Soorte resepte:

Stellenbosch Wynroetes ’n bestemming op sigself

Een van die elegante kelners by Lanzerac wag jou in met yskoue borrels terwyl jou motor parkeer en jou bagasie in jou kamer neergesit word. (Foto: Clifford Roberts)

Dis vandeesmaand nog lekkerder om in Stellenbosch te kuier: die akkerbome is oortrek met nuwe, amper-te-groen blare; die Stellenbosch Wynroetes vier vanjaar sy 50ste verjaardag – die land se eerste en oudste – en op 9 Oktober word Internasionale Pinotagedag gevier, skryf Maryke Roberts.

Ons Eikestad-kuier is rondom ons verblyf by Lanzerac Wynlandgoed se luukse hotel en spa beplan. Nadat ’n groot deel van die historiese hotel in 2017 afgebrand het, spog dit nou met ’n vyfstertabberd. Hier skuur meubels uit die 1700’s skouer met moderne bykomstighede. Die pleister van stukke van die oorspronklike mure is netjies afgekap om die ou herehuis en kelder se aanbouings oor die eeue te wys. Oral brand kaggels gesellig sodat jy net kan ontspan.

By ontvangs neem die elegante jong man jou motorsleutels en terwyl jy in die Governor’s Hall aan jou Lanzerac Méthode Cap Classique teug, parkeer hy jou motor en sit jou bagasie in jou kamer neer. Dié gebou was die wynkelder wat uit 1925 dateer, waar Abraham Izak Perold glo die wêreld se eerste pinotage bedink het. Dié kruising tussen Pinot Noir en Cinsaut is eg Suid-Afrikaans.

Die dekor laat jou mond oophang. Die visie van Con van der Colff, ontwerper, bouer en binnenshuise versierder wat ook die bouprojek oorsien het, is verbysterend. Con het regoor die wêreld op soek na meublement gaan snuffel. Die Governor’s Hall se houtbalke weeg elkeen ’n ton en pryk soos die boeg van ’n skip oor die vertrek se plafon.

Ons is in vervoering oor ons kamer wat eintlik ’n huisie op sy eie is. Die swembad glim kobaltblou anderkant ons wit hout pergola. Ons verken en kyk na alles, van die knibbelgoed op die tafel tot die bottel pinotage wat neffens ’n handgeskrewe notatjie lê. Buite is die fluweelkussing op die dagbed uitnodigend. Die twee swemhanddoeke is opgefrommel en een op die grond. Dis ongewoon, want die res van ons kamer is onberispelik.

Toe ons minute later met ons kougoed en glas Lanzerac Heritage Mrs English 2016 onder die pergola sit, swaai twee eekhorings in die akkerboom reg langs my verby, pure aapstreke. Die deurmekaar handdoeke maak skielik sin.

Die Mrs English Chardonnay het haar naam te danke aan Elizabeth Catherina (Kitty) English, die vrou aan wie Lanzerac sy naam te danke het. Sy het die plaas, toe bekend as Schoongezicht, in 1920 gekoop en die naam verander. Dis blykbaar na generaal Charles Lanzerac vernoem, ’n Franse generaal wat in die Eerste Wêreldoorlog geveg het.

Net wynplase is deel van ons naweekplanne, om behoorlik saam fees te vier met alles wat die dorp gedenk. By die proelokaal gaan ons onder die majestueuse bome sit. ʼn Mens mis die oorsese toeriste, maar dis tog lekker om Afrikaans te hoor. Die landgoed is beslis baie geliefd onder Suid-Afrikaners. Kitty English se storie kom volsirkel toe ons hoor die Lanzerac Le Général – ’n cabernet-gedrewe versnit – is een van die landgoed se gewildste wyne.

Die bekroonde Pionier’s Pinotage 2018, wat hulde bring aan die wêreld se eerste kommersiële bottel pinotage wat 60 jaar gelede op Lanzerac gebottel is (die 1959-oesjaar), kom uit ’n enkelblok pinotage en is propvol plakkers. Ons proe-assistent, Brian Chibaya, sien ons belangstelling in pinotage en gaan haal ook ’n 1969-oesjaar bottel pinotage. Dis tien jaar na die eerste oesjaar gemaak en slegs 375 ml. Die etiket is effens verweer, maar ons lees: “’n Effens volmondige droë rooiwyn.”

