Soorte resepte:

Vier vandag SA se geliefde rooibos

Suid-Afrika vier vandag vir die vyfde jaar Rooibosdag, ʼn dag waarmee beoog word om dié unieke, eg Suid-Afrikaanse uitvoerproduk te vier.

Die vraag na rooibos het die afgelope paar jaar geweldig toegeneem en die plant se gewildheid in Europa en Asië, asook die VSA hou aan groei. Kenners meen dat Suid-Afrika nog nie naastenby die ware ontploffing van die rooibosbedryf beleef het nie.

“Die tempo waarteen die plant se gewildheid groei is verbysterend. Van sy nederige kommersiële wortels in die 20ste eeu tot die globale bedryf waartoe hy vandag ontwikkel het, hou rooibos nooit op om ʼn mens te verstom nie,” sê Sanet Stander, organiseerder van die Rooibos-roete en Rooibosdag.

Rooibosdag word jaarliks op 16 Januarie gevier omdat Januarie die begin van die tee se oesseisoen is, en omdat een van die baanbrekers in die rooibosbedryf, Benjamin Ginsberg, op dié dag in 1885 gebore is.

Stander sê hulle wil graag hê die hele Suid-Afrika moet deelneem om hierdie dag te vier. En hoe kan jy dit doen?

Drink ʼn koppie rooibostee saam met ʼn buurman of vat jou vrou uit vir ʼn koppie van dié lekker tee. Jy kan ook een van vele lekker rooibosresepte maak. Koop of gebruik ʼn heerlike rooibos-velproduk of marineer selfs jou vleis vir die aand in ʼn rooibos-marinade.

Hier is ʼn paar vinnige feite oor rooibos:

  • Rooibos kom slegs in die Sederberg-streek voor
  • Die uiterste weersomstandighede – warm somers (tot 40 °C) en koue winters (tot -1 °C) – van die Sederberge help dat die rooibos goed daar aard
  • Rooibos is natuurlik kafeïenvry
  • Die rooibosbedryf skep werksgeleenthede vir meer as 5 000 mense
  • Rooibostee kan help om hoofpyn te verlig
  • Rooibostee kan help met nierstene omdat dit amper geen oksaalsuur (’n toksiese suur wat in sommige plante aangetref word en die vorming van nierstene aanhelp) bevat nie.
  • Die rooibosplant het ’n penwortel wat van drie tot vyf meter diep groei, en daarom moet dit in sanderige grond groei
  • Rooibos word van Suid-Afrika na meer as 30 lande uitgevoer
  • Duitsland, Nederland, Japan en die VSA is die grootste invoerders van rooibos

As jy vanjaar aan Rooibosdag deelneem, neem ʼn foto daarvan en plaas dit op sosiale media met die hutsmerk #myrooibosoomblik,  #rooibosdag en #trotssuidafrikaans.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Tanja ·

Ek is mal oor Rooibos tee, my ma het ons as kinders groot gemaak op Rooibos tee, warm of koud, melk of swart, met heuning of suurlemoen, maak nie saak nie, ń koppie Rooibos is altyd ń wenner. Maar deesdae moet ek seker maak voor ek die tee boksie in die trollie gooi daar is nie ń halaal teken op nie, lyk of die grooter handels merke deesdae alles halaal sertifiseer, dan ondersteun ons maar die kleiner regte egte Suid Afrikaans Rooibos tee vervaardigers sonder halaal merke.

Eend Bessinger ·

Ek is dol oor Rooibos, warm of koud, met of sonder melk of met vrugtesap. Dis nou gesondheid in ‘n glas of koppie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.