Soorte resepte:

Eet ‘fôrrin’ in Suid-Afrika

El Burro Foto: Jeffrey Denning

El Burro Foto: Jeffrey Denning

Italiaans,  Meksikaans, Sjinees, Frans, Grieks, Libanees… noem maar die lande op. Die wêreld is al lankal nie meer so groot soos wat mens dink nie.

Ons kan maklik onsself in 10 minute na ʼn ander land verplaas as ons sou wou deur net in die motor te klim en na die naaste “eksotiese” eetplek toe te ry.

Vir daardie kort rukkie kan jy jouself verbeel jy is in daardie land.

Kom kuier saam met my by drie van my gunsteling eksotiese eetplekke in Kaapstad.

El Burro – Meksikaans

Ons eet dikwels by hierdie gewilde eetplekkie in Groenpunt. Nie net is ek dol oor die interessante interieur nie, die kos is uit die boonste rakke. Daar is ook elke moontlike Tequila om van te kies en die atmosfeer is ongelooflik. Die plek is omtrent elke aand tjokkeblok vol bespreek.

Die personeel is ook goed opgelei en vriendelik.

Gevulde rissies, enchiladas, nachos, noem maar op, jy sal dit hier kry en die smake is onverbeterlik.

Ons gunsteling is “bou jou eie tacos”, waar hulle vir jou al die bestanddele bring wat jy nodig het om ʼn taco mee te maak en jy kan die kok van jou eie gereg wees!

Tequila-proesessies vir groepe kan vooraf bespreek word indien jy dit nog meer interessant wil maak.

Ons gunstelingnagereg is verseker die sjokolade-fondant wat ons met groot oortuiging kan sê is dié lekkerste een wat jy ooit sal kry… ons moes al baie proe net om seker te maak.

Verlede jaar het hulle uitgebrei  met ʼn toevoeging van ʼn baie gesellige kroeg, Cabrito, wat uitloop op die straat waar mense tot laataand kuier.

Tel.:  021 433 2364
Besoek hulle webwerf

Il Cappero – Italiaans

Daar is Italiaans en dan is daar Italiááns! Hierdie weggesteekte plekkie in Kampsbaai is een van laasgenoemde.

Daar is verseker nie ʼn lekkerder Italiaanse restaurant êrens in Kaapstad, selfs die land, nie.

Tipies Italiaans word daar nie vreeslik baie tyd gespandeer op die interieur nie, want jy kom mos nie vir binnehuiseversierings nie, jy kom vir die kos. En glo my, jy gaan weer daarvoor terugkom.

Die eienaars is oorspronklik van Sicilië. En tipies Italiaans hou hulle dit alles in die familie. Die kok is die eienaar se vrou en hulle broerskind is die bestuurder.

Alles saam plus die informele atmosfeer is ʼn groot trekpleister, maar die spyskaart is die eintlike rede hoekom ons gereeld hier kom eet. Die smaak van tuisgemaakte pasta oortuig my elke keer ek moes tog ʼn Italianer in my vorige lewe gewees het. En beter tuisgemaakte pasta kan jy nêrens kry nie.

Meng dit nou met die uitsonderlike smake van die souse wat bedien word en daar is vuurwerke in jou mond!

My aanbevelings is verseker vir voorgereg die mosselsop en vir hoofgereg die Linguine con Gamberi e pesto di Mandorle of Spaghetti il Cappero. Moet egter nie die risotto vergeet nie.

My gunstelingnagereg is sonder twyfel biancomangiare. Dit het ʼn pikante jasmynsmaak en word op ʼn klein teёltjie, bestrooi met eetbare potpourri, bedien. Geen beter manier om jou aand mee af te sluit nie.

Hulle het nie ʼn propfooi nie en jy kan gerus jou eie wyn saamvat.

Tel.: 021 438 7074
Besoek hulle webwerf

Maria’s – Grieks

Geleё in ʼn stil hoekie van Dunkley-plein is hierdie plek ʼn goeie voorbeeld van klein botteltjie, groot gif.

Die kos is uniek Grieks en jy kan kies en keur van die gewilde meze-geregte. Dit sluit in pitabrood met tzatziki, dolmathes en spanakopita.

As jy lus is om ʼn paar te proe kan mens ʼn bord met ʼn verskeidenheid daarop bestel.

Vir hoofgereg is my gunsteling die baie tradisionele Yiouvetsi-lam of die bekende moussaka.

Nageregte sluit die bekende baklava in, maar as dit vir jou te soet is probeer my gunsteling, die effens vreemde maar heerlike rizogalo, ʼn soort reispoeding met kaneel.

Geen borde word in dié Griekse restaurant gebreek nie want mens wil eerder vra vir ʼn tweede skeppie.

Tel.: 021 461 3333

Vertel ons gerus van jóú gunsteling- “fôrrin” restaurant.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Michiel Hendrik Brand ·

Ai tog ons afikaners se Afrikaans. ” Fôrrin ” Ek hoop ek sien hieronder in die kommentaar blok ‘n mooi afrikaanse woord want ek weet daar is.Moet ons ons taal so vermeng ?

Magaretha van Heerden ·

Ons woon al 14 jaar in England en nou erken ons soms nie ons eie taal nie. Die e pos taal is nog die ergste Ek weet nie hoe die kinders gaan leer spel soos dit nou gaan nie.

Rivkah ·

Jul mis die punt!! Daar was n uitstekende TV advertensie van n dom blondine wie se kêrel haar met sy kontinentale aanslag wou beïndruk en noem sjokolade name op by gebrek aan ‘vreemde’ woorde. Sy loer skalks na hom en sê met n tuitbekkie:’ Oe! I luvvit when you speak so FORRIN’!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.