Ons tuiste vir die naweek was Lanzerac Wynlandgoed, waar die eerste bottel kommersiële bottel pinotage 60 jaar gelede gebottel is. (Foto: Clifford Roberts)

Wynroete stigters

Terug by die wynroete-verjaardag. Die drie stigters – Frans Malan (toe eienaar en wynmaker by Simonsig), Neil Joubert (toe wynmaker by Spier) en Spatz Sperling (toe eienaar en wynmaker by Delheim) het die fondamente vir die wyntoerismebedryf gelê wat vandag in vyf provinsies tot 23 wynroetes uitgebrei het.

Tydens ’n reis in 1969 na Boergondië het Frans en Niel die Routes des Vins at Morey St Denis ervaar en besef dié idee kan ewe goed in Stellenbosch werk. Met hul tuiskoms het die twee met Spatz vergader om die nuwe organisasie te vorm en só is die Stellenbosch Wynroetes amptelik in 1971 gestig.

Groenland, Koopmanskloof, Blaauwklippen, Verdun, Overgaauw en Neethlingshof het gou by die drie stigterslede aangesluit en ’n georganiseerde netwerk van wynplase wat proeë – en in sommige gevalle ligte maaltye – aangebied het, is gevestig. Die besoeker kon van plaas tot plaas ry, wyn proe en wyn koop. Die wette het toe gestipuleer dat wyne in bokse van 12 verkoop moes word. Hoe baie het dinge nie oor vyf dekades verander nie!

Die historiese herehuis op Lanzerac Wynlandgoed. (Foto: Clifford Roberts)

Terug by die hede

Daar is min dinge so lekker as om vry op ’n plaas rond te stap en Spier gee besoekers voorwaar daardie kans. Of jy nou langs die dam gaan stap, na die mosaïekkunswerke gaan kyk, ʼn wynproe buite op die stoep doen, of by een van die restaurante gaan eet, daar is genoeg ruimte, vars lug en briesies in die bome vir elkeen. Jy kan so deel of alleen wees soos wat jy verkies.

Een van ons gunstelinge is om op Die Werf (die groot grasperk tussen al die historiese geboue) met ’n piekniekmandjie te gaan sit. Kinders lag en hardloop rond; hoog in die palmbome wieg die windjie liggies. “Sorgeloos” is die woord waaraan ek eerste dink.

Die vorige keer toe ons hier gekuier het, was die jaarlikse Chenin Blanc-partytjie en net voor dit, die Light Art-fees. Dit is tydens dié fees dat die heerlike, yskoue The Yellowwood Organic White 2019 bedien is met Harissa-hoenderrepies, blomkoolrysslaai met cheddar, kruie, seldery, haselneute, geroosterde knoffel, dadels en ’n fynbos vinaigrette. Die plaas beweeg al nader aan ten volle organies, met ’n eie groente- en kruietuin en al 100 hektaar organiese druiwe. Hul organiese en biodinamiese wyne trek ook nou baie aandag.

Die piekniek bring regtig die beste van die somer na vore.  Die winter het sy eie bekoring voor die kaggel.

Die plaas het ook sy wyn in blikkies verpak en dit gaan gereeld in ons rugsakke saam as ons die berge in die wynlande gaan verken.

Sononder maak goue buitelyne om alles en almal wat op die plaas kuier. Danksy snaakse toeval op my slimfoon, skep dit hierdie interessante beeld van wynliefhebbers. (Foto: Clifford Roberts)

Uiteenlopend

Wat so lekker is van die wynroete-lede is hoe uiteenlopend elkeen is. Jy kan in ’n 300 jaar oue herehuis sit oortrek met pragtige Afrikana om jou, of ’n Russiese tee geniet, of die nuutste tegnologie in ’n wynkelder sien wat deur ’n Oekraïnse sakeman besit word.

