jenewer by te voeg vir ʼn ekstra skop in hul rooibos.

As dit kom by die soort rooibosteeproduk verkies baie Suid-Afrikaners (44%) ʼn standaard koppie tee, maar die meerderheid (56%) geniet dit ook in as ʼn espresso, gegeurde chai- en ystee.

Amerikaners verkies ystee. (Foto: Jennifer Pallian/Unsplash)

Hoe maak die res van die wêreld?

Du Toit sê lande met ʼn Engelse herkoms is geneig om rooibos met melk en suiker te drink, terwyl die Oosterse nasies dit flou, swart en sonder suiker of geurmiddels geniet.

“Daarteenoor hou die Europeërs daarvan om rooibos met kruie wat delikate geure het, te meng. Die Amerikaners hou weer meestal van hul rooibos sterk, soet of as ʼn ystee,” verduidelik sy.

Wat is die beste manier om rooibos te drink?

Du Toit sê daar is regtig geen vaste reëls oor hoe om rooibos te drink nie, maar haar aanbeveling is om een of twee teelepels los blare of een teesakkie per koppie (250 ml) kookwater vir minstens vyf minute te laat week.

“Om dit langer te laat week sal die anti-oksidantinhoud verhoog. Moet ook nie kookwater direk op die teesakkie gooi nie, aangesien dit nie die beste manier is om die optimale vlak van antioksidante uit jou koppie te kry nie. Vul eers jou koppie met kookwater en voeg dan los rooibosblare of die teesakkie by.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.