Soorte resepte:

Stellenbosch Wynroetes vier halfeeu-bestaan

Delheim Wynlandgoed (Foto: Stellenbosch Wynroetes)

Stellenbosch Wynroetes vier vanjaar sy 50ste herdenking – ’n mylpaal wat ook die ontstaan van Suid-Afrikaanse wyntoerisme gedenk.

Afgesien daarvan dat die Eikestad die tuiste is van die mees uitsonderlike premiumwyne in Suid-Afrika, het Stellenbosch Wynroetes die weg gebaan vir die land se wyntoerisme – ’n bedryf wat jaarliks R7,2 miljard tot die BBP bydra.

Die Stellenbosch-wynstreek het ook reeds meer wyntoekennings per kapita as enige ander in Suid-Afrika verower.

“Ons 50ste feesviering kom op ’n baie geleë tyd,” sê Mike Ratcliffe, voorsitter van Stellenbosch Wynroetes.

“Die wynbedryf – en inderdaad die hele land – ondervind tans een van sy uitdagendste seisoene en dit is belangrik om terug te kyk op historiese prestasies, vir die inspirasie wat ons daaruit kan put en vir die werk wat op ons wag.”

Die eerste wynroete-padteken in 1971 (Foto: Stellenbosch Wynroete)

Sedert Stellenbosch Wynroetes se eerste stap 50 jaar gelede het wyntoerisme se voetspoor na vyf provinsies en 23 wynroetes uitgebrei. Die ontwikkeling van wyntoerisme in Suid-Afrika het gelei tot die transformasie van hierdie wynroetes se landelike landskappe, met moderne wynlandgoedere, gegradeerde hotelle en funksiegeriewe wat vir gaste bygevoeg is.

Vandag bestaan Stellenbosch Wynroetes uit ’n magdom wêreldklas-toerisme-ervarings buiten wynproeë, van wynsafari’s tot bekroonde fynproewergeleenthede.

“Stellenbosch se sukses is te danke aan die unieke kombinasie van verskeie faktore. Dit sluit onder meer die aantal en gehalte van die wynkelders, die natuurskoon van die omgewing, samewerking, asook die beskikbaarheid van kultuurtoerisme wat bydra tot wyntoerisme in,” sê Ratcliffe.

Stellenbosch Wynroetes is gestig deur die alombekende vreeslose driemanskap, wat in die 1960’s die status quo oor hoe druiwe aan koöperasies gelewer is om die eindproduk te maak, wou verander. Die bedryf is destyds deur KWV beheer en koöperasies het dikwels ’n surplus gelewer. Wingerdeienaars was ook nie toegelaat om wyn onder hul eie etikette te verkoop nie.

Frans Malan en Neil Joubert op die reis na Europa waar hulle aan die idee gekom het vir ‘n wynroete in Stellenbosch (Foto: Stellenbosch Wynroete)

Tydens ’n reis in 1969 na Boergondië het Frans Malan (Simonsig) en Niel Joubert (Spier) die bekende Routes des Vins by Morey St. Denis ontdek en die moontlikheid van ’n soortgelyke roete in Stellenbosch raakgesien. Met hul terugkeer het die twee met Spatz Sperling (Delheim) vergader om die nuwe organisasie te vorm en só is Stellenbosch Wynroetes amptelik in 1971 gestig.

Groenland, Koopmanskloof, Blaauwklippen, Verdun, Overgaauw, Neethlingshof, Hazendal, Uiterwyk, Muratie, Mooiplaas, Hartenberg en Koelenhof het hulle gou by die drie stigterslede aangesluit.

Met die stigting van Stellenbosch Wynroetes is ’n georganiseerde netwerk van wynplase wat proeë – en in sommige gevalle ligte maaltye – aangebied het, gevestig. Die besoeker kon van plaas tot plaas ry en wyn proe en koop.

Vandag het die roete vyf subroetes, wat uiteenlopende wyntoerisme-ervarings bied, van die alles insluitende luukse wynplase met proelokale, restaurante en verblyf tot klein boetiekwynkelders. Tans het die roete 120 wyn- en druifprodusente as lede, wat binne die Stellenbosch Wyn van Oorsprong-klassifikasie val.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.