Laasgenoemde, Quoin Rock – aan die ander kant van die dorp – is nie een van die oudste plase of een van die eerste lede van die wynroete nie, maar beslis een van die plase waar innovasie en weelde hande neem vir ’n onvergeetlike besoek. Vitaly Gaiduk, die eienaar, is mal oor kuns. Dit word deurgevoer na die kuns van mooi en lekker kos; die kuns van ’n mooi omgewing en argitektuur en natuurlik die kuns van goeie wyne.

Die plaas se Stellenbosch-wingerde is meer vir rooi druifsoorte, merlot, shiraz en cabernet sauvignon geskik. Die Elim-wingerde lewer weer uitstekende sauvignon blanc en chardonnay. Daar is twee wynreekse, die Quoin Rock- en Namysto-reekse. Namysto verwys na ’n kralehalssnoer; een van die oudste vrouejuweliersware uit die Oekraïne.

Jack Coetzee, die restaurant Gåte se hoofsjef, gee met elke besoek aan gaste ’n onvergeetlike kulinêre reis. Skryf die res van die dag af, want hier sal tyd vir jou stilstaan.

Jack se spyskaart is vir vele mense ’n emmerskoplys-ervaring en is beslis ’n sensoriese reis. Elkeen van die geregte word perfek gepasmaat met wyne uit die Quoin Rock-reeks. Elke dis loop oor van geure en seisoenale kleure en is ’n Instagram-oomblik op ’n bord.

Voor ons die hongerkreune van ons mae kan gehoorsaam, gaan loer ons binne saam met wynmaker Schalk Opperman en proe ’n paar voorbeelde van sy wyne uit die tenks. Hy is nou net meer as ’n jaar die wynmaker hier, maar te oordeel aan dit wat hy nou in die tenks en vate vertroetel, gaan sy naam gou in die kollig wees. Nie dat die landgoed nie gewoond is aan die kollig nie: hul wyne is gereeld onder die wenners in die wêreld se voorste kompetisies. Schalk is in sy noppies dat hy nou hier uit die beste wingerdblokke kan kies.

Hy het sy vaardighede tot sover as Kalifornië en Frankryk gaan slyp om sy liefde vir Bordeaux-versnitte te voed.

Na die skelm kykie in wat op die wynfront voorlê, kry ons een van die agt beskutte piekniekplekke onder ’n prieel waar die middag loom verbysleep met ons piekniekmandjie en ’n bottel van die Quoin Rock rooi versnit 2016. Daar is ook mandjies vir kinders beskikbaar.

Daardie aand bad ek op Lanzerac met dieselfde goue uitsig deur die wingerde verby die antieke urn met plante in, terwyl ek die dag se kuiers herleef.

Ons gaan aandete in die Taphuis restaurant eet, met sy afgekapte baksteenmure en groot vergulde spieëls wat jou laat voel of jy iewers in Frankryk in ’n historiese ou gebou is. Die kaggels brand; buite is die windjie koud, al is dit lankal nie meer winter nie. Ons kelner gaan saam met ons deur die spyskaart en toe hy by die wynlys kom, sê hy trots: “Ons wyne is conversation starters. Dis volrond en vol verrassings en beslis ’n etiket wat jy sal onthou en weer sal wil koop.” Ons eet Wagyu-biefstuk. “Baie lekker, maar sappig en morsig,” het dié einste kelner geknipoog.

Geen naweek kan net lekker rondkerjakker wees nie. Iewers moet jy stil word. Dis doodstil om ons kamer. Deur die wingerde sien jy net fietsryers en drawwers op pad na Jonkershoek, terwyl ons uit die bed kyk hoe die son oor die koppe opkom – koffie in die hand. Elke dag as die skoonmaakspan daar was, is daar nuwe kougoed en die ketel en koffiemasjien vol water. Ons druk net knoppies.

Saans herhaal ons dié stilwordritueel met die goue strale deur ons wynglase as ons buite langs die swembad sit.

Een oggend gaan ry my man fiets. Toe hy 06:30 by ontvangs met sy fiets verbygaan, wag ons motor vir hom. Die ontvangsdame het hulle in kennis gestel nadat hy die vorige aand wou weet of die landgoed se hekke sluit!

Ek ruim dus ’n uur of twee vir die spa in. Allerhande behandelings word tot vroegaand aangebied, maar as jy al jou geld op wyn uitgegee het, kan jy die hidro-fasiliteite, wat ’n swembad, jacuzzi, stoomkamer en sauna insluit, gratis as deel van jou voordele as hotelgas gebruik.

Die bekroonde Pionier’s Pinotage 2018, wat hulde bring aan die wêreld se eerste kommersiële bottel pinotage wat 60 jaar gelede op Lanzerac gebottel is (die 1959-oesjaar) en ’n 1969-oesjaar bottel pinotage. Dis tien jaar na die eerste oesjaar gemaak en slegs 375 ml. Die etiket is effens verweer, maar ons lees: “’n Effens volmondige droë rooiwyn.” (Foto: Clifford Roberts)

Sonnige Sondae

Twee lekker ervaringe wag Sondag: ’n vroeë middagete by Waterford Landgoed se SALT-restaurant en laatmiddag ’n sensoriese wynproe-ervaring by Hazendal Landgoed.

My melankolie oor oorsese reis laat my goed sien: van Lanzerac tot Waterford Landgoed teen die voete van die Moordenaarskloof voel dit soos Nederland tot Italië. Waterford se klipfonteine en plataanbome in ’n binnehof is pure Italiaanse heerlikheid. Daar is ’n loomte in die laatoggend lentelug. Die lig is ook anders, effens meer vergewensgesind, sag op die vel. Blare ritsel liggies in die windjie en kort-kort dwarrel een en val by gaste se voete neer.

Middagete is by Craig Cormack en Beau du Toit se SALT-restaurant.

Daniel Warren is ons kelner en verduidelik die spyskaart: jy kies self jou maal, met of sonder Franse uiesop; daarna Boesmanland lamskenkel, gekorsde tofoe en confit vinkel, krakerige varkliesslaai of Thai groen viskerrie. Die spyskaart wissel van seisoen tot seisoen om altyd plaaslike vars produkte te kan gebruik. Toe ons vir voorstelle vra, is sy antwoord doodluiters: “My openingslyn vir gaste is altyd: as jy iets sien waarvan jy hou, bestel dit. Al die disse is lekker.”

Onderaan elke dis is ’n oulike sout-notatjie om jou meer te vertel oor waar die soutsmaak in die spesifieke dis vandaan kom en hoe dié bestanddeel gemaak word.

Jy kan verskeie wyne per glas bestel. Sommige is deel van die vaste spyskaart soos die Rose-Mary 2020, Elgin Sauvignon blanc 2020, Kevin Arnold Shiraz 2016, Elgin Pinot Noir 2018 en Waterford Heatherleigh en vorm deel van die sjef se pasmaatvoorstel; ander van die bekroonde wynkelder is ekstra.

Die maal skop met ’n “Farinaceous” af, of soos die spyskaart verduidelik, ’n pasta (peuselhappie), en ons smul aan die mosbolletjies met allerhande souse en piekels daarby.

Nagereg is ’n lekker klein affogato – sterk Italiaanse koffie met ’n bolletjie tuisgemaakte vanieljeroomys. Ons moet plek hou vir ons laaste stop.

Hazendal – weer aan die ander kant van die dorp – spog met allerhande nuwighede soos die  Wonderdal-sentrum, ’n tradisionele Russiese tee met versnaperinge, ’n kunsgalery, motorvertoonkamer met die eienaar se versameling ou Bentleys en Rolls Royces, biertuin, pieknieks en ’n 18-putjie gholfbaan. Langsaan al die pragtig gerestoureerde historiese geboue, word die luukse hotel gebou.

Wonderdal is ’n tegnologie-gedrewe speel-ervaring vir kinders tussen 5 en 13 jaar en ’n mengsel van fisiese en verstandelik-stimulerende aktiwiteite. Die fokus van die ervaring is aan onderwerpe gekoppel: natuurwetenskappe en lewensvaardighede, insluitend die verskeie vorms van energie, plantegroei en gesonde eetgewoontes.

Deel van die pret is dat kinders op hul reis deur virtuele realiteitskaraktertjies, Amuki, vergesel word.

Met pa’s en die kinders besig, gaan ons saam met ’n vriendin vir die sensoriese wynpasmaat-spyskaart aansit. Dit word onder in die intieme kelder aangebied en voor jy afstap uit die proelokaal, kry elke gas ’n yskoue glas 23.5 Blanc de Noir Cap Classique. Mervin Kaisler wys die kelder. Hy vertel Hazendal is een van die oudste Stellenbosch-plase wat in 1699 deur ene Christoffel Hazenwinkel begin is. Vandag is daar ’n hele wynreeks in sy naam beskikbaar.

Ons vertoef onder die vier olieverfskilderye van die plaas se vorige eienaars en Mervin gaan trots voort dat die plaas die afgelope paar jaar twee vroulike wynmakers gehad het: Ronel Wiid en nou Clarise Sciocatti-Langeveldt.

Al die ou wingerde op die plaas is tydens die restourasie uitgetrek en 12 hektaar met verskillende kultivars beplant. Alle wyne van die 2019 oesjaar kom van die plaas se eie wingerde. Vorige oesjare is ingekoop.

Onderin die intieme proelokaal met sy glasplafon neem ons by ’n spesiale glastoring plaas wat spesiaal vir dié proe ontwerp is. Mervin sê die proe is die koskunswerke van sjef Michelle Theron, wat gespasmaat is met Clarise se wynvernuf. Alles wentel om jou sintuie: dit wat jy sien, voel, ruik en proe. “Die glashouer met die verskillende happies in is soos ’n Matryoshka-pop; jy ontgin lagie vir lagie.”

Ons eet en drink die ses gange: Hazendal Semillon/Sauvignon blanc 2018 met mielie blini, mangosalsa en ’n geposjeerde garnaal; Chenin blanc 2017 met ’n snoek bon-bon, blatjangjellie; Rousanne 2018 met Bresoal, geroosterde boontjies en uiemarmelade; Chardonnay 2018 met olyfmadeleins, geklopte botter en Dalewood Huguenot-kaas; Syrah 2017 met gepekelde ostong met geroosterde peer en Pinotage 2017 met donkersjokolade gateaux, espresso en karamel.

Vir die paar dae hierna is daar geen oordaad op die dagboek nie: net herkou aan die herinneringe en saans om die blok stap om al daardie heerlikhede weg te werk!

Die Lanzerac-proelokaal met sy verouderingskelder onder is ’n gewilde kuierplek vir Suid-Afrikaners. (Foto: Clifford Roberts)

Nog interessanthede

Vandag het elkeen van die wynplase op die roete hul eie unieke aanbiedinge en Blaauwklippen is ook die tuiste van Kamers/Makers, die uitstalplek van Suid-Afrika se kreatiefste mense. Vanjaar word dit van 26-31 Oktober daar onder die bome, verby die fonteine en paadjies, so al om die deli, restaurant en speelpark gehou. Meer as 160 uitstallers neem deel.

Maar 1971 was ook die geboortejaar van ’n ander Stellenbosch-grote: In dieselfde jaar stel Frans Malan ook Suid-Afrika se eerste Cap Classique, die Simonsig Kaapse Vonkel, bekend. Dit word op die tradisionele manier, soos sjampanje met tweede fermentasie in die bottel – Méthode Champenoise – gemaak.

Op 6 November kan alle Cap Classique-liefhebbers lekker saam op die landgoed gaan feesvier wanneer 30 van ons land se voorste Cap Classique-produsente hul borrels te proe en te koop gaan aanbied. Daar is kostrokke, lewendige musiek en die dag behoort ’n vonkelwyn hoogtepunt te wees.

Besoek Wineroute.co.za vir meer inligting oor hoe jy dae op die wynplase van dié mooie wynlande kan verwyl, of loer by die gawe span se kantoor by Kerkstraat 47 in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.